In die eerste episode van die unieke werklikheidsreeks Op skou, word die fassinerende wêreld van vlugvoetige vierpotige vriende – skouhonde – van nader bekyk. Ja, die mens se beste vriend beskik oor die vermoë om vinniger as blits tussen paaltjies en obstruksies deur te flits. Daar word na verskillende afdelings en aspekte van hondeskoue gekyk, en kykers leer van die toegewyde deelnemers aan hierdie geleenthede ken.
Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die eerste episode van Op Skou.

Ratsheid is nie ’n stokperdjie nie
Dit, allerweë onder die kategorie Agility tydens skoue en kompetisies, is volgens die honde se mensemaats ’n absolute leefstyl.
Reëls en hindernisse
Nes die honde, moet hul hanteerders ook al die reëls en hindernisse leer ken. Want hoe anders gaan hulle vierpotiges weet watter roete om te volg? Van die hindernisse sluit in: Voor-, blinde- en agter-kruise asook ketchkers (breedweg waar die hond agter die hanteerder inbeweeg) en dis maar net vier van die maneuvers wat uitgevoer moet word tydens kompetisies.

‘Mej. Suid-Afrika vir honde’
Ras-kompetisies is deel van die skou waar die beoordelaars bepaal hoe na die hond lyk aan die standaard van daardie spesifieke ras – ’n soort van Mej. Suid-Afrika vir honde, soos Louis Kruger, eienaar van Pet Expo, dit beskryf. Maar anders as met Mej. SA word die honde letterlik van hul neus tot hul stert gemeet. Selfs hul tande word van naderby beskou. Daar is ’n standaard opgestel wat as handleiding dien vir die beoordelaars.
Beoordelaars vanuit Noorweë, Swede, Estonia en Ierland asook Alen Marekovic van Kroasië, word ingespan om die honde volgens die standaard te beoordeel.
Voorbereiding vir skoue

Die voorbereiding vir die skoudag is allermins kinderspeletjies. Van die honde gaan na hul eie gimnasium. Daar is ’n fisioterapeut wat seker maak alles buig en beweeg soos dit moet. Dan is daar natuurlik die fiksheidsaspek waar spesifieke oefeninge gedoen word om byvoorbeeld hul agterbene te versterk vir spronge.
Tot 400 vierpote ding mee
Louis vertel daar word na raming 350-400 honde per skou verwag! Hy noem dat Pet Expo sowat 20 jaar gelede in Durban ontstaan het, waarna dit ook in Johannesburg gehou is. Dit het hom inspireer om mense meer bloot te stel aan nie net honderasse nie, maar ook aan wat met die honde vermag kan word.
Hy het met die vorige eienaars van wat toe as The World of Dogs & Cats (WODAC) bekend gestaan het, in gesprek getree en idees met hulle rondom die moontlike pad vorentoe gedeel. Die oproep was op die regte tyd en dit het tot die nuwe baadjie en naam van Pet Expo in 2022 gelei.
Die mense agter die honde…
Renée Prinsloo
Renée het baie goed presteer op die gebied van waterski en vrystyl-dans, en sy het eindelik opgeëindig as ’n hondehanteerder waar sy op die ratsheid en vlugvoetigheid (Agility) van honde fokus. Sayde, ’n Shetland-skaaphond, is in hierdie stadium haar top-presteerder in Agility. En sy’t spesifiek hierdie ras gekies omdat hulle ratser en vinniger is as die meeste ander rasse.
Dory Smit
Dan is daar Dorothea, beter bekend as Dory, wat aanvanklik uithouritte met perde gedoen het. Maar ’n baie slegte val waar sy haarself bang geval het, het haar na honde laat kyk as ’n veiliger sport. Sy hou wel daarvan dat die wen van sowel uithouritte as honde-ratsheid met ’n stophorlosie bepaal word. Dit maak die speelveld gelyk.
Vandag is daar Stoffel, haar optelhondjie, wat agt jaar gelede met sy ratsheid telkemale oor haar kombuisdeur tot binne in haar hart gespring het, wat haar op die pad van ratsheid geplaas het, al was dit nie so maklik as wat sy gedink het dit gaan wees nie. Twee jaar gelede het Rio en Gin, twee Borderkollies by Stoffel aangesluit.
Susan Kleijnhans
Susan (68) doen dit reeds vir die afgelope 18 jaar. DaiDai, ’n Staffordshire Bulterriër, was aanvanklik net haar troeteldier, maar sy het sommer met haar eie leiband in haar mond die ratsheid-roete saam met Susan gedoen wanneer sy ander honde om die baan gelei het.
Zara en Lexi was aanvanklik die ratsheid-deelnemers, tot waar DaiDai een keer uit haar hok gebars het en saam met Lexi die roete gehardloop het. Die res, soos die gesegde lui, is geskiedenis.
Banie van Aswegen
Die 32-jarige hondehanteerder se windhond, Danté, is sy groot trots en hy word nie net vir die Pet Expo ingeskryf nie, maar ook vir die ras-kompetisie. Fiksheid was nog altyd deel van Banie se leefstyl en hy het op die rugbyveld sy staal getoon. Nadat hy rugby gegroet het, het hy kennis gemaak met hondeskoue. En dit is waar alles begin het.

Banie beskryf Danté as gedrewe en passievol. Vandag beskik Danté oor kampioen-status en tot nou toe het hy pryse by die dosyne ingeryg. En hy’s nog nie eers vier jaar oud nie. Maar Banie se hoop word daarop gevestig dat Danté die nasionale kroon gaan inpalm wat sal beteken hy is die beste hond van alle rasse, landwyd.
Op Skou wys vanaf Woensdag, 7 Mei 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.