Menu terloops
In Wat om te kyk [14 Mei 2025]

‘Op Skou’: Voëls van eenderse vere? Toe nie!


Verlede week, in die eerste episode van die kykNET-reeks ‘Op Skou’, is daar na die fassinerende wêreld van vlugvoetige vierpotige vriende gekyk. Vandeesweek is dit die gevleueldes se beurt . . . duiwe.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Op skou' op DStv Stream

‘Op Skou’: Voëls van eenderse vere? Toe nie!

Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die tweede episode van Op Skou.

Duiwe, Op skou

Die grootste kompetisie ter wêreld

By AfrikaPro word die geveerdes gering, ingeklok en gehok. In hierdie stadium is dit waarskynlik die grootste duiwe-wedvlugkompetisie van sy soort wêreldwyd. Mede-duiweboere vanuit alle uithoeke stuur ook hul duiwe hierheen om daaraan deel te neem.  

Ontmoet die duiweboere 

Pa en seun

Johan King vlieg al duiwe vir 52 jaar. En sy seun, Mark, volg in sy voetspore. Hy neem sedert 1984 deel aan duiwewedvlugte. Vir Johan is dit baie spesiaal dat hulle twee dit saam kan doen, een van die min sportsoorte waar dit kan gebeur.

Vir Mark is die wen-aspek baie belangrik terwyl Johan dit bloot net wil geniet. Vir hom gaan dit nie oor die geld wat gewen kan word nie. Hy wys hoe een seisoen hom destyds R80 gekos het om deel te neem, maar hy het net R83,18 gewen . . .

En dan was daar sy beste duif wat hom vir ’n tyd lank “verruil” het vir ’n lewe op die skool se dak met ’n “common” duif. Sy het teruggekeer om weer te vlieg. Tot waar ’n kat oor die muur gespring het en haar doodgebyt het. 

“Ja, elke sport het sy beserings,” erken Johan.

Banie Deetlefs

Banie het grootgeword met duiwe. Hy glo sy liefde vir duiwe het gekom omdat sy pa baie rondgetrek het toe Banie nog in die laerskool was. Dit was nie maklik om gou vriende te maak nie, maar die duiwe was altyd daar . . .

In 2023 het hy en sy spanmaat en swaer, John du Preez, die Swart Baadjie-kompetisie gewen. En die hoop beskaam nie vir nog ’n baadjie of twee nie.

Op skou
John du Preez en Banie Deetlefs. Dié episode is ook opgedra aan John wat sedert die episode se verfilming sy eie vlerke gekry het. Foto: Verskaf

John du Preez

John en Banie, vlieg nou al meer as 30 jaar saam duiwe. John is met Banie se suster, Petro, getroud. Hy het daarmee begin toe hy 14 jaar oud was – op die dag toe sy jongste broer gesterf het. Hy het na John gekom en gevra of hy die duiwe wil hê. John het ingestem, en later daardie dag is sy broer en vriende in ’n motorongeluk oorlede. Hy glo sy broer sou vandag trots op hom gewees het oor alles wat hy met die duiwe verrig het. 

In 2014 het John ’n virus opgedoen wat op die ou einde hom in ’n rolstoel laat beland het. Tydens sy tyd in intensiewesorg wou hy net huis toe gaan en Petro het saam by die dokters gepleit om hom te laat gaan. Tuis het sy hom in die sitkamer tuisgemaak waar hy die hele tyd die duiwehok kon sien. “En toe word ek gesond. Dalk as ek onder die kluite lê, sal ek ophou met duiwe.”

Jan Malan

Hy beskryf homself as ’n angstige duiweboer vandat hy ’n klein mannetjie was. Maar hy is ook ’n kenner van die geskiedenis rondom duiwe. Hy vertel dat selfs nog voor die twee Wêreldoorloë is duiwe reeds ingespan om boodskappe tussen kastele te stuur.

Selfs die Suid-Afrikaanse Weermag het van duiwe gebruik gemaak om boodskappe te stuur. Jan noem dat tot vandag toe van die sein-eenhede se skouerflitse nog steeds duiwe op het.

Ria Botha

Ria is die enigste vroue-lid van die klub. Dit was eintlik haar oorlede man se passie wat hy van 2003 gehad het. Sy sê sy wou nooit eers help om die hokke skoon te maak nie. Maar toe die eerste drie duifies in die hok geland het, kon sy nie langer haar afstand hou nie. En vandag gaan sy steeds voort daarmee.

Louis Botha

Hy vertel met sy aankoms in die streek, het hy maar duiwehokke gebou soos wat hy gedink het dit moet wees. Dit sou vier jaar neem voordat hy aan wedvlugte begin deelneem het. En verlede jaar het hy groot gewen: R525 000! 

Hy glo hy sal wel eendag vir AfrikaPro inskryf, maar in hierdie stadium is die inskryfgeld nog te hoog om te oorweeg.

Joe Gomez

Joe, onder die ander deelnemers bekend as die Pigeon Whisperer, het ’n baie goeie verhouding met sy duiwe en praat gereeld met hulle. Sy vrou sê sy wens hy wil so met haar praat, maar hy lag en sê anders as die geval met sy duiwe, verstaan sy vrou hom nie.

Gys Louw

Hy is Johan en Mark King se vennoot. Sy liefde vir duiwe het reeds as tienjarige posgevat. Hy het tot sy grootste verbasing AfrikaPro die eerste jaar gewen. Hy was iewers in Alberton toe hy op sy selfoon sien hulle het gewen. Hy sê hy’t toe uit blydskap sommer net daar op die gras rondgerol. Nou is dit vir hom en sy gesin ’n familie-sport.

Pigeon Palace

Mark en Gys Louw het saam die Pigeon Palace begin: eksotiese broeihokke waar duiwe onder andere vir wedvlugte gebroei word. Daar is nou 50 broeipare wat oor jare saamgestel is, bestaande uit duiwe wat vanuit Europa ingevoer is. Hulle voer ook baie duiwe in vanuit België, die bakermat van duiwewedvlugte.

Duif-veilings

Mark verduidelik dat dit baba-duifies is wat op die veiling te koop aangebied word. Hulle is die generasie wat volgende jaar aan die wedvlugte gaan deelneem. Die opbrengs van die veiling word gedeeltelik aan die klub oorbetaal en die res as prysgeld aangebied. Iemand wat baie gelukkig was om te sien hoe goed die veiling verloop het, is Ian Smith, op 77 jaar oud is hy die oudste lid van die klub.

Op skou
Tydens 2024 se AfrikaPro-kompetisie, wat by Sun City geëindig het, is daar 1 700 duiwe vrygelaat. Foto: Verskaf

Voorbereiding vir ’n wedvlug

’n Ingevoerde saadmengsel van oorsee gemeng met 20% mielies is op die spyskaart vir die gevleuelde atlete vir die wedvlug wat voorlê.

Theuns van der Westhuizen, die hokafrigter, vertel met die uitbroei van die babatjies vind daar spesiale versorging plaas en hulle spesiale dieet word ook gemonitor. Hulle word gespeen tussen 28-32 dae. Daarna spandeer hulle twee tot drie weke in die hok en buite voordat hulle in die lug kom. Na sowat drie maande vlieg hulle oefenvlugte, hoe om huis toe te gaan en hulle word ook gewoond gemaak aan die wedvlugmandjies.

Hoe werk die wedvlug?

Die duiwe, nou gewoond aan hul wedvlugmandjies, word gewoonlik met ’n groot trok na die loslatingspunt vervoer. Op die tydsein word al die mandjies gelyk oopgemaak. Terloops, daar word gemiddeld 8 000 duiwe per wedvlug vrygelaat. 

Sowel die loslaat- as aankomskoördinate, akkuraat tot en met ’n meter waar die duiwe se eie hokke is, is bekend aan die deelnemers en die aankomstyd by hul hokke is tot die sekonde akkuraat. Die duif wat wen, is die een wat die meeste meter per minuut afgelê het. Die duiwe word toegerus met ’n elektroniese ringetjie en by die deur van hul hokke is daar ’n elektroniese inklok-horlosie wat hulle aankoms registreer.

One Loft

Waar klein duifies grootword, is waar hulle huis is, verduidelik Mark. Hy verwys na hulle “ingeboude GPS” wat hulle van kleinsaf leer om te oriënteer.

By ’n One Loft , soos by AfrikaPro, werk dit anders. Babaduifies word op 4-6 weke oud hiernatoe gestuur. Dit word hulle nuwe huis en dis van hier waar hulle aan wedvlugte sal deelneem.

AfrikaPro

Die inskrywingsfooie vir AfrikaPro is astronomies – $15 000 (volgens huidige rentekoers: R274 000). Foto: Verskaf

Tydens die 2024-kompetisie wat by Sun City geëindig het, is daar 1 700 duiwe vrygelaat.

Ruan Louw, loftbestuurder van AfrikaPro verduidelik tussendeur die voorbereiding vir die wedvlug dat hy duiwe kan uitken sonder moeite, selfs al is hy geblinddoek. Hy persoonlik gaan elke duif deur om seker te maak hulle kan die wedvlug hanteer.

Volgens hom is daar in die vorige jaar ongeveer $1,2 miljoen (volgens huidige rentekoers: R21,9 miljoen) uitbetaal aan die wedvlug. “Ja, dis vir ’n paar rand waarvoor die ouens vlieg,” sê Ruan. Vir hom gaan dit nie oor wie wen nie, maar dat al die duiwe veilig huiswaarts keer.

Hendrik von Wielligh, wedvlugdirekteur van AfrikaPro, oftewel “die meesterbrein” agter AfrikaPro, raak baie emosioneel as hy dink oor wat al die afgelope paar jaar met die kompetisie bereik is. 

By verlede jaar se AfrikaPro was daar deelnemers van België, Bulgarye, Duitsland, Nederland en Amerika . . . om maar net ’n paar te noem.

Die inskrywingsfooie is astronomies. Mark noem dat dit $15 000 (volgens huidige rentekoers: R274 000) kos om in te skryf. 

Die finale wedvlug vir 2024 het by Edenburg (naby Bloemfontein) vleuels gekry. Die vraag is net: Wie het daai 601 km die vinnigste afgelê en wie se hart het gebreek?

Daai baadjies

Die Groen Baadjie-prys is vir die sprinter-duif. Dis die korter wedvlugte, soos vir naellopers in atletiek, waar die duiwe baie vinniger vlieg. Die duif wat na vyf aaneenlopende wedvlugte voorloop, is die wenner van hierdie baadjie.

Die Bruin Baadjie-prys is vir uithou-wedvlugte – vir die duif met die beste uithouvermoë oor die langste afstand. 

Die Blou Baadjie-prys is die tweede grootste prys en dit word aan die beste duif van die jaar (Ace pigeon) toegeken. Die duif moet die prestasie behaal oor 10 vlugte.

Die Swart Baadjie-prys, die grootste kompetisie wat daar is en die hoogste prys in duiwesport in die wêreld. 


Hierdie episode van Op Skou is in liefdevolle herinnering opgedra aan John du Preez wat op 10 Oktober 2024 sy eie vlerke gekry het.


Op Skou saai uit op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies