Menu terloops
In Recaps & Resensies [9 Feb 2023]

‘Mooiweer en warm’: Eksentriek, verrassend en… verwarrend


Uit die ‘Arende’- en ‘Vlug na Egipte’-storieskepper Paul C. Venter se pen kom ’n bisarre nuwe kykNET-drama, ‘Mooiweer en warm’.

Deur Watkykjy

Kyk nou

‘Mooiweer en warm’: Eksentriek, verrassend en… verwarrend

Paul C. Venter skryf ’n hond uit ’n bos uit. My eerste kennismaking met sy pennevrug was as ’n tienjarige snotkop-laaitie toe ek sy spannende jeugverhaal, Hansie Slim, een aand as boekprys vir een of ander prestasie in Afrikaans ontvang het. Ek het die boek sommer die volgende dag verslind. 

Jare later sou ek, soos meeste Afrikaanse TV-kykers, ook vasgenael voor die kassie sit om deur boeiende reekse wat hy opgedroom het, weggevoer te word. Arende (sommer drie reekse), Meester (wat vir Neil Sandilands sy eerste TV-joppie geland het), Tussen Duiwels, Torings en Konings. Hy was ook verantwoordelik vir die draaiboek van Maretha Maartens se ’n Pot Vol Winter. Ja-nee, oom Paul was druk besig gedurende die 80s en 90s. Een Skoenlapper was sy enigste TV-buiging in die vroeë 2000s. Hy sou weer sy opwagting in 2015 maak met Vlug na Egipte, toe Terug na Egipte en later Knapsekêrels in 2018. Binnelanders het sy draaiboekpen ook intussen besig gehou met ’n stuk of 20 episodes tussenin. 

Mooiweer en warm

Paul C. Venter se ink is egter nog lank nie op nie en toestande lyk gunstig – selfs Mooiweer en warm. Tesame met die skeppers Nagvlug Films, wat ook verantwoordelik was vir trefferreekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Hotel, maak hulle ’n gedugte span. Sy nuutste skepping, Mooiweer en warm het Dinsdag, 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin uitsaai. Kortliks opgesom, dramatiseer hierdie klein dorpie-verhaal die ietwat saai lewens van die karakters wat amper almal vlooimarksmouse is. Die gebeure ontknoop teen die onheilspellende agtergrond van ’n dreigende ramp wat vir sewe soorte onsekerhede sorg. Die groot dam wat bokant die hoëveldse dorpie sit se walle dreig om te bars en die inwoners en al soos ’n bybelse vloed te verswelg.

Die hele dorp se mense

In ’n poging om die dorp se Afrikaanse kerk se koffers aan te vul, stem enkellopende vrouepredikant, ds. Issie (Marisa Drummond; Spoorloos: Die eiland en Elke skewe Pot) in om ’n kontrak te sluit met die plaaslike, selfaangstelde “markargitek”, Alex Kemp (Geon Nel; Die Boekklub en Nêrens, Noord-Kaap) om ’n vlooimark op Saterdae op die kerkgronde te hou. Alex deel sy huis met sy eksvrou se ma, Sonica (Brümilda van Rensburg; Egoli en Lui maar op, Belinda ) en dit blyk ’n super ongesonde verhouding te wees.

Bokkie Oktober (André Samuels; Sara se Geheim) is die kerk se skriba. Hy volg die bybel bykans woord vir woord slaafs na in sy alledaagse lewe. Sy rigiedheid is ’n bron van konlfik met amper almal wat sy pad kruis. Miskien minder so met ouderling en voëlkenner, Meyer Basson (Beer Adriaanse; Hotel en Kanarie), wie se paaie met Cezanne Dippenaar (Carla Smith; Tydelik Terminaal en Troukoors) kruis. Laasgenoemde is die dorpie se geoloog wie se verslag moontlik die dorp se toekoms kan red. Sy en haar getroue sidekick en beste vriend, Ruben Arendse (Carlo Daniels; Skemerdans en Barakat) maak deel uit van ’n klein groepie wetenskaplikes wat bewus is van die groot bedreiging, maar oor amper geen mensekennis beskik nie.

So het ons byvoorbeeld vir Hannah Brand (Susan Danford; Raised by Wolves), die bestuurder van Geo Solutions vir wie Cezanne dan werk, wat onder hewige druk is. Dan ook die glibberige Dieter (Jacques Theron; Moffie en Sheperds and Butchers) wat in ’n hewige (eensydige) kompetisie met Cezanne is. 

’n Rolverdeling om van te droom

Die rolverdeling vir die karakters van Mooiweer en warm is duidelik groots. Dis asof Nagvlug hul top-keuses van die een of ander eksklusiewe rol gaan hand pick het. 

Daar is byvoorbeeld ook  Antoinette Kellerman (Song vir Katryn) in die rol van Berta Engelbrecht as ’n hippie wat boeke en koffie verkoop. Haar dogter, Aletta (Tinarie van Wyk Loots; Troukoors en Nêrens, Noord-Kaap), blyk om met verskeie gestesversteurings te worstel. Lood Momberg (Paul du Toit; Stiekyt  en Binnelanders) is amateur-rockster en effens beter tattoo artist.

Willem Conradie (Deon Lotz; Lecacy en Binnelanders) is ’n verbitterde eks-nuusleser en stemkunstenaar wat takeaways smous en heeltyd deur sy vrou, Nerine (Ira Blanckenberg; Toorbos  en Griekwastad) vermaan word om “sy pil te drink”. Haar beste tjommie is Carmen Booysen (Kim Cloete; Fynskrif en Binnelanders). Dié verkoop tuisgemaakte sweeties om vir haar drie kinders en blinde pa, Oom Skip (Royston Stoffels;  Arendsvlei en Vaselinetjie), te sorg.

Verkleurmannetjie-reeks

Dit is juis vanweë hierdie MOERSE rolverdeling dat die reeks my so ’n bietjie soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smarties-boks voel. Kyk, Paul C. Venter is nie bang om eksentrieke en komplekse karakters in sy stories in te skryf nie. Hier voel dit egter asof hy uit sy pad uit gegaan het om elke karakter gekompliseerd en super-eksentriek te maak.

Die storielyn se konstruksie kom soms verwarrend voor, want dis asof niemand die kans gegun word om ’n groter skaduwee te gooi sodat ander karakters effens moet terugtree nie. So amper asof elke rol vir ’n Oscar-beeldjie opgedroom is en almal hulle gatte af act om dit te verwesenlik. 

Jy sal dit self vinnig besef nadat jy die eerste episode gekyk het. Maar weet jy wat? Jy gaan dan episode twee kyk en dan epsiode drie. En dan die daaropvolgende episodes totdat jy dit deur al 13 gemaak het. Jy gaan nie noodwendig aanhou kyk omdat jy nuuskierig is oor die damwal se lot nie – eerder om te sien hoe elkeen van hierdie groot karakters se verhale en agtergrondstories ontvou. Hul kaarte word immers styf teen die bors gehou. 

Die stelontwerp, kameraskote, redigering en musiek is ’n puik gesamentlike delivery wat Mooiweer en warm so ’n bietjie soos ’n kunsfliek of kabaret wat oor 13 episodes afspeel laat voel. Wie dan anders as Amanda Strydom om die titelsnit te sing?


Mooiweer en warm saai weekliks op Dinsdae om 20:00 uit op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies