Menu terloops
In Recaps & Resensies [16 Jan 2025]

‘Lekker & goed’ met Carmen Niehaus: Shari Kennedy kom kuier


Die TV-persoonlikheid Shari Kennedy is Carmen Niehaus se gas in die derde episode van ‘Lekker & Goed’.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker & goed’ met Carmen Niehaus: Shari Kennedy kom kuier

In verlede week se episode het Carmen en Marciel Hopkins heerlik stories gedeel oor die plaaslewe. Maar wie klop vandeesweek in Lekker en goed met Carmen Niehaus op kykNET aan Carmen se deur, en dit boonop met ’n vrag wasgoed? Gelukkig het Shari Kennedy, wat kykers sal onthou vir haar verskyning in Die Real Housewives van die Wynlande, ook haar “honger en dors” ingepak en die twee koers sommer pylreguit kombuis toe. 

lekker & goed shari kennedy
Shari Kennedy is vandeesweek se gas in Lekker & goed. Foto: Verskaf

Daar wag ’n rooibos-spritzer op haar, gemaak met Carmién Tea se rooibos espresso. Dis juis hier waar die kinkel lê. Melk in die tee is nie deel van die prentjie nie, maar wel ’n goeie skeutjie MCC afkomstig vanuit Piekenierskloof naby Citrusdal. “Ek het nou al redelik dinge beleef en gesien, maar ek het nog nooit in my bestaanslewe ’n teetjie met ’n alkoholiese verversing gedrink nie . . . soos ’n cocktail nie,” erken Shari.

Carmen lig haar gou in oor al die verskillende maniere waarop tee aangebied kan word. 

“Jy kan drink en gesond leef,” kom dit vinnig van Shari.

lekker & goed
Hierdie week het Shari Kennedy in Carmen Niehaus se kombuis kom kuier. Foto: Verskaf

’n Stukkie geskiedenis

Die MCC, genaamd Wilhelmina, is pragtig verpak en boonop vernoem na Carmen se ouma. “Maar,” keer Carmen gou, “sy was nie ’n Wil-hél-mina nie. Sy was ’n sterk vrou, maar sy was ’n sagte vrou.”

Haar oupa-hulle het ’n plaas gehad, maar toe besef hulle daar’s te veel seuns en hulle raak nou te veel vir die een plaas. Toe word daar lootjies getrek en dit val op een van die ongetroude seuns . . . Ouma Wilhelmina het daarop vir oupa Johan gesê Hennie gaan dit nie maak op die plaas nie, want daar’s niemand om vir hom te sorg nie. Toe gaan hulle twee maar na bo-op die berg en met baie swaarkry ’n plaas daar ontwikkel.

Daarom is die Wilhelmina MCC ontwikkel – om die swaarkry, die vasbyt en die uithou en aanhou te gedenk.

Grootwordjare en renosters

Shari het wel in Upington grootgeword, maar in die dorp en nie op ’n plaas soos Carmen verwag het nie. Sy noem wel dat hulle elke vakansie plaas toe moes gaan en daar gaan werk het. “En my kindertjies . . . dink jy hulle werk in ’n Desember oor die vakansie?” laat sy ewe verontwaardig hoor.

Shari self het later van tyd betrokke geraak by renosterbewaring. “Wat vir my die ergste was, was my emosies gedurende daardie tyd,” erken sy.

Op die spyskaart

Vandag maak Carmen so tussen die “tee-drinkery” bolognese met spinasie-roomkaas pastaskulpe wat gebak word. Dit word met ’n toringslaai en ’n heerlike boegoe-vinaigrette voorgesit. 

Teen die tyd weet kykers dat Carmen ook altyd ’n soetigheidjie inwerk. Haar donkersjokolade-happie met neute en bessies lyk onweerstaanbaar.

Terwyl Carmen die uie rondroer in die pot, voeg sy ook ’n bietjie groen rooibostee by om seker te maak dat die uie goed saggekook is. Dan ’n bietjie spek- en maalvleis wat bygevoeg word, maar die eintlike “magic” van die dis lê in die “lekker lot rooiwyn” wat Carmen in die pot gooi.

“Die wyn wat jy in jou kos gebruik, moet net so lekker wees of goed wees dat jy dit ook kan drink,” gee Carmen raad. En so tussendeur die kook skink sy ook graag ’n glasie van dieselfde wyn. En gooi so nou en dan weer ’n bietjie by in die pot . . .

Shari sê haar man dink sy kan glad nie kook nie, maar sy dink sy maak van die lekkerste beesstert ooit. “Dis ’n lang proses [om te maak] maar ek’s mos ’n meisie met geduld,” vertel Shari.

Taai frikkadelle en taai braaitegnieke

Shari wil by Carmen weet of sy in die koshuis was. Ja, bevestig Carmen, sy was. “Die lekkerte van koshuis was om naweke huis toe te gaan,” sê Carmen en noem dat die koshuisfrikkadelle soms so taai was dat jy iemand daarmee wil gooi.

Sy deel haar wenke vir eiervrug, wat van die pasta in die bolognaise gaan vervang, met Shari, waarop Shari in reaksie noem dat sy die een is wat die tjoppies braai tuis. “Ek stamp mans weg as dit kom by braai, ek weet hoe om te braai en ek weet presies hoe om ’n vuurtjie aan te steek.”

Sy sprinkel sout op die vet kant van die tjoppie en braai daardie kant eerste om seker te maak die vet raak lekker krakerig.

Lekker & goed
“Die wyn wat jy in jou kos gebruik, moet net so lekker wees of goed wees dat jy dit ook kan drink,” is Carmen se raad. Foto: Verskaf

Gesond kook

Shari wil by Carmen weet waar haar passie vir gesond kook vandaan kom. Carmen sê sy doen dit al vir jare lank. “Botter en room is lekker, as jy dit eet is dit lekker,” erken Carmen. “Om op te maak vir daai lekker moet jy leer om geurig te kook.”

Dis een van die redes hoekom sy in hierdie episode eiervrug inspan vir haar dis. Dit bevat minder koolhidrate. Sy gaan tog wel ’n klein bietjie pasta ook inspan, maar dit gaan groot pastaskulpe wees. Die eiervrug vervang die lasagne.

Die groen tafel

lekker & goed
Carmen het vir Shari ’n groen tafel gedek. Foto: Verskaf

Vandag dek Carmen ’n groen tafel vir Shari. Hoekom juis groen, is Carmen nie seker nie. Sy dink dis omdat sy soveel van die natuur hou. Dit kontrasteer pragtig met die geel van die blommetjies in die veld, die blou van die strandmeer – alles wat net die mooi so bymekaar laat kom.

Natuurlik is dieselfde Piekenierskloof-wyn op die tafel waarmee Carmen die lieflike bolognese mee aangehelp het. Dis afkomstig van ’n klein wingerd op een van hul plase, Heidedal. Dit spog met ’n rooi- en donkerbessie-geur, maar dit tel ook’n bietjie boegoe op. “Hier gaan ons nou weer gesond,” laat Shari blitsvinnig hoor, tot groot vermaak van Carmen.

En die wasgoed? Vergete in die motor . . .

Wat nog?

Vind ook in dié episode uit hoe Carmen se pad met die liefde gekronkel het – al die pad van Citrusdal tot by Stellenbosch, die weermag en herontmoetings . . .


Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer. 


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies