Menu terloops
In Recaps & Resensies [27 Jun 2024]

‘Plaasjapie’ S2: Verraad tussen twee bondgenote en pekelpennies saai verwoesting!


Die poppemeester trek nog ’n paar toutjies in die elfde episode van ‘Plaasjapie’. Ná dié episode is die eindstreep in sig, met net twee episodes oor.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk Plaasjapie op DStv Stream

‘Plaasjapie’ S2: Verraad tussen twee bondgenote en pekelpennies saai verwoesting!

Blue het so byna-byna homself in die voet geskiet in die vorige episode van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Plaasjapie nadat hy fyn planne gemaak het om een van die oud-Oranjezichters uit te stem. Maar dit het in alle geval geboemerang en sy bondgenoot, Monique Hobkirk, moes die span groet. 

Sy was behoorlik omgekrap en fluister voor haar vertrek in Liovian se oor dat Blue nog ’n pekelpennie het. Gaan sy strategie hom dalk hierdie keer sink?  

Groenkloof

“Daai paar dae toe ek gekom het Groenkloof toe en gesê het Blue is open en honest en truthful, daai’s als te, als te . . . bollie. Daai’s net k*k. Seriously,” en Liovian kry lag vir haarself. “Maar hy’s besig om die game te speel.”

Sy sê sy het gedink daar’s ’n slang in die gras en Monique se pekelpennie-fluistering het dit bevestig. Terselfdertyd besef Liovian sy was dalk té uitgesproke tydens die Koöperasie-kuier, want nou weet Blue dat sy iets vermoed. Terselfdertyd is sy baie verlig dat sy nie haar eie pekelpennie die vorige aand gespeel het nie.

“Ek is bly om in die top-6 te wees, maar vir my is dit kind of a bittersweet moment, want gisteraand moes Monique huis toe gaan het en dit was nie die plan nie. So, sy’s hier weg met die wete dat ek nie my belofte nagekom het nie,” erken ’n tranerige Blue.

Puppet master, hy!’

“Wel, hy het nou al twee keer nie sy plan deurgevoer gekry nie en dit irriteer die dinges uit hom uit, want hy’s gewoond dat dit nog heeltyd gaan op Groenkloof soos hy dit wil hê. Hy dictate, dan bepaal hy wie stem vir wie,” som André die situasie op. “Puppet master, hy!”

And the Oscar goes to . . . ,” is Liovian se stuiwer in die armbeurs, waarop André reageer: “Hy kan maar die Oscar vat, for all I care”.

“Ek gaan nie dat sy [Liovian] of André of enigeen my dictate oor hoe ek my game moet speel nie. Ons mag dalk op Plaasjapie wees, maar dis ’n jungle hier buite en dis survival of the fittest and the smartest, en ek gaan definitief alles doen, en enigiets doen, om my bestaan, vorentoe gaan in die game, te verseker,” is Blue se reaksie.

Oranjezicht

We’ve got mail!” kom dit van Zanie. Daar’s lemoene, vrugte, koffie en meel, oftewel “vrek baie kos vir 10 mense,” sê sy terwyl die drietal om die mandjie vergader. En dan is daar ’n nota.

Daarin word die plaasjapies ingelig dat dit die laaste keer is waar hulle kans gebied sal word om ’n lootjie vir ’n nuwe plaasbestuurder te trek. En dan wil die programaanbieder Ewan Strydom almal daarna by die Klein Werf sien.

Met hierdie nota besef hulle wanneer hulle oor hierdie hekkie is, daar nie meer spanwerk is nie, dit gaan nou elke plaasjapie vir hom- of haarself wees. Maar hulle is vasberade om die laaste span-uitdaging te wen.

“Dis nóóit die middelste een nie,” kom dit van Zanie oor die plaasbestuurderlootjie. Maar hierdie keer is dit wel so – en sy is vir die derde agtereenvolgende dag die plaasbestuurder!

“Dis maar ’n bietjie erg want dis nou al drie keer in ’n ry,” kom dit van Anelda. En die Mag van die Mes bly in Zanie se hande.

“Sy het wel die Mag van die Mes, maar sy kan dit nie op haarself gebruik nie. So, sy moet dit óf by my gebruik óf by Michelle gebruik. Dit bring ’n bietjie gerusstelling,” sê Anelda.

“Dit voel vir my asof Zanie dink sy het dit, sy gaan dit wen. Ons is nie ’n match vir haar nie. En dit tick nie vir my nie want dit is nog nie verby nie. As sy dink ek gaan nie vir haar kom nie, is sy in vir ’n helse surprise,” belowe Michelle.

Lootjies op Groenkloof

Dis Blue wat ironies genoeg die lootjie trek. Hy was die eerste plaasbestuurder van Groenkloof en met hierdie lootjie word hy ook die laaste plaasbestuurder van Groenkloof.

Ter voorbereiding van die uitdaging by die Klein Werf, besluit die Groenklowers dis tyd vir “oorlogsverf” en onder Liovian se bekwame hande is die drietal gou met swart strepe op hul wange gereed vir wat mag voorlê.

’n Uitdaging op die Klein Werf 

Sakkies lemoene wat rondlê verklap dat hierdie weer ’n unieke uitdaging gaan wees. Die Oranjezichters sê hulle het ’n goeie nagrus geniet, maar op Groenkloof was dit ’n ander storie.

Die uitdaging hou ’n beloning en veiligheid in. Elke span gaan as ’n produksielyn funksioneer om lemoene te verwerk. Natuurlik!

Maar Ewan is nie alleen nie, hy het die hulp van ’n vrugteboer van die Prince Alfred Hamlet-distrik ingeroep en dis niemand anders nie as Boer soek ’n vrou se boer Niël, wat harte verower het. Hy het ook sy vrou, Cherise, tydens die reeks ontmoet en vandag spog die trotse ouers met twee lieflike kleingoed.

Plaasjapie
Boer soek ’n vrou se boer Niël was die gasbeoordelaar. Foto: Skermgreep

Die eerste spanlid gaan ’n klomp lemoene aandra na ’n tweede spanlid, wat hierdie lemoene sal was en in die helfte moet sny. Die halwe lemoene word dan na die derde spanlid geneem wat lemoensap moet uitdruk. 

Die eerste span wat 8 liter vars lemoensap lewer, wen die kompetisie. Ewan gaan na afloop van die kompetisie dorp toe ry en burgers en tjips vir die wenspan bring! 

Maar daar’s nog. Elke lid van die wenspan gaan die kans kry om ’n video-oproep met hul geliefdes te hê so tussen die burgers en tjips deur. Dit laat die emosies hoog loop en hier en daar word ’n traan weggevee.

Plaasjapie
Die trane het geval toe die plaasjapies hoor dat die wenspan ’n video-oproep met hul geliefdes sou kry. Foto: Skermgreep

Die verloorspan gaan by die Koöperasie-kuier nog ’n spanlid moet groet. En dit is ook die laaste keer dat daar munt geslaan kan word teen die prys van R100 000 per pekelpennie!

Die (lemoen)sap spat!

Anelda en André is die hardlopers, Michelle en Blue die wassers en snyers en Zanie en Liovian gaan die lemoene druk dat die sap so spat.

Michelle is eerste om lemoensap in die groot bottel te gooi. Kort daarna gooi Blue lemoensap in Groenkloof se bottel. Maar Zanie kry teenspoed met ’n bebloede vinger en het ’n pleister nodig. 

Vir higiëne en veiligheid versoek Ewan haar om met een van haar spanmaats om te ruil. Sy kies vir Michelle. Groenkloof kry regverdigheidshalwe dieselfde kans om om te ruil, maar hulle volstaan by hul span soos dit nou is.

Plaasjapie
Die lemoensap het gespat tydens die uitdaging. Foto: Skermgreep

Kort voor lank kry die spanne toestemming om almal te kom help sap pars. Maar Oranjezicht is onkeerbaar, seer vinger en al. Dis Zanie wat die laaste bottel sap ingooi – hul lemoensapbeker loop letterlik oor. Boonop kan hulle hul lemoensap plaas toe vat.

Ewan wil Groenkloof nie met leë hande huis toe stuur nie. Ook hulle kan hul lemoensap plaas toe neem.

Terug op Groenkloof

Liovian vra om verskoning dat sy die span in die steek gelaat het. Blue besef hy moet nou net aan homself dink. En ja, hy gaan daai pekelpennie speel – al gaan dit die plaasjapies se wenpot met R100 000 verminder.

“Julle weet klaar ek het gisteraand myne gespeel,” vertel Blue vir André en Liovian. Maar Monique het mos nie verniet sy geheim in Liovian se oor gefluister nie…

“Het jy?” wil André ewe skepties van Blue hoor. Blue bou voort op sy eie “waarheid”. Hy beweer Monique het dalk nie haar pekelpennie gespeel nie.

Oranjezicht smul en klets

Die plaasjapies gaan haal hul burgers en tjips by die Koöperasie.

Zanie is eerste aan die beurt vir haar video-oproep. Haar glimlag kan nie breër toe sy haar pragtige dogter sien nie.

“Ek is still alive, maar moet niks sê nie. Ek is nog hier,” is haar reaksie toe haar dogter wil weet hoe dit met haar gaan. Vir Zanie is dit wonderlik om te hoor haar kinders is trots op haar en dit beteken vir haar ongelooflik baie. En sy erken sy het trane gestort, maar dit was trane van vreugde.

Michelle se oproep was met haar suster, iets wat haar onmiddellik rustig laat voel het. Haar drie kinders het elkeen die vorige aand vir haar ’n prentjie geteken en die foto daarvan verskyn op die skerm.

“Ek doen dit vir hulle, en hulle weet dit,” sê Michelle. Sy sê sy hoop haar kinders leer om, soos sy, nooit moed op te gooi nie. 

“Julle is net so goed soos die een wat die beste is,” is haar boodskap aan hulle. Ook by haar sit die trane baie vlak.

Anelda se gesprek is met haar ma. Sy vertel vir haar ma dat sy die vorige dag haar tasse wou pak en dat sy nie meer deel van Plaasjapie wou wees nie. “Maar ek is nog hier en dis al wat saak maak,” verseker sy haar ma. Sy sê haar ma is haar grootste ondersteuner en sy wil haar trots maak.

Inspeksietyd op Oranjezicht

Die euforie van hul wen en gesprekke met geliefdes het gou plek gemaak vir ’n bietjie stres. Anelda sê hulle het waarskynlik net 10 minute gehad om alles reg te ruk voor Ewan se inspeksietyd.

“Ons het nog nooit so flippen hard en vinnig gewerk [nie]” vertel Anelda oor hul voorbereiding vir inspeksie.

Daar was ’n bietjie chaos . . . En die beeste se trog was leeg.

Maar Ewan en boer Niël dink die water is reg, die skape lyk gelukkig en dat dit duidelik is hier is hard gewerk. Dis netjies en skoon, laat boer Niël hoor. En een van hul varkies is beslis die gelukkigste dier op die werf.

Pekelpennies en inspeksietyd op Groenkloof

André is nie baie gelukkig dat hy nog nie daarin kon slaag om Blue se tyd op die plaas kort te knip nie. Hy vermoed wel dat Blue ’n tweede pekelpennie in sy besit het. Hy koers na Liovian en waarsku haar dat Blue gaan probeer om haar kop te swaai omdat hy dit nie met André gaan regkry nie.

Ewan en boer Niël kom by Groenkloof aan. Die krale is skoon, daar’s genoeg water. Dit lyk of hulle tevrede is met wat hulle daar sien.

Intussen is André baie verbaas om te hoor dat Liovian nog haar pekelpennie het. Hy het gedink sy het dit tydens die vorige Koöperasie-kuier gespeel. Hulle besef dit moes Blue gewees het wat munt geslaan het. En so word daar besluit om altwee hul stemme op Blue te plaas.

Sy gaan wel haar pekelpennie speel. Tussendeur maak hulle staat daarop dat Blue nie weet of André al sy pekelpennie gespeel het nie.

Agterdog kuier rond in André se kop en hy weet nie of hy Liovian meer kan vertrou nie. Het sy, of het sy nie, haar pekelpennie gespeel nie?

Hy en Blue ruil idees uit en in hierdie stadium kom André duidelik onseker voor. Maar hy erken om vir Liovian te stem is vir hom ’n baie moeilike besluit.

Ten spyte van Liovian se versekering dat Monique vir haar genoem het van Blue se ekstra pekelpennie, is André oëskynlik besig om ’n nuwe bondgenootskap met Blue te vorm. Hy noem aan Blue dat Liovian vasberade is om haar pekelpennie te speel.

Intussen voer Liovian haar eie innerlike stryd of sy haar pekelpennie moet speel of nie. Dis ’n groot bedrag wat daar ter sprake is.

Koöperasie-kuier

Ewan wil eers met die Groenklowers gesels oor die nuwe insigte wat hulle gekry het sedert hulle op die plase beland het.

Ná die stemmery keer Ewan terug met twee sout-emmertjies wat op die toonbank neergesit is. Daar is afgetap en daar is munt geslaan.

Daar is vir Blue en Liovian gestem. Die pekelpennie het iemand se doppie geklink – en dis André wat nie sy sout werd is nie omdat beide Blue en Liovian hul pekelpennies gespeel het. 

Liovian en Blue is nou deel van die top-5 – ’n prestasie wat hulle byna letterlik ’n plaas se prys gekos het. Die prysgeld is nou R515 000.

Plaasjapie
Dis André wat nie sy sout werd is nie omdat beide Blue en Liovian hul pekelpennies gespeel het. Foto: Skermgreep

André groet

“Ek is verlig en ek is trots daarin dat ek nog steeds ’n eerbare persoon kan wegstap. Mense het my gesien vir wie ek is. Ek het eerbaar gespeel. Die game – vir my was dit nie net ’n spel nie. Ek het myself kom uitdaag om te kyk hoe ver ek kan fisies gaan. 

“Die grootste les wat ek geleer het is om in voeling te kom met my emosies. Om dit nie te onderdruk nie, om dit wat ek vir my geliefdes by die huis, familie, my gesin, vrou, kinders, om dit nie te veralgemeen dat dit hulle behoort te weet ek is lief vir hulle nie, maar om die skouer aan die wiel te sit en dit vir hulle letterlik te sê.

“Die heel eerste ding wat ek vir my familie gaan sê wanneer ek by die huis kom, is dat ek is lief vir hulle en ek waardeer hulle.”

Plaasjapie
Cheers vir eers, André! Foto: Skermgreep

Volgende keer

“Die game maak jou koud en hard en sielloos,” en die emosies loop hoog, veral tussen twee van die plaasjapies. Wie gaan hul sout letterlik in gewig werd wees en wie gaan swymel voor die verleidelike geur van ’n braaivleisvuur? 


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies