Menu terloops
In Lysie-lysie [9 Nov 2025]

Shêm. ‘Diepe Waters’ se Sanet se slegte geluk ken geen perke nie


Of dit nou probleme met die bottel of die liefde is – as iets in Sanet (Nadia Valvekens) se lewe kan verkeerd gaan, sal dit. Daarop kan jy maar geld wed. Ons kyk terug na dié ‘Diepe Waters’-karakter se grootste terugslae… sover.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom 'Diepe Waters'

Shêm. ‘Diepe Waters’ se Sanet se slegte geluk ken geen perke nie

Elke karakter gaan deur laagtepunte en hoogtepunte, maar dit lyk al meer asof Sanet, vertolk deur Nadia Valvekens, se lewe eintlik maar net een groot en uitgerekte laagtepunt is. Die uiters gewilde kykNET telenovela Diepe Waters is nou in sy vierde seisoen, en in die middel van die drama, soos gewoonlik, is niemand anders as Sanet nie. 

Aan die begin van die reeks het Sanet as ’n bietjie van ’n b%tch met hoofdogter-energie oorgekom; iemand wat altyd in mense se sake wil inmeng en net die beste wil wees. Maar, sjoe, hoe verkeerd was daardie aanname nie! 

‘Ongeskilde ui’

Dis natuurlik ook danksy Nadia se briljante vertolking dat ’n mens nie kan wegkyk as Sanet in ’n toneel verskyn nie. Nadia beskryf dag een se Sanet as ’n sywurm, want sy glo dat haar karakter in daardie stadium nog net ’n wurm in die habitat was.

“Nou is sy ’n sywurm wat ’n papie geword het; wat stadig maar seker groei om ’n skoenlapper te wees. Maar sy werk nog aan al die kolletjies op haar vlerke om te kan blink,” vertel Nadia van haar karakter. 

“Soms beskryf ek haar ook as ’n ongeskilde ui, wat baie lae omtrent haar het wat nog nie ontdek is nie. Soos wat die tyd aangestap het, het haar skille begin afkom en het sy nou eintlik ’n saad geword wat nuwe vrugte kan lewer. Ek dink sy leer nou. Sy is uiteindelik besig om ’n mens te word met beter begrip oor wie sy is en nie net ’n konsep van wie sy dink sy moet wees nie.” 

Sanet – soos ons almal maar – wil net geliefd wees

Nadia het van die begin af geweet Sanet gaan ’n komplekse karakter met baie uitdagings wees. 

“Dat ek gedink het sy deur só baie sou gaan… Nie vir een oomblik nie! Ek dink enige normale mens sou al lankal in ’n gestig beland het, maar miraculously het sy ’n baie sterk familie en support wat haar help om haar kop bo water te hou,”  vertel sy.

“Een ding wat Sanet my geleer het, is dat ons almal aan die einde van die dag uitdagings in die lewe het, en ons almal wil maar net behoort, ons wil geliefd wees. Ons almal het struikelblokke waardeur ons moet werk om te groei.” 

Ons kyk terug na sewe keer wat die heelal werklik vir Sanet die middelvinger gewys het (en ons is seker dit gaan weer gebeur…)

1

Sanet se man raak (weer) op haar sussie verlief

Sanet se drama het begin toe haar ma sterf en haar verlore sussie, Anja (Reandi Grey), haar verskyning in Boskruin gemaak het. Want – plot twist – Anja was mos Sanet se man se eerste liefde. Sonder om dit in soveel woorde te sê, het hy eintlik net met Sanet getrou toe hy nie met Anja kon wees nie. #nextlevelrebound 

Maar met Anja terug in die prentjie, skei haar man haar, en nou is hulle verloof. 

2

Sanet en die bottel is een… 

Wie kan dan nou vergeet toe Sanet koffie vir vodka verruil het en heeltemal die plot verloor het. Soveel so dat sy nie eens bewus was toe een van haar kinders in die hospitaal beland het nie. Dit was ’n groot skande dat ’n “gesiene kerkvrou” in die AA beland het, maar dit is ook waar sy haar groot liefde ontmoet het. 

3

Engelkinders word problematies

Sanet se trotste en grootste prestasie was nog altyd haar kinders. Maar weens al die druk en drama in hul lewens (grootliks danksy hul ouers) is Johan (Liam Bosman) en Karla (Daniélle Swanepoel) ook deur hul eie diepe waters. Karla het met bulimie gesukkel en weggehardloop met haar ouer kêrel. Dít terwyl Johan sy meisie swanger gemaak en aan dwelms verslaaf geraak het. Beide het amper hul swemloopbane beëindig.

4

Die stiefdogter uit die hel uit

Toe Sanet uiteindelik weer liefde vind, by ’n dominee met ’n sagte hart, was dit ’n omkeerpunt in haar lewe. Die enigste probleem is dat sy dogter nie die verhouding ondersteun het nie.

Mari (Diandra Slabbert) was ’n nagmerrie uit ’n Hollywood-riller wat Sanet se lewe hel op aarde gemaak het. Sy het haar selfs probeer afmaai! Maar gelukkig het ds. Ben (Eric Bouwer) toe vir Sanet gekies. 

5

Verbode liefde 

Toe die wiel draai en Sanet toe haar dominee en Mari bo haar lewe in Boskruin moes kies, kon sy net nie! Die waarheid is dat haar AA-bestie, Wim (Neels Van Jaarsveld), met wie sy skelm ’n verhouding aangeknoop het, haar groot liefde is. Wim het haar oortuig dat sy in Boskruin moet bly sodat hulle saam oud kan word. Maar oppad lughawe toe, om met sy vrou in die Kaap te gaan skei, is hy in ’n motorongeluk dood. In ’n dramatiese wending was Sanet op die foon met hom toe hy verongeluk. Toe moes sy in stilte rou, want niemand het geweet hoe lief hulle vir mekaar is nie. 

6

Die stiefdogter uit die hel uit – deel 2

Mari kon nooit vrede maak met die verhouding tussen haar pa, ds. Ben (Eric Bouwer), en Sanet nie – nie eens nadat Sanet haar verlowing met Ben verbreek het nie! Want, vind ons ná baie drama uit, Ben het sy geloof verloor ná Sanet hom gelos het en Mari het die blaam voor Sanet se deur geplaas en wou haar swaar laat boet. Soveel so dat amper daarin geslaag het om Sanet valslik te laat skuldig lyk aan die dood van ’n voetganger. Gelukkig het die waarheid in die hof na vore gekom – Mari was eintlik verantwoordelik vir dié ongeluk. Sy is skuldig bevind en moet nou haar vonnis in ‘n psigiatriese hospitaal uitdien.

7

Troue-drama!

Ná Wim se dood – en haar amperse draai in die tronk – het Sanet (en ons) gedink sy het uiteindelik ’n veilige hawe in Fourie (David Louw) gevind. Die twee se liefdesreis was nie sonder onstuimigheid nie – veral nie toe Bianca Bester (Natasja Jacobs) het haar onverwagse verskyning as Fourie se eksvrou gemaak het nie. 

Toe raak Sanet en Fourie verloof en ons het gedink Diepe Waters se derde seisoen sou soos ’n sprokie met ’n dubbeltroue eindig toe ’n onverwagse onthulling alles omvergooi. Net toe Fourie “ja” wou sê, storm ’n onbekende vrou die kerk binne. Die vrou – vertolk deur Anel Alexander – het almal stomgeslaan toe sy verklaar dat Fourie nie met Sanet kan trou nie… omdat hy reeds met haar getroud is! Sanet was so hartgebroke toe Fourie die verhouding beëindig en landuit is, dat sy selfs met haar verslawingstryd koers verloor het.

Dit het vir ’n ruk gelyk asof Sanet se lewe dreig om heeltemal te ontspoor, maar ná harde woorde van haar geliefdes lyk dit asof daar nou lig aan die einde van dié slegte geluk-tonnel vir Sanet is. Hou maar duime vas, want mens weet nooit met dié vrou nie!


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies