Menu terloops
In Sepies [26 Jan 2025]

Sepievoorskou: Skokonthullings in ‘Suidooster’, ‘Skemergrond’


Een word verraai, een kry ’n ultimatum en een word die ja-woord gevra. Dit is ’n opwindende tyd in sepieland! Lees ons sepievoorskou vir meer oor die kinkels wat kom.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Skokonthullings in ‘Suidooster’, ‘Skemergrond’

Hier is waarna jy hierdie week (27 tot 31 Januarie) op die sepies Suidooster, Skemergrond en Binnelanders kan uitsien. 

Skemergrond 

Wat gaan ons met Louis (William Adams) doen? Ek weet die ou kry seer en is heeltemal deurmekaar danksy die waarheid rondom sy oupa, maar ek sal nooit dat die spook van iemand my lewe so omdompel nie. Ek kon Louis deur die TV klap toe hy hierdie week sy grootste fout ooit maak. Dit gaan baie lewens verwoes, hy weet dit net nog nie. Hoe kon hy so dom en onverantwoordelik wees! Erica (Shimmy Isaacs) dink ’n hangover is haar en Louis se grootste probleem, maar wag tot sy uitvind wat hy eintlik aangevang het. 

My hart was net so seer soos Gloria (Hunter Plaatjies) se bestie toe sy die “goeie nuus” hoor… En dan praat ek nie eens van die skokonthulling nie. Gloria was stomgeslaan en haar gesigsuitdrukking het boekdele gespreek. Ek is net bly dat sy nou weet waarmee sy te doen het. Kevin (Gershwin Mias) beter net sy woede inhou. 

Junior (Ayden October) het hierdie week meer as een deurbraak en dit is inspirerend om te sien. Dit laat my sommer aan my sussie se dogter dink, wat ook in ’n rolstoel is, en hoe sy daai dansklas sou geniet. Ja-nee, Junior laat die trane maar vlak sit hierdie week. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Louis (Germandt Geldenhuys) weet net hoe om mense die bliksem in te maak. Dat hy ’n groot hart het is ’n feit, maar of hy ’n brein het… is iets waaroor ek soms wonder. Louis reageer altyd op emosie en dink nie altyd dinge deur nie en dit is presies hoekom dinge hierdie week uitspeel soos wat dit uitspeel. 

Intussen is Gaby (Maude Sandham) tipiese Gaby en het sy alles weer deurmekaar kom maak. Tracy (Melinda Viljoen) weet reeds nie meer watter kant toe nie en nou smokkel Gaby weer met Rian (Erik Holm) se kop. Sy kan maar regtig ophou en weer landuit. Love her, but sis you’re too much! 

Joe (Roberto Kyle) het ’n blink idee en dit bring ’n goeie einde aan ’n groot nagmerrie vir sy Binneland-familie. Dinge was te intens hierdie week, ek kan nie meer sulke angs hanteer nie. Gelukkig beteken dit dat die skrywers goeie werk doen. 

Ella (Marlee van der Merwe) moet besluit of sy die regte man op papier gaan kies of die man wat haar hart vinniger laat klop. Albei is goeie keuses, maar gaan sy veilig speel of ’n kans waag? Ek hoop sy vat ’n kans! Die lewe is te kort.  

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Suidooster 

Die mat word onder Riaan (Daniel Coetzee) se voete uitgeruk en vir die eerste keer kan ek nie vir hom jammer voel nie. Hy het mos meer as een geleentheid gehad om die regte keuse te maak en nou moet hy maar met die gevolge lewe. Oor Hanli (Celeste Loots) gaan ek niks meer sê nie, maar tog wil ek vir die mans vra, is sy dan regtig so ’n catch

Die raaisel rondom Damian (Caleb Felix) se dood neem ’n onverwagse draai hierdie week. Dit het nogal glad nie uitgewerk soos wat ek verwag het nie en ek weet nie hoe ek daaroor voel nie. Ten minste was dit nie voorspelbaar nie! En maak nie saak hoe donker dinge op die oomblik in die Daniels-huis lyk nie, kan hulle bly wees dat hulle nie die Samsodiens is nie. Iemand sal vir Kaashifa (Jawaahier Petersen) by ’n dokter moet kry, want glo my as ek sê dinge gaan nie goed by die huis nie. Voor ons ons oë uitvee is arme klein Doela, Ruiterbosch se eie Gypsy-Rose Blanchard. Rhafiek (Irshaad Ally) beter wakker skrik!  

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies