Menu terloops
In Gons [20 Sep 2023]

‘La’t wiel’ keer terug na kassie vir 29ste seisoen


Nagenoeg 20 jaar sedert die eerste episode van ‘La’t wiel’ uitgesaai is, keer dié reeks vir ’n 29ste rit op kykNET terug.

‘La’t wiel’ keer terug na kassie vir 29ste seisoen

Hannes Visser, een van La’t wiel se deurwinterde aanbieders, vertel dat die eerste episode van dié hoë-oktaanreeks in Maart 2004 sy buiging gemaak het met hom en Francois Rautenbach as die eerste aanbieders. 

“Ons trek al naby aan 540 episodes,” vertel hy op die vooraand van La’t wiel se 20ste verjaardag.

Een van Hannes se mede-aanbieders is weer Waldo van der Waal, ’n gesoute motorjoernalis. Waldo het bykans 30 jaar se ervaring en ’n groot passie vir motors en motorsport. Die afgelope tien jaar is hy baie nou by die Dakar-tydrenne betrokke.

Die akteur André Weideman is ook weer deel van die motorsports as ’n gasaanbieder. Hy sal, soos in die vorige seisoene, insette vanuit die Kaap lewer. 

Hannes skryf La’t wiel se sukses daaraan toe dat dit steeds die enigste toegewyde Afrikaanse motorprogram op TV is. 

“Ons is dankbaar dat ons kykers na soveel jare steeds lojaal is en dat kykNET en natuurlik ons borg, We Buy Cars, dit vir ons moontlik maak om te doen. 

“Die onderwerp is motors, maar ons praat daaroor in alledaagse taal en raak nie te tegnies nie. Vir kykers kan dit vinnig vervelig raak,” sê Hannes.

Vandaar die vermaaklike trant wat deel van elke episode is.

“En buiten om goeie en eerlike joernalistiek aan die dag te lê, glo ons dit moet ook mooi wees vir die kykers. So, ons doen werklik baie moeite met die verfilming asook die plekke waar ons skiet,” sê hy.

Wat wag in die nuwe seisoen?

Kykers kan uitsien na ’n lekker mengsel van alledaagse rygoed tot peperduur en spoggerige weeldemotors.

Dit sluit byvoorbeeld die baie gesogte BMW XM in, wat jou R3,4 miljoen uit die sak kan jaag (mits jy dit in die hande kan kry). Hierdie vuurwa, die kragtigste produksiemotor uit BMW se stal, kan 0-100km/h in 4,3 sekondes haal.

Daar word ook na ’n string bakkies gekyk, waaronder die nuutste Volkswagen Amarok, wat sy gene met die 2023 Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar, die Ford Ranger, deel. 

Later in die reeks speel ’n Italiaanse liefdesverhaal af met Alfa Romeo se Stelvio-sportnutsmotor. Daar is ook ’n ontmoeting met ’n superslim BMW wat haar lyf TV-aanbieder hou. 

En dan wag daar ook ’n heerlike kuier met die bekendste “Supervan” van alle tye, die legendariese Sarel van der Merwe. 


La’t wiel begin op 3 Oktober 2023 om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies