Menu terloops
In Wat om te kyk [21 Feb 2025]

‘Lekker en Goed’: Episode 8 se resepte 


Van sappige steak tot koperpennie-wortelslaai – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die agtste episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker en Goed’: Episode 8 se resepte 

Kopiereg van Lekker en goed-resepte: Carmen Niehaus

Coco-Pine whisky-drankie 

Lekker en goed met Carmen Niehaus

Die Coco Pine-rooibostee gee ’n heerlike tropiese geur aan hierdie whisky-drankie.

Genoeg vir 2 mense

Bereiding: 5 min

DRANKIE 

80 ml (⅓ k) medium suikerstroop

2 Carmien Coco Pine Cold Brew-teesakkies

2 sopies whisky 

250 ml (½ k) sodawater

125 ml (½ k) lemonade

Blom-ysblokkies

  1. Giet die suikerstropie in ’n beker en voeg die teesakkies by. Laat staan sowat 5 minute sodat die tee lekker in die stropie kan intrek. Druk die vloeistof uit en verwyder die sakkies.
  2. Giet ’n sopie whisky in elke glas en voeg die Coco Pine-stropie by.
  3. Vul aan met sodawater en lemonade en rond af met blom-ysblokkies. 

Marmite-steak met tamatie en feta-kaas

Lekker en goed met Carmen Niehaus

Genoeg vir 2 mense

Bereiding: 10 min

Gaarmaak: Sowat 10 min (Steak)

AFRONDING 

Handvol kersietamaties of baba-tamaties aan die stronk

2 knoffelhuisies, fyngedruk

Olyfolie 

Bruinsuiker

Sout en swartgemaalde swartpeper na smaak

STEAK

2-3 porsies steak soos T-been, rib-eye of kruisskuif, sowat 3 cm dik

Sout

SMEERSEL

30 ml (2 e) Marmite

30 ml (2 e) rooiwyn

30 ml (2 e) Dijonmosterd

30 ml (2 e) bruinsuiker (opsioneel)

30 ml (2 e) olyfolie

5 ml (1 t) gekapte tiemieblaartjies

  1. Voorverhit die oond tot 200°C
  2. Afronding: Maak altyd eerste die bykos (gebakte aartappels) en afronding gaar. Smeer ’n oondpan liggies met olie en pak die tamaties in. 
  3. Sprinkel die knoffel oor die tamaties en spat bietjie olie oor. Sprinkel ook bietjie bruinsuiker oor en geur na smaak met sout en peper. Oondbraai 15 to 20 minute tot die tamaties net oopbars. Hou eenkant.
  4. Steak: Geur die vleis alkant baie liggies met sout. 
  5. Smeersel: Meng al die bestanddele saam en verf daarvan oor die een kant van die vleis.
  6. Maak ’n riffelpan rookwarm en plaas die steak regop met die vetrandjie na onder in die pan. Hou vas met ’n vleistangetjie, nie ’n vurk. Braai tot bros. 
  7. Plaas nou die gesmeerde kant op die pan en braai tot die vleis loskom van die pan, draai om met die vleistangetjie, smeer met smeersel en braai die anderkant tot dit loskom van die pan en gaar is volgens jou keuse. 
  8. Voorsit: Skep van die aartappels op ’n bord, plaas die steak bo-op en skep die tamaties bo-op.

Gebakte baba-aartappels met feta 

Lekker en goed met Carmen Niehaus

Plaas die aartappels saam met die tamaties in die oond.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min

Gaarmaak: 40 min

1 kg baba-aartappels, skoongeskrop en gekook tot net sag

Olyfolie

Vars roosmaryntakkies 

1-2 skywe fetakaas

  1. Plaas die gaar aartappeltjies in ’n oondvaste bak en druk rofweg fyn met ’n vurk.
  2. Giet bietjie olyfolie oor en stroop die blaartjies van die roosmaryntakkies en sprinkel oor.
  3. Sprinkel laastens fetakaas oor en bak sowat 20 minute tot die aartappels lekker bros en die feta-kaas gesmelt is.
  4. Sit voor saam met die steak. 

Koperpennie-wortelslaai

Destyds se gewilde koperpennie-wortelslaai kry nou heelwat minder suiker in en word gemaak met tamatiepasta en nie tamatiesoppoeier nie. Wortels bevat veral baie beta-karoteen wat help met goeie sig. Nes hul uie, is Wildeklawer se wortels van hoogstaande gehalte en ekstra geurig.

Ek bottel die koperpennie-wortelslaai, en dan is dit ideaal om saam te neem met ’n safari-vakansie. 

Lewer 1 l (4 k)

Bereiding: 20 minute

Gaarmaak: 15 minute

SOUS

160 ml (⅔ k) suiker

250 ml (1 k) appelasyn

125 ml (½ k) water

115 g tamatiepasta

10 ml (2 t) worcestersous

15 ml (1 e) aangemaakte heelkorrelmosterd

5 ml (1 t) paprika

Sout en peper na smaak

20 ml (4 t) mielieblom aangemaak met ’n bietjie water

SLAAI

1 kg wortels, geskil en in dun, ronde skyfies gesny

1 groot bruin ui, geskil en in ringe gesny

1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

Olie

  1. Sous: Plaas al die bestanddele in ’n groot kastrol, verhit en roer tot die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt.
  2. Slaai: Kook die wortels in bietjie water tot net effe sag, maar nog baie bros. Dreineer. Giet kookwater oor die res van die groente, roer goed en dreineer goed. 
  3. Verhit bietjie olie in ’n kastrol en roerbraai die ui en soetrissie tot net sag maar nog baie bros. Voeg die sous by en laat net weer kook. Voeg die wortels by. 
  4. Skep die groentemengsel in gesteriliseerde flesse. Plaas die deksel op en verseël.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies