Reënboogrant is geïnspireer deur Louise van Niekerk se topverkoperboeke vir jong volwassenes wat in die negentigerjare gepubliseer is. Dié telenovela speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder en die skool se hoofseun.
Daar is elke Woensdag twee nuwe episodes op Showmax beskikbaar. Hier is wat jy vandeesmaand op dié telenovela kan verwag.
Woensdag, 7 Mei 2025
Te laat vir trane…
Chris misbruik die meisies en Monique het genoeg gehad. Sunette kry ontstellende nuus by Pierre. Lizane se liedjie word voorgelê vir die reeks en Juffrou Wasserman tree in met die radiostasie-planne.
Anderkant die reënboog
Opgewondeheid heers oor die première van Anderkant die Reënboog. Shani worstel met haar gevoelens vir Chris. Rachelle woeker voort met haar slinkse planne om Shani te verneder.
Woensdag, 14 Mei 2025
Waar daar ’n rokie is…
Monique se situasie skok die gemeenskap. Dít noop Sunette om ’n sessie met Herman vir hul vriende te reël. Shani kry ongewensde aandag op stel en Rachelle se jaloesie lei na wraak.
Op die lug…
Shani se lewe raak moeilik nadat die video wat Rachelle gemaak het aanlyn verskyn. Marius klop by Herman vir hulp aan.
Woensdag, 21 Mei 2025
Harde neut om te kraak
Shani en Sunette vind meer uit oor Monique en Chris se verlede. Bongi begin met die podcast studio. Meneer Bothma verander die matriekafskeidreëls, tot Bongi se teleurstelling. Rachelle kry onverwagse besoekers.
Potte sonder deksels
Soos Reënboogrant vir die matriekafskeid regmaak, bevind Monique haarself in twee geskeur tussen Dolf en Pierre. Maryna konfronteer vir Faan en Dolf vind uiteindelik ’n metgesel vir die matriekafskeid.

Woensdag, 28 Mei 2025
Geraamtes in die kas
Ouma Mart verloor Dolf se Volla, terwyl Bongi inligting oor Bothma se seun gebruik om sy bas te red. Shani en Ans se toetslopie met grimering loop skeef en Rachelle oortuig Japie om sy streke te los.
Forty Days
Die matrieks maak die meeste van hul “40 days”. Lizane veroorsaak drama tydens ’n kuier en Monique besef sy is op die verkeerde plek.
Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag tot en met 11 Junie 2025 op Showmax beskikbaar gestel. Rëenboogrant word ook op Vrydae op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week.