“Wat soek sy hier?”
Die ontvangs wat op Melanie Palmer wag as sy by die Nuus om 7 se kantoor instap is een van agterdog en vrees. Te verstane, meen die aktrise Lea Vivier wat dié karakter op kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, vertolk. Melanie, ’n besigheidskonsultant, is immers daar om die finansiële vooruitsigte en lewensvatbaarheid van die nuuskanaal vas te stel. As sulks is haar blote teenwoordigheid ’n bedreiging vir die nuusspan wat op hul beurt vas oortuig is dat sy van die hele lot van hulle ontslae gaan raak.
“Deel van die beskrywing wat ek vir Melanie ontvang het, het gelui, ‘If Barbie had made an assassin’,” vertel Lea. “Niemand weet wat sy daar soek of wat haar agenda is as sy aanvanklik daar opdaag nie. Maar sy maak beslis almal op hul senuwees. Want ja, sy gee nie om oor jou gevoelens nie, sy gee nie om oor die interpersoonlike verhoudings nie. Dit kom als neer op die bottom line.”
Gedugte span
Lea, veral bekend vir haar spel op DAM en Diepe Waters, is as Melanie deel van ’n gedugte rolverdeling, wat onder andere ook Niggies se Roeline Daneel, Wolwedans in die Skemer se Rolanda Marais, White Lies se Brendon Daniels en Recipes for Love and Murder se Arno Greeff insluit.
Die reeks vertel oor ’n nuusspan wat dag in en dag uit die bulletin vir die aandnuus op televisie saamstel. Die fokus is hoofsaaklik op Rolanda se karakter, die gesoute nuusleser Adri Joubert, die stem van die aandnuus. Maar as Adri deur ’n persoonlike tragedie getref word, beleef sy hoe haar eie lewe nuus word.
Die regte goud van hierdie storie is in die karakters en Karen (Jeynes) het pragtige karakters geskryf.
Lea Vivier
As sulks word sowel die kuns en aard van verslaggewing onder die loep gebring, as die mense agter die skerms, en die interpersoonlike verhoudinge wat in hul alledaags die botoon voer. Maar dis juis vir daardie interpersoonlike dinamiek waarvoor Lea se Melanie nie ooghare het nie. Inteendeel – sy meen die span se oordeel is deur die kompleksiteite daarvan geaffekteer. Soveel so dat hulle die pad byster geraak het – en hoekom sy as konsultant ingeroep is.
’n Bietjie Stella, ’n bietjie Kelly om Melanie te skep
Lea het haar karakter deels op The Morning Show se nuushoof Stella Bak (vertolk deur Greta Lee) in die tweede seisoen van dié bekroonde drama geskoei. Soos Stella, is Melanie nie iemand wat oor ander se gevoelens omgee nie, benadruk sy. “Sy is baie swart en wit.”
Sy het wel ook elemente van die bemarkingspesialis Kelly Jones (vertolk deur Scarlett Johansson) in die fliek Fly me to the Moon bygevoeg, synde Melanie, soos Kelly, “sjarme en emosionele manipulasie in sekere omstandighede gebruik om te kry wat sy wil hê,” verduidelik Lea. “Melanie is hiperintelligent. As sy ’n vertrek binnetree, sien sy onmiddellik wat sy moet doen en hoe om die situasie te hanteer om te kry wat sy wil hê.”

Haar voorbereiding vir Die nuusmakers is gelei deur ’n vraag wat sy altyd vra voordat sy in ’n karakter se skoene klim: “Wat is die ding wat sy die meeste in die wêreld wil hê? Waarvoor sal sy voor ’n bus inspring? Wat is haar motivering? Al waaroor Melanie omgee, is om suksesvol te wees in dit wat sy moet doen. Sy gee letterlik nie om oor enigiets anders nie. So as iemand ’n probleem met haar het, dink sy nie dit is haar verantwoordelikheid om dit aan te spreek nie.”
Tog, voeg sy by, maak hierdie kilheid nie van Melanie emosieloos nie. “Sy het definitief emosies, maar dit hou verband met haar motivering en dat sy dalk kan misluk in haar taak. En dit maak haar teleurgesteld in haarself, of soms gefrustreerd as sy voel sy bereik nie haar volle potensiaal nie. Haar hoofdoel in die lewe is om alles perfek te doen – ’n onredelike verwagting, maar dís Melanie.”
Opnuut waardering
Sy lag vir hoe naïef sy oor nuuslesers voor dié projek was – veral omdat sy self ervaring het met kykers se miskenning van die grense tussen karakters en die akteurs wat hulle vertolk. “As akteurs word ons dikwels as die karakter gesien. Baie mense maak die fout om te vergeet dat daai akteur ook ’n baie vol lewe by die huis waarvan hulle glad nie weet nie.

“Maar vir die een of ander rede het ek daai selfde fout gemaak toe ek na nuuslesers gekyk het. En nou het ek ’n nuwe waardering vir die feit dat hulle ook baie vol, baie komplekse, baie uitdagende lewens by die huis het. Nes enige ander mens, ja, maar dan is hulle boonop op ons skerms waar hulle ’n beeld van absolute beheer, van kalmte uitstraal. Ek het net opnuut waardering vir die vaardighede wat dít verg,” vertel sy.
Karakters gaan kykers intrek
Oor die ander karakters in die reeks, meen Lea dat dit juis hul uiteenlopendheid is wat die storie so meeslepend vir kykers gaan maak. “Die regte goud van hierdie storie is in die karakters en Karen (Jeynes) het pragtige karakters geskryf. Hulle is so uniek en ek is vas oortuig dat kykers in hul interpersoonlike konneksies gaan inkoop.
“Mense gaan wíl sien hoe elke karakter ontwikkel en hoe die verhoudings tussen die karakters ontwikkel. Dit is net heerlik.”
Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.