Menu terloops
In Sepies [27 Feb 2023]

Sepies: ’n Week van trane stort


‘Binnelanders’, ‘Arendsvlei’ en ‘Diepe Waters’: Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: ’n Week van trane stort

Elke nou en dan verras ons sepie-karakters vir my en trek hulle ekstra hard aan my hartsnare. Verlede week was só ’n week. ’n Week van trane stort en verlore raak in die mooi oomblikke van die lewe met versoening en teleurstelling die grootste temas in ons sepies.

Dit kon enige kant toe met van die paartjies, en ons is herinner dat elke donker wolk ’n silwer randjie het. Al verdwyn daai randjie soms binne enkele dae in sepieland. Wie sou nou kon raai dat At (Hans Strydom) en Conrad (Hykie Berg) – en selfs Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Rhafiek (Irshaad Ally) – uiteindelik die strydbyl sou begrawe? Ek het gehoop, ja, maar ’n mens kan nooit seker wees nie.

Dan praat ek nie eens van Zoë (Lauren Joseph) se groot besluit of Ayesha (Meghan Saayman) se tragedie nie. Ek het nooit gedink dat ek vir Nazeem sou sien huil nie. Om eerlik te wees… Ek het nie eens geweet Nazeem kan huil nie. En ek weet ander kykers het dieselfde gedink! Sjoe, as iemand wie se hart van klip gemaak is skielik begin huil, dan weet jy. My boks tissues en ’n gin en tonic was byderhand om verlede week se emosionele wipwa te oorleef.

Sepies op ons radar dié week is Arendsvlei, Diepe Waters en Binnelanders.

Diepe Waters

Johan (Liam Bosman) is regtig iets anders. Ek weet nie wat ek met die kind sou doen nie. Sanet (Nadia Valvekens) skaam haar dood, terwyl Johan se aksies haar na drank dryf. Elke keer as ek vir ’n sekonde daaraan dink om sleg te voel onthou ek iets wat sy van Tsepho (Johnny Potsanyane) of iemand anders se kind gesê het en dan dink ek net: KARMA. Die Here praat hard met haar en haar gesin, maar hulle wil nie luister nie. Ten minste weet ons nou wat Anja (Reandi Grey) se groot geheim is. Rossouw (Altus Theart) se geduld met sy pa raak min en ek wag in spanning vir die oomblik as die pawpaw regtig die fan slaan. Dit gaan epies wees. Gys (Justin Strydom) gaan nie weet wat hom getref het nie. Sanet dink Johan is haar grootste probleem, maar sy weet maar net nie wat op haar wag nie.

Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.

Binnelanders

Ek weet nie wie se oë groter was toe At uiteindelik sy verskyning gemaak het nie. Conrad en Soekie (Antoinette Kellermann) of Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar)? Ek dink uit almal was Conrad die meeste verlig. Vir die res het At se opstanding ’n groot finansiële impak. Ek sou vir At vir pyn, lyding en trauma dagvaar. Dié man doen regtig net wat hy wil en ander moet net daarby inval. Ten minste kry hy en Conrad weer ’n kans om te versoen. En dié keer het Conrad met sy gat in die botter geval, want sy pa sal nie twee keer dieselfde fout maak nie. Conrad kan maar nou vir hom gereed maak dat hy lekker by sy pa gaan erf. Shame, ek het vinnig na die tissues gegryp toe At vir Conrad ’n drukkie gee. Mense soos At sê nie maklik jammer nie, so dit was verfrissend en aangrypend om te sien. Kom ons hoop dit hou langer as ’n week.

Kyk Binnelanders op DStv Online

Arendsvlei

Emile (Christian Bennet) wil mos altyd hardegat wees en nou is dit Ayesha wat moet betaal. As Emile net vyf minute gewag het sou Ayesha en die baba perfek gewees het. Ayesha was dan nou al vir maande swanger en daar was nog geen teken van ’n boep nie. Ek het elke week daaraan gedink en gewonder wanneer dié vrou gaan begin swanger lyk. Dit moes ’n rooi vlag gewees het, maar ek het regtig vir Janice (Crystal-Donna Roberts) en Lionel (Jody Abrahams) se part gehoop dat dit ’n gesonde swangerskap sal wees. Hulle is dan so opgewonde, maar soms is dinge maar net nie vir jou beskore nie. Dit terwyl Yvette (Charlene le Roux) net moet keer. Dit is moeilik om met jong bloed by te hou. Dinge tussen haar en JP (Anzio September) raak vinnig ernstig. As sy nie keer nie, het sy volgende week ’n ring op haar vinger. Ek vertrou glad nie vir JP nie… Wat of wie steek JP weg?

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies