Menu terloops
In Onderhoude [18 Jun 2024]

Portia Joel vertel oor Lee-Ann se ‘uitmergelende’ storielyn in ‘Suidooster’


Die aktrise Portia Joel gesels oor die dramatiese ‘Suidooster’-storielyn, waarin haar karakter, Lee-Ann, weens die trauma van haar man se dood, onherkenbaar vir kykers begin raak het.

Stroom 'Suidooster'

Portia Joel vertel oor Lee-Ann se ‘uitmergelende’ storielyn in ‘Suidooster’

Suidooster-aanhangers moes die afgelope tyd toekyk hoe die eens hegte Daniels-gesin begin verbrokkel met die nuus dat Ty (Maurice Paige) aan sy breingewas beswyk het. Ty het mos ná sy prognose besluit om te verdwyn sodat sy geliefdes nie sy agteruitgang eerstehands hoef te ervaar nie. 

Maar nou, ná Ty se begrafnis, moet die Daniels-gesin die skerwe van hul lewens begin optel. Dit lyk egter al meer of die wonde net té diep is om te genees. Carlo (Jadon Booysen), Ty se seun, het begin rebelleer, en dít het tot nuwe spanning gelei, want Ty se weduwee, Lee-Ann (Portia Joel), en sy broer, Wade (Dean Smith), stem nie saam oor hoe om dié situasie te hanteer nie. 

Dinge rafel egter nou vinnig uit soos Carlo se gedrag vererger en Lee-Ann wat breekpunt bereik.

Portia Joel, Suidooster
Lee-Ann (Portia Joel) en Wade (Dean Smith) kry heeltyd stry oor hoe hulle Carlo (Jadon Booysen) se gedrag moet hanteer. Foto: Verskaf

Jou karakter is die afgelope ruk deur ’n erge trauma as gevolg van Ty se siekte en sy uiteindelike dood. Dit kan sekerlik nie maklik wees om sulke swaar en emosionele tonele te speel nie – hoe het jy dit aangepak?

“Dit was absoluut emosioneel, geestelik en fisiek uitmergelend. Jy kry nie daardie emosies afgeskud totdat die storielyn ten einde gekom het nie. Dit affekteer ook jou verhouding met jou familie en vriende.

“Ek het nog nooit iemand na aan my verloor nie en ek moes werklik sélf in Lee-Ann se skoene klim en my indink waardeur sy moes gaan. Ek moes daardie emosies toelaat om plek binne-in my te vind voordat ek dit kon uitleef (in die toneelspel).”

Hoe het jy daardie uitmergelende tol wat die storielyn geëis het, hanteer? 

“Ek het beplan om my kuns op my debriefing dae te doen, maar ek kon letterlik niks gedoen kry nie. Ek het in die bed gelê en huil, ek het op die rusbank gelê en huil. Ek kon nie verstaan waardeur ek as Portia gegaan het nie. Ek was emosioneel gedreineer. Geestelik was ek in ’n donker en depressiewe plek.

“Ek het raad by Denise Newman (wat die rol van Bridgette vertolk) gaan vra en sy was dit eens dat ek die emosies moet laat uitkom. Huil wanneer ek moet, laat dit gebeur, mediteer, bid. Gaan deur die emosies, begrawe dit en beweeg aan. 

“Dis byna twee maande later en dit het tyd geneem om weer myself te vind. Ek vermoed dit was omdat die storielyn oor so ’n lang tydperk verloop het. Jy skakel nooit af totdat die storielyn heeltemal afgehandel is nie.” 

Jadon is nog ’n jong akteur, maar moes seker vinnig leer om dié storielyn gestand te kon doen. Was jy verras deur wat hy vermag het?

“Ek is werklik trots op Jadon. Hy het reeds baie ver gekom. Hy toon respek en absorbeer soveel moontlik inligting wat hy kan om te leer. Hy luister wanneer ek praat en is altyd gretig om te leer.” 

Dis duidelik dat daar ’n goeie band tussen jou, Jadon Booysen en Dean Smith is – hoe het julle mekaar ondersteun deur die loop van hierdie storielyn? 

“Ons het deurentyd mekaar se hand vasgehou terwyl die storielyn hom afgespeel het. Ons het gehelp waar ons kan, en gegee soveel as wat ons kon om mekaar te ondersteun.” 


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies