Menu terloops
In Gons [18 Feb 2025]

‘Plaas van passie’: Nuwe telenovela binnekort op kassie


Ná die sukses van oorgeklankte Turkse telenovelas soos ‘Kind van die noodlot’, ‘In die ysterhand se greep’, ‘Verbode liefde’, en ‘Jy is my seun’, word ’n Brasiliaanse verhaal eersdaags op kykNET&kie verken. ‘Plaas van passie’ word vanaf middel-Maart uitgesaai.

‘Plaas van passie’: Nuwe telenovela binnekort op kassie

Plaas van passie, ’n telenovela uit Brasilië, sal in die plek van My naam is Farah, wat eersdaags tot ’n einde kom, uitgesaai word. Só word kykNET&kie dan ook die eerste plaaslike kanaal wat ’n Brasiliaanse telenovela na Afrikaans oorklank.

Die oorspronklike Portugese titel is Terra e Paixão (Land of Desire in Engels). Dié telenovela is die eerste keer in 2023 uitgesaai en bestaan uit 120 uur lange episodes.

Waaroor gaan dit?

Dié telenovela vertel die verhaal van Aline (Barbara Reis), ’n wiskundeonderwyseres, wie se man, Samuel (Ítalo Martins), op hul plaas vir dié grond vermoor word. Al het sy geen ondervinding met boerdery nie, besluit Aline om alles moontlik te doen om die plaas vir haar en haar seun, João (Matheus Assis), te behou. Aan haar sy is haar getroue vriend Jonatas (Paulo Lessa) en haar ma, Jussara (Tatiana Tibúrcio). Haar grootste teenstand kom van ene Antônio La Selva (Tony Ramos), die man agter Samuel se dood.

Plaas van passie
Aline (Barbara Reis) en Jonatas (Paulo Lessa). Foto: Verskaf

Maar daar is ook ingewikkelde liefdesake wat vorendag kom as haar pad met dié van Daniel (Johnny Massaro), Antônio se seun, kruis. Dinge word verder bemoeilik as Caio (Cauã Reymond), Daniel se halfbroer, ook vir Aline in sy visier kry. Boonop is daar konflik tussen Caio en Antônio. Caio se ma, Agatha (Graça Junqueira), het met sy geboorte gesterf, en Antônio verkwalik hom daarvoor.

Dan is daara ook Irene (Glória Pires), Antônio se vrou, Daniel en Petra (Débora Ozório) se ma, en Caio se stiefma. Sy is magsbehep en sal enigiets doen om te sorg dat net Daniel en Petra die familiebesigheid oorneem.

Wie is die Afrikaanse stemme?

Die spelers wat vir die Afrikaanse stemme sorg, is Claudia Jones (Aline), De Waal Stemmet (Caio), Rowlen von Gericke (Daniel), Andreas Jordaan (Antônio), Elma Potgieter (Irene), Donovan Pietersen (Jonatas), Ilse Klink (Jussara) en Jacky Carpede (Menah, Jonatas se suster).


Plaas van passie begin op 18 Maart om 20:00 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies