Menu terloops
In Onderhoude [7 Mei 2025]

Rolanda Marais oor hoe ‘Die nuusmakers’ haar siening van joernaliste verander het: ‘Absolute waardering vir hul werk’


Deur haar vertolking van die gesoute nuusleser Adri Joubert in die Afrikaanse dramareeks ‘Die nuusmakers’, is ’n waardering en bewondering van joernaliste in die loopgrawe van die alledaags by haar gekweek, vertel die bekroonde aktrise Rolanda Marais. 

Deur Rozanne Els
Rolanda Marais oor hoe ‘Die nuusmakers’ haar siening van joernaliste verander het: ‘Absolute waardering vir hul werk’
Kyk lokprent

Empatie, waardering en ’n besef dat joernaliste, soos toneelspelers, dikwels maskers van onpartydigheid moet dra, is maar enkele lesse wat die aktrise Rolanda Marais op die stel van Die nuusmakers geleer het.

Diepe opregtheid, meen Rolanda, is immers wat dié dramareeks, met sy lywige rolverdeling en benydenswaardige skryf- en regiespan, van ander TV-dramas onderskei. “Ek voel dat hierdie storie geweldig baie integriteit het. Dit is gegrond op werklike bekommernisse en kwessies wat in die land heers. As sulks is daar ook ’n mate van bewusmaking oor al die goed wat die kyker nie noodwendig altyd sien of aan blootgestel word nie. Maar hier maak ons dit verteerbaar,” verduidelik Rolanda dan. 

ROLANDA MARAIS, DIE NUUSMAKERS
Rolanda Marais vertolk die hoofkarakter in die nuwe kykNET-dramareeks, Die nuusmakers. Sy is veral bekend vir haar rolle in Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu, Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer. Foto: Verskaf

Die spil van Die nuusmakers draai hoofsaaklik om Rolanda se karakter, die nuusleser Adri Joubert. Adri is al vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die aandnuus. En eintlik het Adri te gemaklik in haar rol en posisie geraak, meen Rolanda. “Sy kon haar werk met toe oë doen.” 

Maar dan gebeur iets met Adri se man, en sy beleef inderwaarheid hoe haar eie lewe nuus word soos ’n nasionale krisis terselfdertyd ook die land ruk. Haar karakter word só amper gedwing om haar persoonlike trauma opsy te skuif om kykers deur die noodtoestand van voor die kameras te lei. 

Die maskers wat ons dra

Terwyl haar karakter op ’n reis van selfontdekking is en sy genoop word om die skille van haar oë af te ruk, het dié rol vir haar ook opnuut aan die knope in ons menslikheid herinner, sê Rolanda. “Toe ek jonger was, het ek altyd so na nuuslesers gekyk en gewonder hoe hulle dan nie deur die stories waaroor hulle verslag doen, geaffekteer word nie. Ek het nie toe besef dat dít is hoe hulle móét wees (voor die kamera) nie.

Rolanda Marais oor hoe 'Die nuusmakers'
Buiten Rolanda tel onder andere Arno Greeff, Lea Vivier en Brendan Daniels ook in die rolverdeling. Foto: Verskaf

(Joernalistiek) is soos acting. Jy’s gebore om dit te doen. Jy moet dit doen anders is jy nie gelukkig met jouself nie. En baie selde word jy betaal wat jy verdien. Jy moet ’n absolute passie daarvoor hê.

Rolanda Marais

“Met hierdie rol het ek net besef hoe groot die verskil is tussen die nuusleser-persona en die gewone mens by die huis wat uitmekaar kan val. En hoe jy as joernalis, as nuusleser, nie mag wys hoe dinge jou affekteer nie. Jy moet bloot voortbulder en ter alle tye hierdie baken van stabiliteit wees midde enige en alle krisisse. As akteur het ek reeds ’n goeie begrip van daardie dualiteit, juis omdat ek ook ’n ander persona vir elke rol aanneem. Maar as Adri het ek besef hoe drasties die verskil is.”

Rolanda, wat met die regisseur en skrywer Jozua Malherbe getroud en ma van twee kinders is, voeg dan by: “Ek het netnou vir iemand gesê dat dit nogal erg is om by die werk te wees die hele dag en dan gaan jy huis toe en daar’s twee kinders wat vloermoere gooi en jy het geen keuse as om net daar teenwoordig te wees nie. Jy het hoegenaamd nie tyd om asem te haal nie.” 

Sy het al meer aan die trauma wat joernaliste deurgaan, en hoe dít na hul alledaagse lewe deursyfer, begin dink, vertel sy. “Dit gee vir my ’n absolute waardering vir die werk wat hulle doen; dit is nie ’n maklike werk nie. Jy is in die loopgrawe. Jy gaan waar niemand anders wil gaan nie om die storie te kry. En dan word hulle boonop ook dikwels verbaal aangerand. ’n Joernalis is altyd soort van in die dogbox. You’re damned if you do and damned if you don’t. Dis ’n baie taai beroep.”

Dis daarom dat sy dink joernalistiek is, soos toneelspel, ’n roeping eerder as ’n beroepskeuse, sê sy dan. “Dis soos acting. Jy’s gebore om dit te doen. Jy moet dit doen anders is jy nie gelukkig met jouself nie. En baie selde word jy betaal wat jy verdien. Jy moet ’n absolute passie daarvoor hê.”

‘Soos teater’

Die rolverdeling, onder wie Brendan Daniels, Lea Vivier, Roeline Daneel en Arno Greeff ook tel, het ter voorbereiding vir Die nuusmakers ook regstreekse eNCA-nuusuitsendings bygewoon om eerstehands te sien hoe die verpakking en uitsaai van ’n nuusbulletin werk.

Rolanda Marais oor hoe 'Die nuusmakers'
Rolanda Marais, wat in byna elke toneel verskyn en 61 uit 63 skietdae op stel was, meen die reeks gaan ook vir kykers ’n blik gee op hoe dinge agter die skerms van die nuus gebeur. Foto: Verskaf

“Ek het spesifiek gekyk na hoe die aanbieders werk, en wat vir my baie interessant was, is hoe hulle tot op die laaste sekonde met mekaar grappies maak en ’n oomblik daarna is hulle regstreeks op die lug. Dis fassinerend,” sê Rolanda.

Weer kan sy ’n vergelyking met haar eie beroep trek: “Dis ’n bietjie soos wanneer ons act. Tussen tonele praat jy nonsens totdat hulle sê, ‘Aksie!’ en dan gaan jy weer. Daar’s iets baie lekkers daar aan. Nuuslees vergelyk ek nogal baie met teater, want daar’s ’n adrenaline rush van jy het net hierdie een kans om dit reg te kry, en daarmee kan ek nogal vereenselwig. Jy moet só vinnig dink, jy word op jou tone gehou.” 

Agter die skerms-blik

Rolanda, wat in byna elke toneel verskyn en 61 uit 63 skietdae op stel was, meen die reeks gaan ook vir kykers ’n blik gee op hoe dinge agter die skerms van die nuus gebeur. Dit bring nie net die aard van nuusverlaggewing onder die loep nie, maar werp ook lig op die mense agter die skerms, hul ambisies, die konflikte waarin hulle gewikkel is, en die alledaagse uitdagings en oorwinnings wat hulle ervaar.

Nog akteurs wat deel van die stewige rolverdeling te sien is, sluit in Lesley Maasdorp, Hannah Borthwick, Chris van Rensburg, Chris van Niekerk, Heinrich Wentzel, Susanne Beyers, Dorette Potgieter en Melissa de Vries. Dan maak spelers soos Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg, Loren Loubser, Nahum Hughes, Martelize Kolver, Ira Blackenberg en Kristen Raath ook hul verskyning.  

Die nuusmakers word vervaardig deur Both Worlds (Recipes for Love & Murder), onder leiding van Karen Jeynes, Thierry Cassuto, en Annemarie Du Plessis (Koek). Jeynes skryf en regisseer ook en is saam met Marvin-Lee Beukes agter die kamera. Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter dra met hul skryfwerk by.


Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies