Menu terloops
In Recaps & Resensies [12 Mei 2023]

‘Ouma Olive’: Moedersdagfliek ʼn uitlaatklep vir ʼn ma se rou


kykNET se speelfilm ‘Ouma Olive die ongelooflike’, draai om ’n weduwee wat op amper 80 ’n versteekte talent ontdek: gee haar ’n whiskey of twee en ’n mikrofoon en sy laat mense skater.

Deur Riëtte van der Wat
‘Ouma Olive’: Moedersdagfliek ʼn uitlaatklep vir ʼn ma se rou
Kyk lokprent

Ouma Olive (Antoinette Kellerman) woon in ʼn aftreeoord waar sy haar nukkerig van die ander inwoners afsonder. Haar man is oorlede en sy drink nie die pille wat haar besorgde dokter (Roeline Daneel) voorskryf nie, omdat sy graag by hom wil aansluit in die hiernamaals.

Haar dogter (Tinarie van Wyk-Loots) emigreer oornag Kanada toe saam met haar gesin – nie dat sy ooit veel kom kuier het nie. En Olive se verhouding met haar rammetjie-uitnek seun Markus (Ludwig Binge, ook in Dinge van ʼn Kind) het jare tevore skipbreuk gelei. Ma-en-seun-tyd is as gevolg van haar toedoen verspil. Nou is dit amper te laat om in te haal.

Dan laat die noodlot (en Markus, ʼn arrogante akteur, se eie onnadenkende gedrag én desperaatheid) hulle paaie weer kruis. Sy ma, vind Markus uit, het ʼn versteekte talent: ná ʼn glas whiskey, ontpop sy in ʼn stand up comic. Vir eie gewin (dis nooit heeltemal duidelik presies waarom nie) oortuig Markus sy agent en love interest Lindsay (vertolk deur ʼn uitstekende Veronique Jephtas) om stand up gigs te bespreek vir ‘Ouma Olive’.

“Haar grootste optrede,” skryf kykNET in ʼn persverklaring, “lê voor wanneer sy na ʼn glansgeleentheid genooi word. Gaan die mense dink sy is snaaks? Belangriker nog: gaan haar brose hart dit hou en gaan die een ding waarop sy hoop – vergifnis van haar seun – ʼn werklikheid word?”

Robin Williams-dokkie dien as inspirasie

Ouma Olive die ongelooflike is geskryf deur Binge, wat ook die uitvoerende vervaardiger was saam met Jaco Nothnagel. Hy sê die idee vir die fliek is deels geïnspireer deur die dokumentêr Come Inside My Mind, oor die lewe van die akteur Robin Williams en deels op sy eie rou-proses na die dood van sy pa, die vervaardiger Herman Binge.

“Robin (Williams) was baie intens en sensitief, maar toneelspel en stand-up was vir hom maklik. Hy was iemand wat komedie gebruik het om te cope met die lewe,” sê Binge.

In Ouma Olive die ongelooflike, sê hy, word komedie ʼn uitlaatklep vir ʼn ma se rou en frustrasie. Hy het sy idee ontwikkel nadat hy en Nothnagel ʼn fliek vir Moedersdag aan kykNET moes voorlê.

“Om die Moedersdag-tema deur te trek, het ons besluit om haar bestuurder haar vervreemde seun te maak. Hy word noodgedwonge haar toergids en leermeester, maar is ook die persoon met wie sy dinge moet regmaak. Uiteindelik is dit ʼn liefdesverhaal tussen ma en seun wat mekaar deur middel van humor herontdek,” sê hy.

Daar was ʼn paar swaargewigte by die fliek betrokke. Nina Swart was die regisseur en buiten vir Kellerman, speel Chris van Niekerk, June van Mersch, Abduragman Adams en Pierre van Pletzen ʼn paar van die inwoners by die aftreeoord waar Olive woon. Ongelukkig het Van Mersch net ʼn klein rolletjie, maar die skermtyd wat sy wel het, benut sy ten volle. Dieselfde geld vir Adams, wat skielik ʼn wewenaar word en vir Olive ʼn steunpilaar kan wees. Die draaiboek laat egter die altyd meesterlike Kellerman in die steek, want hoewel sy haar karakter met empatie en insig vertolk, bly die lyne om Olive se karakter te vaagweg ingekleur.

Skaafwerk skort in Ouma Olive

Ouma Olive die ongelooflike het al die elemente vir ʼn goeie storie: interessante karakters, donker geheime, teleurstelling en twis tussen ouers en kinders. En humor om die tragiek te temper. Maar die draaiboek sou baat by nog skaafwerk aan die storielyn en meer geloofwaardige karakterontwikkeling. Dalk ook vir ʼn tikkie meer deernisvolheid; en humor wat met meer subtiliteit op die oor val, eerder as wat dit ʼn mens so half ongemaklik laat wonder waarom jý dan nou nie lag nie…

Die feit dat kykNET soveel belê om plaaslike, Afrikaanse flieks te vervaardig is verblydend. Meer tyd vir kritiese afronding, sal die tydloosheid van sulke projekte verseker.


Ouma Olive die ongelooflike word Saterdag 13 Mei 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online) uitgesaai. Dit sal daarna ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies