Menu terloops
In Sepies [6 Aug 2023]

Sepievoorskou: Van kalwerliefde tot derdemannetjie speel in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’ en ‘Arendsvlei’


Meer as een karakter veg vir liefde in sepieland – maar nie almal gaan wen nie… Waarna kan jy hierdie week (7 tot 11 Augustus 2023) op ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’ en ‘Arendsvlei’ uitsien?

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Van kalwerliefde tot derdemannetjie speel in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’ en ‘Arendsvlei’

Diepe Waters 

Daar is baie geheime uit Arno (Jean Henry) se verlede wat hy nog nie met Karla (Daniélle Swanepoel) wil deel nie. Dít – en ’n nuwe gesig – ruk die paartjie vinnig uit hul honeymoon bubble uit. Karla en Arno leer beslis hierdie week dat die liefde nie net maanskyn en rose is nie. 

Maar hulle is nie die enigste paartjie wat sukkel nie. Nina (Reze-Tiana Wessels) is nou meer as ooit gefokus op haar toekoms. Dit dryf ’n ysberg, groter as die een wat die Titanic getref het, tussen haar en Tshepo (Johnny Potsanyane). Hy is nie die enigste een wat ’n verandering in Nina raaksien nie. Haar ouers is ook bekommerd, maar vir nou kan Rose (Eloise Cupido) nie op haar dogter fokus nie, want sy het groot probleme by die werk. 

Lettie (Stephanie Baartman) het ook haar hande vol met die manne in haar lewe – een uit haar verlede en die man wat tans haar hart het. Nadat Tsepho vir Henry (Stiaan Bruwer) vertel van Kurt wat by Lettie aanklop, is hy die duiwel in. Hy besluit hy gaan nie toelaat dat ’n spiertier soos Kurt in sy slaai krap nie. Henry en Kurt besluit op ’n ultimatum wat Lettie se bloed effens laat kook. Sy is mos nie ’n koek by ’n kerkbasaar nie! 

Jacques (Werner Coetser) moet vinnig op sy voete dink, want sussie Pam (Tracey-Lee Olivier) ontdek iets wat sy groot geheim en planne in die wiele kan ry. En Charity (Dané de Waal) mag dalk ’n top-atleet wees, maar kykers kry hierdie week meer clarity oor wie en wat Charity regtig is. 

Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.

Suidooster 

Noudat hurricane Orpa (Marisa Drummond) uiteindelik deur Ruiterbosch gewaai het, moet die gemeenskap die stukke optel en herbou. Siya (Gantane Kusch) gaan op die harde manier moet leer wat die gesegde ‘meng jou met semels, dan vreet die varke jou op’ beteken. Die gemeenskap wil niks te doen hê met die kerk nie. Hulle is nou ewe gekant teen Siya as wat hulle teen Orpa was. 

Mrs J (Theresa Sedras) is diep bekommerd oor die toekoms van haar geliefde kerk en ontdek iets wat dalk die antwoord tot haar gebede is. 

Die jong manne van Ruiterbosch is nie meer kinders nie en is besig om hul eerste liefdes te ontdek. Ongelukkig vir Danni (Vashti Prins) en Lee-Ann (Portia Joel) is hul seuns op dieselfde meisie verlief. Dit kan net sleg eindig. Min vriendskappe sal daardie eerste liefdekoors kan oorleef as julle vir dieselfde meisie se hart moet baklei. Maar ek weet nie wie se vriendskap eintlik meer in gevaar is nie – die ouers of die seuns? 

Dit is Vrouemaand en Ruiterbosch gaan moet uithaal en wys vir ’n spoggeleentheid om die Kaapstad Vrou van die Jaar te bekroon. Angie (Char Carrie) is oortuig dat haar naam op daardie trofee moet wees. Sy sal maar moet wag en sien of iemand haar gaan benoem… 

Kyk Suidooster op DStv Online.

Arendsvlei 

En daar backfire Rachel (Kim Syster) se plan en exile Desmond (Alistair Izobell) haar uit Arendsvlei uit. Of dalk is dit presies wat sy wou hê? Maar met die dat sy so ver is, wie gaan nou vir Adam (Clint Aplon) uit Desmond se kloue red? 

Bompie (Jarrid Geduld) dink hy is die goue seun, maar Adam sit hom vinnig in sy plek. Adam se hande mag dalk skoon wees, maar hy gaan nie toelaat dat ’n skurk soos Bompie vir hom laat klein voel nie. 

Noudat Langes (Bobby Stuurman) sy nuwe geloof amptelik aangeneem het en Whalied geword het, het hy gedink niks kan meer tussen hom en Ayesha (Megan Saayman) kom nie. Maar arme Whalied word hierdie week onkant gevang en sit heeltemal die pot mis op een van die belangrikste aande van sy lewe. 

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies