Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Jun 2025]

‘Op skou’: Met lanse en swaarde op volle galop!


In die vyfde episode van die kykNET-reeks ‘Op skou’ word daar gekyk na ruiters wat hul perde inspan vir militaristiese aktiwiteite – maar sonder die reuk van buskruit en swael in die lug – met die wêreld van pensteek wat van nader bekyk word. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Op skou' op DStv Stream

‘Op skou’: Met lanse en swaarde op volle galop!

Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die vyfde episode van Op skou, kykNET se realiteitsreeks oor buitengewone kompetisies.

Wat het jy nodig?

’n Perd, ’n swaard en ’n lans. En dan moet daar op volle galop penne wat in die grond gesteek is, raakgesteek word. Daar is natuurlik ook verskillende kategorieë waarin daar deelgeneem word. Enkel is vanselfsprekend, maar daar kan ook in pare (twee ruiters tegelykertyd) of as ’n vol span met al vier ruiters terselfdertyd deelgeneem word.

Op skou
Dit begin met ’n perd, ’n swaard en ’n lans… Foto: Skermgreep

Dan is daar galge met ringetjies en ’n pen waaraan lemoene hang. Die lans moet ingespan word om die ringetjies van die hakie af te lig en daai ringetjie moet dan op die lans bly. Die lemoene word met die swaard gesny.

Ontmoet die ruiters 

Jaap Lötter (74), Pretoria 

Dit was aanvanklik gymkhana genoem terwyl die res van die wêreld dit as pensteek geken het, aldus Jaap wat al van 1975 af dié sport beoefen. Die gebore Volkruster sê perde is soos ’n medikasie vir mense, en hy gebruik nog gereeld hierdie “medisyne”. 

In hierdie stadium is hy die oudste ruiter wat op eie bodem aan pensteek deelneem en hy geniet homself nog gate uit met dié fisies-uitdagende sportsoort. Jaap het aanvanklik gedink om op 70 af te tree, maar toe het William Guest, ’n mederuiter wat daardie tyd nog die oudste was, gesê hy moet aanhou tot waar sy liggaam vir hom vertel dis tyd om af te tree.

Op skou
In hierdie stadium is Jaap Lötter die oudste ruiter wat op eie bodem aan pensteek deelneem. Foto: Skermgreep

Having horses is like being in the Mafia. Once you’re in, you can’t get out,” kom dit laggend van Jaap. “Ja, daar is pyn. En elke pyn het sy plek,” erken hy. Maar ophou het nog nie sy plek nie.

Riaan Lötter (47), Pretoria

Hy is Jaap se seun en hy beoefen pensteek vandat hy tien jaar oud is. Riaan vertel hulle het al baie ure op ’n perd se rug deurgebring. “Dis maar wat ons elke naweek doen as ons by die huis is. Ons ry perd.”

En hy wil ook hê Jaap moet so lank as moontlik nog perdry omdat dit so ’n groot deel van hul familie se passie is.

Jeané Lötter (17)

Kan jy glo? Ook die derde gelag Lötters is deur die perdegogga gebyt. Oupa Jaap, pa Riaan en kleindogter Jeané se lewens is diep verweef met penstekery. Sy het op 11-jarige ouderdom aan haar eerste pensteek-kompetisie deelgeneem. En by die nasionale kampioenskappe was dit die eerste keer dat sy aan die lemoen- en pen-afdeling deelgeneem het. 

Die senuwees het effens gelol, maar sy is steeds gek oor pensteek. Dan is daar ook die droom om weer die Proteaspan te haal.

Op skou
Ook die derde gelag Lötters is deur die perdegogga gebyt – 17-jarige Jeané neem ook deel. Foto: Skermgreep

Norman Mostert (58), Delmas

Norman beoefen die sport in sy vrye tyd en hy het Suid-Afrika al verskeie kere op internasionale vlak verteenwoordig. “Dis in ons bloed in,” verduidelik hy. En sy pa, wat ook ’n Springbok in die sportsoort was, is sy inspirasie. 

Norman het die Wilkinson Sword-trofee vir beste wapenhanteerder reeds 14 keer gewen, die laaste keer was in 2024. “Jy moet ’n band met jou perd vorm,” vertel Norman en hou sy wysvinger en middelvinger styf teen mekaar om te beduie hoe stewig daardie band moet wees.

Tristan Mostert (26), van Rietkol, Sundra

Tristan, Norman se seun, sê hy was al op ’n perd se rug nog voordat hy kon loop. En hy het al baie keer geval, is geskop, sy kop gestamp en deur ’n perd gebyt. Hy het al aan verskeie dissiplines deelgeneem met perde – van skouspring tot dresseer. Ná skool het hy meer kompeterend begin deelneem aan pensteek.

Tristan voel ook die sportsoort is in sy bloed. En in 2023 het sy naam ook op die Wilkinson Sword-trofee vir beste wapenhanteerder gepryk. Hy mik om sy naam beslis 14 keer en weer 14 keer op die einste trofee te sien. “En as ek dit saam met my pa kan doen, nóg beter.”

Hy mik ook om vir die nasionale span gekies te word. Saam met sy pa. As hulle dit kan regkry, is dit die eerste keer ooit dat ’n pa en seun hierdie prestasie behaal.

Mariaan Linde, nasionale pensteek-beoordelaar

Sy vertel tydens haar tyd in die polisiekollege was gymkhana deel van die verrigtinge. “En hulle het ons vrouestudente gebruik om dan die kosstalletjies te beman en die kosse te verkoop,” sê Mariaan. “Toe’t ek eendag besluit maar ek wil nie hier agter wees waar hulle kos maak nie. Ek wil daar wees waar die aksie is en dis hoe ek by dit betrokke geraak het.” 

Vroue se betrokkenheid was destyds tot die byhou van telkaarte beperk. Maar in 1993 het Mariaan ’n lansie vir vroue gebreek toe sy die eerste vroue-beoordelaar wêreldwyd geword het. Sy vertel dat gymkhana in die Middeleeue begin het. Lanse en swaarde was in daardie tye ingespan om mee oorlog te maak. 

In 1851 het dit amptelik ’n sport in Indië geword. Die Britse magte wat daar gestasioneer was en in tente gebly het, het hul lanse ingespan om wilde varke te jag. Waarskynlik van pure verveeldheid het hulle later met hul perde tussen die tente deurgejaag – en die tent-toue met hul swaarde gesny en die tentpenne met hul lanse uit die grond geruk. 

Op skou
Plaaslik is die eerste nasionale kampioenskap in 1951 gehou. Foto: Skermgreep

Die konsternasie wat dit tot gevolg gehad het, het die plan laat ontstaan om tentpenne ook elders te gaan plant sodat die soldate daar kan gaan speel en teen mekaar kan kompeteer . . .

Plaaslik is die eerste nasionale kampioenskap in 1951 gehou. Maar vroueruiters moes tot 1999 wag voordat daar ’n nasionale vrouespan gekies is.

Johan Jordaan, Rawsonville

Die Bolandse wynboer en sy vrou, Lindie, is nou meer as 18 jaar lank getroud. Hy vertel hy het reeds as kannetjie op perde se rûe geboer. Eers ponies, toe die grootmenere. Hy het kleintyd ook pensteek per voet gedoen deur sy eie penne langs die veld te plant en dan hardloop hy daardeur om die penne met sy “lans” (’n droppertjie wat hy skerp gemaak het) te pen . . . 

Hul twee seuns, Hugo en Corné, is net so lief vir die vierpotiges. 

Modder en mis

Dit was nie net ’n vuurwarm kompetisie nie, daar was ook pret. Theo Halliwell van Bloemfontein-Wes verduidelik meer oor die juniors se tradisie wat ’n paar jaar gelede afgeskop het. “As dit jou eerste keer is wat jy SA’s ry, dan word jy gedip in die modderbad hier agter as ’n insoutery en as deel van die tradisie bring hulle almal in. Jy moet hier deurgaan. Dis modder, dis perdemis . . . maar dis deel van hulle pret,” vertel hy.

Op skou
Alhoewel daar kommer bestaan oor die afname in getalle van pensteek, word daar vas geglo dat dit weer ’n oplewing gaan beleef. Foto: Skermgreep

Nasionale pensteek-kampioenskap, Howick

By die 74ste Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat in September 2024 by Howick plaasgevind het, was daar net drie van die deelnemers bo 70 jaar oud. Wie het die paal gehaal, oftewel die ringetjie gehaak en die lemoen gesny, en wie nie? Daar was trane van vreugde, maar ook ’n paar harte wat gebreek het want net die top-5 by die nasionale kampioenskappe word gekies vir die nasionale span.

Alhoewel daar kommer bestaan oor die afname in getalle van pensteek, word daar vas geglo dat dit weer ’n oplewing gaan beleef. En dit is beslis nie wensdenkery nie, veral nie as daar geluister word na hoe die jong deelnemers voel oor hierdie uitsonderlike sportsoort nie. 

Môre se meesters en oormôre se supermeesters wag in die vleuels.

OP SKOU
Die nasionale kampioenskappe is ’n vuurwarm kompetisie, maar daar was ook pret. Foto: Skermgreep

Op Skou saai uit op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies