Menu terloops
In Sepies [29 Mei 2023]

Ontmoet Marisa Drummond, nuwe gesig in ‘Suidooster’


‘Binnelanders’, ‘Isidingo’ en nou ‘Suidooster’ – die aktrise Marisa Drummond keer terug na die sepiewêreld in die skoene van ene Orpa Blignaut, wat saam met haar man in Ruiterbosch wil wortel skiet.

Kyk nou

Ontmoet Marisa Drummond, nuwe gesig in ‘Suidooster’

Ruiterbosch se mense kry vandeesweek nuwe bure in Suidooster. Daarin vertolk Marisa Drummond die karakter van Orpa Blignaut. Sy en haar man James (Dries Botha van Erfsondes), is sendelinge wat nou in Ruiterbosch wil wortel skiet. Kort voor lank raak die egpaar betrokke by Ruiterbosch se kerk waar Siya (Gantane Kusch) die pastoor is. Maar Orpa weet al te goed hoe om (goed)gelowiges seepglad ’n rat voor die oë te draai…

Marisa vertel ons meer oor haarself en haar loopbaan.

Marisa Drummond vertolk die rol van Orpa in Suidooster. Foto: Verskaf
Marisa Drummond vertolk die rol van Orpa in Suidooster. Foto: Verskaf

Hester & Ester Bester was ’n groot deurbraak vir jou loopbaan. Hoekom dink jy was dié komediereeks so gewild?

“Willie Esterhuysen se reekse is oor die algemeen gewild onder Suid-Afrikaners. Wat dit vir my laat uitstaan het, was die buitengewone onlogiese aanslag van al die karakters. Soos byvoorbeeld hul larger than life-oordrywende siening van die lewe. Die vier karakters, Bessie en Trompie en die twee geliefde susters was almal ontsettend kleurvol – nie net in stel, dekor, kostuum en grimering nie – maar ook in hul woordeskat en storielyne.

“En dit was ’n disfunksionele familie wat die kyker soms kon laat vergeet van hul eie gesins-‘konstruksie’ (tong in kies). Die ikoniese sêgoed wat daarmee gepaard gegaan het, leef nou nog voort. Dink maar net aan ‘slapslet’ en ‘lugmatras’.”

Sepie-aanhangers ken jou al as venynige feekse Kimberly Lewis-Haines (Isidingo) en Alexa (Binnelanders), en nou ontmoet hulle vir Orpa in Suidooster. As jy ’n naam vir jouself as ’n sepieheks kon kies, wat sou dit wees? 

“Oe! En moenie vergeet van Vera Nel, die reeksmoordenaar van die Die Byl nie. Maar as ek self sou kon kies sou dit wees Esmerelda Verwey. Moenie my vra hoekom nie, dit klink net of sy dinge nogal lelik deurmekaar kan krap.”

Jou CV as aktrise is indrukwekkend, maar wat is die één ding wat vir jou ’n loopbaanhoogtepunt is?

“Dis ’n moeilike een om te antwoord, want elke rol wat ek aanpak, hetsy verhoog, voor die kamera, as regisseur of skrywer, kry een honderd persent my aandag en liefde. Ek raak versot of karakters en stories en elke projek bring nuwe uitdagings en lekkertes.”

As jy nie ’n aktrise of in die vermaakbedryf was nie, wat sou jy andersins wou doen?

“Ek sou nét met diere werk. Wild of mak. Dis waar ek myself kan wees en van myself gee en soveel meer terug ontvang as wat mens verwag.”

Wie is jou gunsteling-aktrise?

“Die Britse aktrise Emma Thompson, sonder twyfel. Ek het nog altyd al haar werk geniet. Haar storievertelling is soos ’n fyn geweefde tapisserie en jy wil elke draad van die kunswerk bestudeer. En sy is getrou aan haarself en gemaklik in haar eie vel.”

Wat is jou guilty pleasure om op TV te kyk?

“Gee my enige dag ’n dokumentêr. Of dit nou ’n reeks of eenmalig is. Nothing beats a good doccie!

As jy aan enige werklikheidsreeks kon deelneem, wat sou dit wou wees?

“Aan geen een nie. Dis ’n afbrekende wanuitbeelding van die mensdom.”

Hoe ontspan jy of wat doen jy om af te skakel?

“Ek is mal oor stilte en ’n stukkie strandstap saam met my skaaphond en my pa. Ek en my pa is baie eenders en kan ure in mekaar se geselskap wees sonder om iets te sê en ons voel nooit ongemaklik of gedruk om ’n geselsie aan te knoop nie. Die slag wanneer ons wel doen, het dit betekenis.”


Suidooster, wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uit.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies