Liefhebbers van Afrikaanse sepies sal onthou hoe ’n bloedjong Lindie Strydom (néé van Eeden) haar buiging op die kassie as Karen in die M-Net-sepie Egoli gemaak het.
Alhoewel sy geen formele drama-opleiding ontvang het nie, het sy in 2023 aan SARIE vertel dat sy op “penspersepsie” [gut feeling] en, ondere andere, met die gesoute aktrise Christine Basson (Nora in Egoli) se leiding, geleer het om elke rol so eerlik as moontlik te vertolk.
Nou, 16 jaar later, bevind sy haar as Amanda van Wyk in Ruiterbosch, die denkbeeldige voorstad van Suidooster, waar dinge liederlik en soms ook lekker deur die woelige Kaapse wind van rigting gewaai kan word.
Sy het vir Terloops meer vertel:
Hoe is dit vir jou om teenoor Anrich Herbst te speel?
“Ek het al ’n paar keer tydens verfilming gesê ek kan nie glo ek en Anrich het nog nooit saam gewerk nie!
“Soos baie ander kykers, het ek hom as Wimpie van Orkney snork nie leer ken en ook as die stem van soveel TV- en radio-advertensies. Hy was voor my as Dewald Vorster by Egoli betrokke, maar ons paaie het nooit gekruis nie, tot nou. En wat ’n voorreg. (Lees ook die onderhoud met Anrich Herbst.)
“Ek het al in tennis ervaar hoe ’n beter opponent jou druk om beter te speel en beter houe te slaan. En dis presies wat ek op stel beleef het die afgelope paar weke. Anrich se aanslag en ervaring het gesorg vir soveel oomblikke waarin ek self verras was oor waar ons kon uitkom in ’n toneel.

Jy werk ook nou saam met Mienke Ehlers, wat die rol van jul dogter, Frankie, vertolk. Hoe is dit om met haar te werk?
“Sy is deel van ’n nuwe generasie akteurs en self nog relatief nuut wat die sepie-formaat betref… Maar sy speel my stil – in die goeie sin van die woord, waar ek net verstom staan oor wat sy regkry.
“Sy is ’n bitter intelligente aktrise (én mens) met ’n besonderse insig en benadering tot haar werk. Ek kan ure na haar luister en het soveel by haar geleer. Ons het een aand laat geskiet en op pad huis toe, sommer so met heen-en-weer oor WhatsApp, gesels oor ons laaste toneel daardie dag. Dis een wat ek reken as ’n loopbaanhoogtepunt vir my. Haar spel het my as ma Lindie, maar ook ma Amanda op ’n baie diep plek geraak en haar woorde het my getref: ‘Dis ’n storielyn wat voel soos huis.’
“Ek was 16 jaar laas voor die kamera en dan voel jy maar so effens onseker wanneer jy terugklim op die fiets. Maar tussen Anrich en Mienke het hulle my so saam-saam begelei na waar ek self kan sê ek het weer ‘tuisgekom’.”
Hoe het dit gevoel vir jou om weer jou sepie-skoene aan te trek?
“Henry Mylne is die regisseur vir wie ek as skoolkind my hopie papiere met ’n versameling skoolfoto’s (weens ’n gebrek aan ’n ordentlike CV) gestuur het toe ek gedroom het om eendag in Suid-Afrika se heel eerste sepie, Egoli, te speel. Dit was ’n kleintyddroom wat toe vars uit die skoolbanke in Januarie 1997 waar geword het.
“Dit was ook Henry wat eendag op stel vir my gesê het: ‘As jy die dag nie meer skoenlappers in die maag het nie, moet jy ophou.’
“Ek kan eerlik sê dat ek tot en met my heel laaste toneel in 2009 altyd daai net-genoeg-van-’n-fladdering beleef het vir die voorreg om nog ’n stukkie van ’n storielyn te kon speel. En dat ek wawiel-en-flik-flak-opgewonde is om nou 16 jaar later weer skoenlappers te voel.
“Dit bly die grootste voorreg om elke dag te kan speel en met iemand se storie vertrou te word. Dit bly ook vir my ’n geweldige verantwoordelikheid om iemand se realiteit uit te beeld. Ek hoop om dit so getrou en eg, versigtig en sensitief as moontlik te doen.
…Ek is passievol oor die empatie wat storievertelling verg, maar ook die geskenk van begrip, liefde en empatie vir verskillende mense wat wag vir die persoon aan die ontvangkant van hierdie stories, as ons net sal luister.
Lindie Strydom
“Ek probeer ook om as aktrise doelbewus te bly waag, selfs al speel jy jare lank dieselfde karakter. As iets vandag nie wou werk nie, kan jy môre weer probeer, of dit op ’n ander manier takel. Ek dink nie daar is genoeg episodes in ’n leeftyd oor vir alles wat ek nog wil leer nie.”
Wat spesifiek het jy op die Suidooster-stel geniet?
“Ek is nie seker of ek my vinger presies daarop sal kan sit nie. Maar as jy ten spyte van die verkeer tussen Somerset-Wes en die Kaap met ’n lied in jou hart ateljee toe ry omdat jy so opgewonde is oor die werk wat jy vandag gaan doen, weet jy daar is iets besonders aan hierdie plek.
“Op skerm vertel ons stories wat soms ’n hartseer spieëlbeeld van ons samelewing is. En tog bied dit ook ’n tipe ontvlugting as jy sien wat ander mense in hulle lewens moet hanteer.
“Maar agter die skerms speel ’n heel ander storie af. Een van spanwerk en ’n pragtige samehorigheid, of jy nou die knoppies moet druk, middagete help maak, die boom vashou of besluit wie trek wat aan. Ons is almal hier met ’n wedersydse waardering vir elkeen se belangrike bydrae tot hierdie geoliede masjien wat reeds die afgelope tien jaar Ruiterbosch se karakters tuismaak in ons eie huis.

“Ek dink die gevaar van ’n sepie is maar altyd dat daar ’n gesindheid van ‘nog ’n dag, nog ’n toneel’ iewers kan insluip, maar nie hier nie.
“Tussen die produksiespan se prosesse en effektiwiteit (wat vir my lyk of hulle minstens die volgende Olimpiese Spele sal kan organiseer) en die professionaliteit van die span akteurs wat almal nog elke dag eers elke toneel met die dialoogafrigter deurwerk voor hulle op stel kom, is daar ’n ongelooflike kombinasie van ’n sterk struktuur en gesonde ritmes wat jou juis die ruimte bied om daagliks jou beste energie vir die kreatiewe eindproduk te gee.”
Wat kan jy vir ons vertel van wat agter die skerms gebeur?
“Mike en Amanda lyk gereeld lekker dikbek vir mekaar! Maar agter die skerms moes ek ’n paar keer my lag probeer hou oor wat ek en Anrich namens Mike en Amanda besluit wat hulle eintlik moet sê of doen.
“Die twee karakters se onstuimige verhouding het ook ’n spottery veroorsaak oor aan wie se kant die kykers gaan wees. Dan sal ek aan die einde van ’n toneel vir Anrich die telling gee van wat ek dink. En volgens my is Amanda nou minstens 5-0 voor.”
Jy het ’n uiteenlopende en suksesvolle loopbaan. Wat hou jou steeds passievol oor toneelspel ná al hierdie jare?
“Ek sit toevallig vanoggend, terwyl ons almal saam ontbyt eet, langs Tiffany wat in produksie werk. Sy vra uit oor hoe ek my voorbereiding vir ’n toneel doen, en ek vertel haar so ’n bietjie van my notas ten opsigte van my storielyn en ook die emosionele lyn, veral as ons nie die tonele in ’n spesifieke volgorde skiet nie.
“En in hierdie gesprek sê ek vir haar ek voel ’n verantwoordelikheid teenoor die persoon wie se storie ek vertel. Dis dalk nie my storie nie, maar dis iemand se storie. Iemand het al hierdie beleef wat ek vandag moet vertolk.
Ek is eintlik so eenvoudig – en miskien is dit deel van wat my positief en gelukkig hou. Ek vind die grootste vreugde in die kleinste dingetjies, soos wanneer ek iemand met iets kon help of ’n woord van bemoediging kan deel.
Lindie Strydom
“Ek kry dit nie noodwendig reg nie, maar ek kan jou belowe dat ek ’n hele rukkie daarmee op my hart geloop het. Dan word daai paar bladsye se dialoog nog ’n venstergeleentheid waar ek die kyker saam met my wil innooi in iemand anders se lewe en omstandighede. Ek het nie slim tegnieke of kortpaaie om uit te kom by dit wat die toneel verg nie. Ek maak staat op empatie vir my karakter en haar situasie.
“So, ek is passievol oor die empatie wat storievertelling verg, maar ook die geskenk van begrip, liefde en empatie vir verskillende mense wat wag vir die persoon aan die ontvangkant van hierdie stories, as ons net sal luister.”
Hoe ontspan jy wanneer jy nie op stel is nie?
“Ons woon die afgelope vyf jaar in Somerset-Wes. Ek is steeds in verwondering oor die pragtige natuurskoon waarmee ons omring is. Ek geniet dit om te draf en te stap. Soms neem ek meer foto’s van al die mooi as wat ek noodwendig myself sal druk om al hoe vinniger of verder te hardloop.
“Ek is maar ’n ou diep siel wat lief is om oor die lewe te dink en te skryf waar ek kan. Of as iemand my nooi om dalk iewers te praat, mense of omstandighede, plekke en gesprekke ’n bietjie beter te los as wat ek dit gekry het.
“En ek is van daai lawwe mense wat opstaan sodra ek wakker word. Of dit nou 2-uur, 3-uur of 4-uur in die oggend is! Die oggendure is van my lekkerste, veral as ek skryf en bietjie langer dinktyd in stilte nodig het voor die dag se geraas begin.
“Ek het ’n passie vir my geloof, my gesin en gemeenskap, onderwys en leierskapontwikkeling. Ek is tans besig met ’n lewensafrigterskursus. Maar die goue draadjie regdeur my lewe se storielyn is my liefde vir die Here en Sy mense en dan my eie mense by die huis – my man, Johann (23 jaar getroud), en ons drie kinders – Paul en tweeling, Hugo en Nina.”
Dit kan uitdagend wees om werk en persoonlike lewe in balans te hou. Hoe pak jy daardie balans aan?
“Ek is eintlik so eenvoudig – en miskien is dit deel van wat my positief en gelukkig hou. Ek vind die grootste vreugde in die kleinste dingetjies, soos wanneer ek iemand met iets kon help of ’n woord van bemoediging kan deel.
“Ek is allergies vir kompleksiteit. Selfs in my motiveringswerk sal ek altyd fokus op die eenvoudige dinge wat ons elke dag kan doen om plekke en gesprekke beter te los as wat ons dit gekry het.
“Ek het vroeg in my lewe iemand hoor sê: fokus bring balans. Dink maar aan iemand wat op een beentjie probeer staan en hoe dit help as jy op ’n spesifieke plek fokus. So, ek probeer nie om balans te soek nie, maar eerder fokus. Besluit wat jou ‘ja’ in die lewe is en die ‘nee’s’ sal makliker volg.
“My slim man sê ook ons praat gereeld oor tydsbestuur, maar nie genoeg oor die bestuur van ons energie nie. Jou tydsbestuur kan verseker dat jy vanaand 7-uur aan die tafel is wanneer julle gesin saam eet. Maar jou energie sal bepaal hoe teenwoordig en ingestel jy is op die mense aan jou tafel.
“Ek dink dus baie oor die dinge wat vir ons energie gee, maar ook oor dit wat ons energie steel. En interessant genoeg is die kompleksiteit (wat ons baie keer self veroorsaak) van die grootste diewe. Daarteenoor is die grootste bron van energie vir my die fokus op wat ek moontlik vandag vir iemand anders kan beteken.
“Die woordjie wat letterlik vanoggend by my opgekom het terwyl ek kantoor toe ry: Ek is meer van ’n enhancer as ’n influencer.
“Ek voel ons is op ’n plek of tyd of seisoen vir dit wat ons kan gee. Die waarde wat ons kan toevoeg tot iemand se lewe of die projek waarvan ons deel is. Dit gee vir my geweldige vreugde om te dink ek kan dalk vandag iets vir iemand beteken.”
Vertel meer oor jou kinders?
“Ons spot altyd dat Paul (20) basies vir sy eie doeke betaal het toe hy my baba in Egoli gespeel het. Vandag is hy ’n akteur in eie reg, onder andere in sy rol as Dolf Brink van Reënboogrant en projekte soos ADAM, Spooksoeker, Summertide, Die Byl en Projek Dina.

“Maar ook met my tweeling, Hugo (18) en Nina (18), deel ek al soveel jare hierdie kosbare raakpunt van speel en praat met eindelose gediggies opsê en redenaars leer, soos hulle elkeen op hulle eie manier hulle talent aanhou slyp.
“Hulle is drie ongelooflike jong mense. Ek kan sien hoe hierdie vaardighede bygedra het tot die dapperheid waarmee hulle nie skroom om hulle sê te sê of op te staan vir wat reg is nie. Ek wil darem net bysê dat die gene van beide kante kom. My man, Johann, het al ’n hoofrol of twee gesing en is ’n besonder begaafde spreker.
“As iemand egter sê, ‘Jou kinders volg in jou voetspore’, help ek hulle gou reg met hoe ver hulle my eintlik vooruit is. Hulle kan soveel meer as ek doen en sien kans om alles te probeer – van sing en dans tot kitaarspeel en sommer ’n nuwe taal aanleer as dit is wat die oudisie van jou vra.
“Paul het in sy matriekjaar ’n verhoogproduksie geskryf, geregisseer en die hoofrol vertolk, met Hugo en Nina wat saam daarin gespeel het. Hierdie stuk, Slaansak, het daai jaar (2023) ATKV-tienertoneel se kategorie vir beste slegs-leerderproduksie (nasionaal) gewen.
“Ná daardie toekenning het twee skole Paul vanjaar genader om vir hulle tekste te skryf. Dít terwyl Nina ook hierdie jaar ons skool se leerderproduksie skryf en regisseer met Hugo in die hoofrol. Selfs nou in die vakansietyd bly hulle elkeen besig met een of ander projek. Nina werk tans aan ’n kykNET-reeks. Paul skiet ’n kortfilm wat hy self geskryf het. Hugo slaap omtrent by die skool terwyl hulle voorberei vir die tienertoneelseisoen.
“En ons gesin maak ’n lekker span. Paul het die afgelope twee jaar Hugo se ATKV-digitoneelteks geskryf (’n monoloog vir kamera), en ek het weer Nina se teks geskryf, geskiet en geredigeer. Tot my man moet help stel bou of materiaal aankoop vir die prentjies waaroor ons droom en met my liefdestaal van celebration word daar ook gereeld fees gevier wanneer ons iets aanpak.
“Ons het ons spesiaal self by ons huis in Somerset-Wes vir Paul afgeneem toe sy eerste episode van Reënboogrant die aand uitgesaai is. Hulle was toevallig as cast ook almal bymekaar in Pretoria. Ek het later gehoor dat Paul die video met sy span gedeel het en dat ons Strydoms se intense meelewing en kommentaar vir groot vermaak onder die res van die Reënboogrant-span gesorg het.
“Ek wil ook net sê dat ek met dieselfde passie my kinders se hokkie, tennis of netbal geniet. Ek is bevoorreg dat ek deur al die verskillende plekke, projekte en paaie waar my loopbaan al gaan draai het, nog altyd daar kon wees vir my gesin.
“Hoe skatryk-bevoorreg is ek dat hulle ook nou my ongelooflike dankbaarheid vir hierdie wonderlike nuwe seisoen in my lewe met my deel.”
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.