Liewe Os,
Ek dink hierdie week verlang ek verskriklik erg na jou, juis as gevolg van Kokkedoor Vuur & Vlam. Dit het nou regtig nie gehelp met my winter-melankolie nie, want raai net wat was op die deelnemers se uitdaging-spyskaart? Sappige – en sekerlik peperduur – steaks wat ’n mens laat verlang na langer, sonnige dae, en nog groter salarisse!
Die hele episode lank het ek gedink aan jou en Pa wat rondom die vuur gestaan het daardie laaste winter op die plaas, toe hy jou probeer leer het hoe om die beste te maak van só ’n stuk vleis – en hoe jy teenstrydig amper alles andersom wou doen as hy. Wel, ek moet nou nogal sê, ná hierdie week dink ek Pa was dalk meer reg as jy! Ek het gelukkig die episode ge-PVR: indien jy en Madame Sheila dit tot hier maak in Desember, is dit die eerste ding wat ek vir jou gaan wys.

Dis natuurlik ’n bietjie vreemd om die nuwe spanne (en die botsende persoonlikhede) dop te hou, want ’n mens het nou al amper gewoond geraak aan die kombinasies van die vorige episodes. Dit laat my dink aan ’n episode van The Golden Girls waar Dorothy probeer het om op die vasvra-program, Jeopardy!, te verskyn. Toe sy ’n rede soek vir hoekom sy nie gekies is nie, ten spyte van haar intellek, was die antwoord baie voor die hand liggend: die vervaardigers het nie gedink dat Jan Alleman (wat tuis sit en die speletjie volg) haar sou aanneem, koester of aanhits om hoër hoogtes te bereik nie.
In Kokkedoor sit ek met dieselfde probleem. Van my gunstelinge is nou saam met minder begunstigdes, terwyl van die meer talentvolle mense (wat my verbeelding aangryp, en wie se talente ek beny) nou in ’n span is waar nie almal se talente gesamentlik die honger wolf in my wakker maak nie. En net soos wat ’n dokter vir sy laaste pasiënt onthou word, word ’n bobaas-bakster, -braaier, en -kok net onthou vir sy laaste bord. Kom ons hoop dat iets so eenvoudig soos ’n eenvoudige steak-braai nou nie van my persoonlike gunstelinge se einde gaan aankondig nie!

Nietemin, is die uitdaging weer een van daardie ‘lyk maklik, maar is eintlik moeilik’-takies. Bertus verwag klassieke spesialiteitsgeregte vir steak-fynproewers – en die vleis wat gebruik moet word is ’n T-bone steak. Kobus verwag presies dieselfde, maar sy keuse is die côte de boeuf, die Franse weergawe van ’n ribeye steak’. Gelukkig hoef hulle nie vir albei beoordelaars kos te maak nie: hulle trek lootjies om te sien vir wie hulle wat moet voorberei – en ook hoe lank hulle het om hul braaivernuf te toets.
Bertus beskryf hul verwagtings van ’n bord in hierdie uitdaging as ‘old school steaks met nuwe attitudes’ en Kobus wil ook ’n groente met ’n ‘twist’ sien – asook ’n stysel sonder ’n ‘twist’. Hulle moet ook ’n sous of geurbotter maak wat die vleis komplimenteer – en nie oordonder nie. Die spanne kry ’n ruim twee ure om hul beste te doen – maar die vleisstukke mag net in die bepaalde tyd van die lootjies gebraai word.
Mooie Kevin & Deelnemer Bertus
Hulle kry 40 minute voor hulle ’n bord voor Bertus moet plaas. By die proe is die sampioensous vir die beoordelaars doodgewoon; niks om oor huis toe te skryf nie. Dít terwyl die eiervrug-besigheid glad nie lekker is nie, en die gnocchi nie “lig” genoeg is om in ’n mens se mond te smelt nie. Die beoordelaars is dit wel eens dat die vleis goed gaargemaak is.
Anel & Ander Lara
Die span kry 50 minute om die taak vir Bertus te voltooi. Anel beskou haarself as ’n “low and slow”-mens, en is bietjie senuweeagtig oor die feit dat sy so ’n groot stuk vleis vir so ’n kort tyd op die kole mag plaas, terwyl Ander Lara nie uitgepraat kan raak nie oor die tegniek wat ingespan moet word om so ’n tamaai stuk steak reg gaar te maak. Op die ou einde word hul steak as “swart en vaal” beskryf. En hopeloos oorgaar. Hul boerekool-besigheid is vir Kobus lekker, maar nie een van die twee dink hierdie bord is die sous werd nie.
Karen & Gert
Hoe kry hulle dan nou 70 minute voor Bertus hulle lot moet bepaal? Gert gebruik ’n wenk van ’n vriend: sny langs die been van die T-bone indien jy dit lekker wil braai – en hy pas ook die KISS-metode toe: Keep It Simple Stupid. Hy glo ook nie dat jy die vleis moet versmoor met BBQ basting nie. Hy maak gebruik van ’n smeersousie wat bestaan uit botter, sout, beesvet, en beef stock (en ’n baie klein bietjie peper). Karen se bykosse lyk heerlik, maar Bertus herinner haar daaraan dat dit die vleis moet komplimenteer… Op die ou einde van die dag blaas hulle bord die beoordelaars se hare weg: die vleis is perfek (en die beoordelaars dink dit is omdat hierdie span geluister het na hul kritiek en daarmee gewerk het), terwyl die bykosse albei die beoordelaars nostalgies laat terugdink aan die steakhouses van die jare toeka.
Nicole & Ashley
Hulle het ’n uur om vir Kobus kos te maak. Nicole wil haar familie trots maak met haar deelname, terwyl Ashley net homself is – en berei kos uit sy hart voor. Op die ou einde van die dag is hul vleis bietjie van ’n probleemkind met die vet wat nog rou is. Maar hul bykosse beïndruk. Kobus is van mening dat hul bykosse alleen ’n wenbord kon gewees het, en dat dit jammer is die vleis is nie na wense nie.
Sover in die game het ek nog die meeste partners gehad. Ek is die Casanova hierso. So, sou ek huis toe gaan het ek darem daardie titel.
Ashley
Dominee Jan & Tjaart

Hulle het 50 minute voor hulle vir Kobus moet beïndruk. Janneman maak ’n basting-sousie met ’n bietjie olyfolie, pietersielie, en lemon zest. Hier teen die einde wonder Tjaart of daar nie iets kort met hul disse nie, want dit proe nie soos wat hy dink dit moet proe nie. Die beoordelaars beskryf hulle bord as ’n slegte verrassing, meerendeels omdat hulle ’n pragtige stuk vleis gekry het en slegs dit wat hulle kon red aan die beoordelaars bedien het. Die vleis is boonop rou, en glad nie wat verwag is nie, terwyl die res van die elemente op die bord smaakloos of oordonderend is.
Ek werk mooi met mense, want ek weet hoe dit voel om nie gehoor te word nie – of om misverstaan te wees, as dit ooit ’n woord is. So, ek maak altyd ’n punt daarvan om mense uit te hoor, hulle plek te gee. Dit is my manier om energie in mense in te stort.
Tjaart
Bertus en Kobus kan niks op die bord vind waarvan hulle eintlik hou nie. Ek wonder wat presies hier verkeerd geloop het, want Tjaat se normale “buite die braai”-denke het nie na vore gekom nie, en die dominee was nie so begeesterd met hierdie uitdaging soos die res nie. Is dit ’n persoonlikheidskonflik wat ongesiens die vet in die vuur gegooi het?
Joubert & Cindy
Hulle het 40 minute voor hulle Kobus moet verlei. Cindy is daarop gefokus om Joubert kalm te hou, terwyl Joubert daarop fokus om hierdie uitdaging te wen. Joubert is dankbaar dat hy en Borries nie vandag in dieselfde span is nie, want hy is van mening dat hulle albei weet hoe om te braai – en dit sou die taak op hande in ’n taai tweestryd verander het binne-in die span-dinamika. Cindy, aan die ander kant, moet haar eie vrese op die kole hou – want sy is in Kokkedoor Seisoen 2 juis in die vyfde episode huis toe gestuur. Maar sy is gereed vir die uitdaging: sy het nie verniet een egskeiding en twee borskankerstryde te bowe gekom nie! Die beoordelaars dink hul vleis is perfek, die slaai is heerlik, en die aartappels is goed. Die uietert is die enigste element op hul bord wat nie so fantasties smaak nie.
Nataan & Mandré
Die span kry ’n volle 70 minute voordat hulle vir Kobus moet bedien. Ek is nie seker of Mandré baie aandag as ’n kind gekry het nie, of hy net nie mensekennis het nie, en of die probleem dalk lê by die manier waarop hy praat nie, want dié mannetjie grief my net elke keer wat hy op skerm verskyn.
Wanneer hy hierdie week oor Nataan praat – en dit klink asof hy sarkasties is – begin my hande jeuk om iets te vermorsel. Nataan som dit so mooi op wanneer hy te kenne gee dat hy nodig het dat die seun kook soos wat hy nou kan kook – en nie soos wat hy eendag gaan kook nie. Ons het mos nou al in die vorige episodes agtergekom dat MINDER is MEER – maar hier wil die kind nou spinasie in sy stylsel druk! Mandré hoop hulle eindig op in die top-twee, want dan sal hy veilig voel.
Die beoordelaars kan nie uitgepraat raak oor die smaak van die vleis nie, maar hul bykosse stel hulle baie teleur. Ek het ’n idee dat Mandré dalk eerder sy ego moet verbrand en dalk meer luister na Nataan – want Nataan mag dalk eenvoudig dink, maar ten minste lewer hy kompleksiteit op ’n bord wat die tonge los maak.
Lara & Borries

Dié spannetjie kry ’n uur op die klok voordat Bertus hulle drome in skerwe kan laat spat. Lara se gebrek aan die regte woorde, en Borries se vermoë om sy eerlikheid met arrogansie te verwar, laat die tweetjies sommer met die opstel van die spyskaart al koppe stamp – en dit oor ’n “geïnspireerde aartappelkoekie”! Borries herinner Lara dat hy die morsige een in die kombuis is – en dit is duidelik dat Lara die teenoorgestelde van hom verwag.
Borries probeer die spanning verlig met ’n grappie en ’n laggie, maar dit blyk nie dat Laratjie dit waardeer nie. Dít hoewel sy dankbaar is dat hy die een is wat wil wys wie is baas met die voorbereiding van die vleis. Laratjie dink ook sy is net daar om mooi te maak – en dat dit haar rol is. Dit is bietjie teleurstellend om dit te hoor, maar die kind is nog jonk – sy sal nog leer wat dit behels om gesien te word as slegs die mooimaker in die kombuis…
Lara vat ’n vet gamble deur ’n bykos te maak wat sy nog nooit voorheen probeer het nie – en hoop dat die beoordelaars daarvan sal hou. What’s wrong with this picture? Is hierdie kompetisie juis nie om konstant jou beste voetjie voor te sit nie? Die kind moet nou net nie later haar nat-agter-die-ore trane weer verruil vir ’n emosionele selfkruisiging nie. Teen die einde erken Borries vieserig dat dit wat hy gesê het ’n probleem gaan wees, toe wel ’n probleem geword het – en voeg ook by: “Ons het die goed op die tafel gekry, maar ’n ou kan nie ’n final so wen nie.”
Die beoordelaars dink die vleis is perfek voorberei, maar die bykosse is beslis die probleem op die bord – nes Borries voorspel het. My raad aan Laratjie is om eerder maar te hou by die goed wat sy wel kan maak – en die eksperimente te los vir by die huis.
Kolekamer
Die spanning is só dik in die Kolekamer dat jy dit met ’n mes kan sny. Die beoordelaars kies Joubert en Cindy as die wenners van die côte de boeuf, terwyl die wenners van die T-Bone-braaispan van die dag Karen en Gert is. Die beoordelaars dink dat hierdie laasgenoemde span die perfekte balans gevind het in hul disse. Gert is erg emosioneel oor hierdie wen, terwyl Karen net bly is dit is nie hulle wat huis toe gaan nie. Die beoordelaars kan nie uitgepraat raak oor Karen se pampoenkoekies nie, ten spyte van die feit dat Bertus gedink het dat dit die vleis gaan oordonder. Dit herinner ’n mens net weereens om jouself nooit te betwyfel nie, en om altyd deur te druk met jou eie idees.
Vet is waar die smaak lê. (Hierdie een hoef nie net in kos-terme verstaan te word nie, Os. Sê vir Sheila dat ’n bietjie vet aan daai perdebylyfie van haar sal keer dat die wind haar wegwaai – en dat sy sal begin dryf in die see of swembad!)
Kobus
Joubert voel ook asof hy Kokkedoor gewen het met hierdie aankondiging. Dis nogal verfrissend om te sien hoe iemand trots is op homself, en dit herinner my ook weer aan daai Engelse sê-ding wat Ouma altyd by ons probeer indril het: “Celebrate the small victories!”
Maar soos wat daar wenners is, moet daar ook verloorders wees. Tjaart en Jan se bord was beslis nie na wense nie, en die beoordelaars spreek ook hul misnoeë uit oor die vleis-situasie. Anel en Ander Lara sit ook met ’n vleis-situasie want hulle vleis was oorgaar. Dit is vir Bertus en Kobus só erg dat nie een van die twee spanne die vleis perfek of naby aan perfek kon kry nie dat hulle – met ’n skok-aankondiging – besluit om albei spanne huis toe te stuur.
Ek moet sê dat my hart baie seer is oor Tjaart, want ek het regtig gedink die mannetjie gaan hierdie kompetisie wen. Anel en Ander Lara het my reeds in die vorige episode geïrriteer, en ek het ’n vermoede dat die dominee dalk te lig in die broek is vir hierdie kompetisie. Die beoordelaars se woord is wet, en albei spanne neem emosioneel afskeid van die res van die deelnemers.
Hierdie week is vir my rof, en nou dat Tjaart uit is, het ek so bietjie koue kole ontwikkel vir die res van die seisoen. Ek troos myself daaraan dat Mooie Kevin nog in is vir ’n ding… En dat ‘lekker ekke’-Ashley, asook Joubert nog in die kompetisie is. En soos met talle ander realiteitsreekse sal ek seker nog ’n paar gunstelinge ontdek wat nog nie in hierdie stadium die murg in hul pype ten toon gestel het nie. Maar vir nou treur ek eers oor Tjaart – want ek dink regtig hy verdien nog ’n kans, maar dalk nie hierdie keer in ’n braai-kompetisie nie.
Lees Sheila die skrywes van my saam met jou? Shame, ek moet seker bietjie een keer in Ingels ook probeer skrywe, sodat die stomme skoonsuster van my ook kan verstaan wat aangaan.
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die Week
Joubert: “Daar is baie maniere om ’n steak te braai, maar ek dink as jy rerig ’n duur snit vleis gebruik, moet jy net sout gebruik.”
Bertus: “Vir my begin die voorbereiding van ’n groot stuk vleis soos hierdie deur dit te vryf met genoeg sout. Jy wil hê daardie wonderlike proses van reverse osmosis moet gebeur, waar ’n klein hoeveelheid vloeistof moet uitkom, maar die sout gaan in die vleis in. Dit is baie belangrik vir so ’n dik stuk vleis. Die ander ding wat mense onderskat met hierdie tipe dik stuk vleis is die dik vet. Die vet het aandag nodig. Dit is gewoonlik met ’n stadige vuur om die vet uit te braai, en dan ’n stadiger vuur om die vet te laat karameliseer.”
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.