Menu terloops
In Onderhoude [28 Feb 2025]

Ontmoet vir Riaan Ellis, die akteur agter ‘Suidooster’ se speurder Malherbe


Jy moet weet daar’s groot moeilikheid as Ruiterbosch se speurder Malherbe sy verskyning maak. Ons het met Riaan Ellis, wat die rol van speurder Francois Malherbe in ‘Suidooster’ sedert 2019 vertolk, gesels. 

Stroom 'Suidooster'

Ontmoet vir Riaan Ellis, die akteur agter ‘Suidooster’ se speurder Malherbe

Wanneer skelms moles in Ruiterbosch aanvang, die fiktiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, is speurder Malherbe die een karakter wie se hulp gewoonlik ingeroep word. Ongelukkig is speurder Malherbe dikwels onsuksesvol om die regte skobbejakke aan die pen te laat ry. Soos onlangs die geval was met Damian (Caleb Felix) se dood…

Min kykers weet ook dat die speurder se voornaam eintlik Francois is omdat daar meestal net na speurder Malherbe verwys word. 

Ons het met Riaan Ellis, wat die rol van Francois Malherbe sedert 2019 vertolk, gesels. 

Hoe lank vertolk jy nou al die rol speurder Malherbe in Suidooster, en wat geniet jy van dié rol?

Malherbe, Suidooster, Riaan Ellis
Riaan Ellis vertolk reeds sedert 2019 die rol van Ruiterbosch se speurder, Francois Malherbe. Foto: Skermgreep

“Ek is nou al vir sowat ses jaar in Suidooster as speurder Malherbe en ek geniet dit verskriklik om in sy kop te klim. Dit is ’n ongelooflike ervaring om myself in iemand anders se skoene te plaas, veral in so ’n intense beroep soos dié van ’n speurder. 

“Dit hou my op my tone, want ’n speurder moet altyd op die fynste detail let en nooit sommer net iemand op sigwaarde vertrou nie. Dit maak die rol uitdagend én opwindend.”

Wat is jou indrukke van Malherbe?

“Malherbe is reguit en lojaal – ’n man wat glo in geregtigheid en die waarheid. Hy sien die lewe in swart en wit. Vir hom gaan alles oor feite, nie fiksie nie. 

“Hy neem sy werk baie ernstig op en sy hoë standaarde plaas soms baie druk op hom, want hy wil nie net ’n goeie speurder wees nie, maar ook die beste pa en eggenoot. Dit maak van hom ’n baie interessante karakter om te vertolk, want hy moet voortdurend ’n balans tussen sy persoonlike lewe en sy werk as speurder vind.”

Wat is vir jou die lekkerste Suidooster-storielyn waarby jou karakter betrokke was en hoekom?

“Een van my gunsteling-storielyne was toe Malherbe gyselaar geneem is. Dit was een van my eerste groot tonele toe ek by Suidooster aangesluit het en ek was behoorlik in die diep kant gegooi. 

“Dit was ’n ongelooflike uitdagende storie om te speel, want dit het gewys dat selfs ’n gesagsfiguur soos Malherbe ook kwesbaar kan wees. Dit was vol spanning en emosie en ek het dit geniet om daardie kant van hom te verken.”

Malherbe, Suidooster, Riaan Ellis
Wade (Dean Smith) moes onlangs vir speurder Malherbe (Riaan Ellis) ’n rat voor die oë draai oor Damian (Caleb Felix) se dood. Foto: Skermgreep

Keer kykers jou op straat voor as hulle jou gesig herken?

“Ja, dit gebeur gereeld! Mense roep my sommer op straat: ‘Hey, speurder Malherbe! Kom ons vat ’n foto!’ Dít wys net hoe lojaal Suidooster-kykers is. 

Hoekom dink jy is Suidooster-kykers juis so lojaal?

“Wat ek gereeld hoor, is hoe relevant en realisties die reeks se storielyne vir hulle voel. 

“Die uitdagings waarmee die karakters sukkel, is regte lewenskwessies en die kykers vereenselwig hulle daarmee. Dis hoekom ek dink dat Suidooster so ’n groot impak het – dit vertel stories wat mense werklik raak.”

Vertel bietjie meer oor jouself – die man agter die karakter wat almal ken.

“Ek is in Hillbrow gebore en was in sewe verskillende skole voordat ek uiteindelik in Nelspruit Hoërskool gematrikuleer het. Daai is die beste skool ooit! 

“Ná ek ’n ruk lang rugby in Londen gespeel het, het ek by Tuks in Pretoria gaan studeer – in ’n rigting wat glad nie met toneelspel verband hou nie! Maar ek het nog altyd ’n liefde vir film gehad en op 29 het ek my werk gelos en na Kaapstad getrek om ’n loopbaan in toneelspel te volg. Dit was ’n moeilike pad, maar ek is bly ek het dit gedoen.

“Ek is ook ’n sakeman en mede-eienaar van ’n motor-detailing-besigheid, Auto Velvet. Ek het nog altyd ’n passie vir kuns gehad, maar eers toe ek begin het om motors te poleer en verfoppervlaktes te vervolmaak, het ek besef dís my kuns. Vandag balanseer ek Suidooster, my besigheid en die lewe as ’n man en pa – en ek voel geseënd om dít te kan doen.”

Wat is die groot dryfkragte in jou lewe – persoonlik en op professionele vlak?

“My geloof in God hou my gegrond en gefokus. Die Bybel is vir my belangriker as kos – dit voed my gees en hou my positief. Ek spandeer elke dag tyd in Sy Woord en dit is my anker in my lewe.

“Ek is ook ’n groot liefhebber van flieks en ek kyk graag my gunstelinge oor en oor. Ek geniet ook oefening, om in die natuur te stap. Die belangrikste is egter tyd saam met my vrou en seun. Hulle is my alles, en ek is ongelooflik dankbaar vir hulle.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies