Menu terloops
In Wat om te kyk [2 Aug 2023]

‘Onthul’-dokkie bekyk skriknag in Graskop


Terwyl die inwoners van Graskop deur ’n roekelose bende geterroriseer word, laat die bewaarders van die gemeenskap hulle ook in die steek – dís die agtergrond waarteen kykNET se nuutste episode van ‘Onthul’ afspeel.

Kyk 'Onthul' nou

‘Onthul’-dokkie bekyk skriknag in Graskop
Kyk lokprent

In die vierde episode van kykNET se ondersoekende dokumentêre reeks Onthul word die angswekkende gebeure wat in die vroeë oggendure van 30 April 2023 afgespeel het – toe ’n gewapende bende Graskop in Mpumalanga aangeval het – ontbloot. Dié episode van die dokkiereeks, “Graskop: Voertsek, polisie!”, word op Sondag, 6 Augustus uitgesaai en belig nie net die plundery en grootskaalse skade wat gely is nie, maar ook hoe die polisie in hul afwesigheid geskitter het.

Onthul Graskop
Die gebeure in Graskop, Mpumalanga, toe ’n gewapende bende die dorp aangeval het en die polisie glo verdwyn het, word in ’n episode van die dokumentêre ondersoekende reeks, Onthul, blootgelê.

Wat het gebeur?

Stel jou die volgende voor: Jy woon in een van die gewildste toeristedorpe in Suid-Afrika, maar in die vroeë oggendure slaan ’n bende toe en versper nie net al die roetes na die dorp nie, maar gaan op ’n strooptog. Winkels word geplunder, plofstof word gebruik om kluise oop te skiet en ’n veiligheidswag word aangerand. Nee, dis nie die verfilming van ’n Wilde Weste-fliek nie. Eerder ’n nagmerrie deurspek met vuurwapenskote wat die rustige atmosfeer aan skerwe laat spat het.

En die polisie? Hulle sluit hulself in die polisiestasie toe terwyl die koeëls rondvlieg en die beangste gemeenskap hoop en bid op die polisie se ingryping. Dis mos immers waarvoor hulle daar is. Maar dit het nie gebeur nie . . .

Dié program belig ook die gevolge van die skriknag – soos die tweespalt in die gemeenskap nadat een groep die stasiebevelvoerder weggejaag het en die ander groep dié besluit as té radikaal beskou het. Wat wel duidelik is, is dat die gemeenskap se vertroue in die manne in blou – die bewaarders van hul veiligheid – so ’n knou weg het dat net ’n wonderwerk dit weer sal herstel.

En nou is die inwoners ook onseker of hul dorpie ooit weer sy status as een van die gewildste toeristebestemmings in die streek gaan herwin.

Vele kante aan ’n storie

Maar soos alles het ’n saak twee, dalk drie en selfs meer, kante. In die platteland is die infrastruktuur besig om in duie te stort. Beurtkrag sorg vir donker strate en die gesegde lui mos reeds: Donkerwerk is konkelwerk. Soveel gemeenskappe ervaar ’n toename in misdrywe wanneer daardie Eskom-oomblikke inskop.

Dan die paaie. Daagliks word foto’s op sosiale media gedeel oor slaggate. Ja, nes almal wat daardeur geraak en vertraag word, kniehalter dit ook die spoed waarteen die polisie op klagtes kan reageer.

In die dokkie word daar met polisie- en misdaadkenners oor sistemiese gebreke binne die polisiediens gepraat. Onder dié tel die bekende voormalige polisiekaptein Ben Booysen, prof. Rudolph Zinn en Gideon Jones. Ook deel van die gesprek is brig. Selvy Mohlala, die provinsiale polisiewoorder in Mpumalanga. Richard Mamabolo lewer namens die polisie-vakbond Popcru kommentaar.


Graskop: Voertsek, polisie! word op 6 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die episode sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies