Menu terloops
In Wat om te kyk [1 Mei 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Die Goue Haan het finaal gekraai – en hier is S2 se wenners!


In die laaste episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ moet die finale vier deelnemers ’n feesmaal aan die Kapteinstafel voorsit wat geïnspireer is deur die deftige laaste maaltyd op die Titanic en dinge bereik kookpunt in die kombuis soos een span se bootjie sink…

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Die Goue Haan het finaal gekraai – en hier is S2 se wenners!

Oor die loop van dié seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam was daar dae wat die sonskyn min en die wind woelig was. Maar daar is vasgebyt en verstommende disse is gelewer, disse wat selfs die beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha tjoepstil gehad het – juis omdat dit so goed was.

In verlede week se semifinaal van Kokkedoor Vuur & Vlam moes die deelnemers sjef Jess van Dyk se ikoniese braai-dis met ’n Oosterse kinkel voorberei. Dit was ongelukkig nie onthoubraaier Jay Maan en sy kinkelbraaier-spanmaat, Mike van Rooyen, se dag nie. Te min tyd en baie spanning in die kombuis het hulle liederlik voor die laaste hekkie gepootjie.

Die viertal wat dus in die finaal meegeding het was kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria, saam met onthoubraaier Johan de Villiers (30), die operasionele bestuurder van Klein Roosboom (’n familieplaas naby Durbanville), teenoor Lorianne Heyns (44), uitvoerende sjef by Jéan Restaurant op die Klein Roosboom-wynlandgoed (einste Johan se familieplaas!) en haar onthoubraaier-spanmaat Benjie Benjamin (39), ’n hoogspanningselektrisiën by Eskom in Kimberley.

Maar net een span kon uitendelik met die louere wegstap: Lourens en Johan! 

Lourens en Johan wen R1 miljoen, geborg deur World Sports Betting. Lorianne en Benjie gaan nie met leë hande huis toe nie. Hulle ontvang R250 000 van lekkeslaap.

Kokkedoor Vuur & Vlam
Net een span kon uiteindelik met die louere wegstap en dit was Lourens en Johan. Foto: Verskaf
Kokkedoor Vuur & Vlam
Hulle het probeer, maar tweede plek vir Lorianne en Benjie is beslis nie te versmaai nie – die kompetisie was straf! Foto: Verskaf

Daai Goue Haan 

“Dis werklik ’n onbeskryflike gevoel om die Goue Haan te kon lig, maar ook die beste gevoel omdat ons twee so hard gewerk het vir daai oomblik! Daar is net iets van Johan se persoonlikheid, binne en buite die kombuis, wat mense aanlok na hom toe,” vertel Lourens oor sy spanmaat. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Johan en Lourens het ongelooflik goed saam in die kombuis gewerk. Foto: Verskaf

Ja, erken hy, hulle het ook maar hul oppe en awwe in die kombuis gehad en harde klippe was gekou om in die finaal op te eindig. En vir hom sal hierdie wen altyd die hoogtepunt van sy sjefloopbaan wees.

Op sy beurt, verklap Johan dat hy nooit as te nimmer homself in die finaal gesien het nie. “Om dit saam met iemand soos Lourens te kon deel, maak dit net soveel meer spesiaal. Die gevoel om saam as wenners te staan ná daai laaste vuur het my trots gemaak – op ons harde werk, die opofferings en die reis.”

Lekkerkry so tussen die swaarkry deur

Vir Lourens en Johan was die vriendskappe wat met die deelnemers en die produksiespan gesmee is, beslis een van die lekkerste aspekte van die reeks. “Dit was kosmaak met passie en adrenalien. Wat meer wil ’n mens hê?” kom dit van Johan. 

“Al die uitdagings was crazy cool! En ons het so baie geleer van die vuur-kultuur, plaaslik as ’n braai, maar ook hoe ander kulture wêreldwyd die kole inspan,” sê Lourens.

Kokkedoor Vuur & Vlam
Laaste bietjie raad van beoordelaar Bertus Basson aan Lourens. Foto: Verskaf
Kokkedoor Vuur & Vlam
Die laaste bietjie mooimaak voor die proe. Foto: Verskaf

Watter uitdaging het die wenners hoofbrekens gegee? “Die fyngebak/melktert-uitdaging is heel bo-aan die lys. Dis iets wat ek nooit gedink het wat ons verwag sou word nie, en ook iets wat ek nog nooit gedoen het nie,” meen Lourens. 

Vir Johan het dit in die laaste uitdaging gelê, want benewens die families wat kom kuier het, was daar baie goed wat in die kombuis moes gebeur en die tyd was skraps. “Ons het die spyskaart propvol gelaai omdat ons wou wys ons kán, maar dit het die druk net soveel hoër gemaak.”

Leerskool

Hoe dit ook al sy, hierdie was vir die twee braaiers ’n ware toets van spanwerk, fokus en uithouvermoë. En hulle het albei beslis baie lesse uit die reeks geleer. Johan sê hy het besef hy kan mense se energie goed lees. Dít help hom om kalm te bly en logiese besluite te neem. En dat dit heeltemal in orde is om meer vertroue in homself te hê.

Kokkedoor Vuur & Vlam
Die sweet tap Johan af voor die vlamme. Foto: Verskaf

Lourens vertel hy’t aanvanklik gedink dis bloot net ’n braai-kompetisie, maar aan die einde was dit soveel meer! Op persoonlike vlak het hy geleer watter soort man hy vir sy gesin en homself wil wees, asook watter tipe sjef hy in die kombuis wil wees. “Ek het ook geleer dat ek regtig nie so hard op myself hoef te wees nie. Om net so ’n bietjie te let go van die verlede en meer te leef en kook vir die toekoms.”

Die pad vorentoe 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Lourens en Johan se pad vorentoe klink besig en braai-erig. Foto: Verskaf

Lourens gaan aanhou as ’n vryskut-sjef op van die land se mooiste wildsplase. Hy is ook van plan om meer oopvuur-tegnieke toe te pas na aanleiding van dit wat hy tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het. 

Pretorianers moet ook op die uitkyk wees vir ’n paar lang tafels of opwip-geleenthede waar mense van sy disse kan geniet. En, beloof hy, dalk is daar dalk ’n melktert wat in die pizza- of Ooni-oond gemaak is, ook op die spyskaart.

Johan is ongelooflik opgewonde oor wat nou voorlê. Hulle het reeds by Klein Roosboom weggespring met braai-geleenthede wat tot en met Braaidag op 24 September vanjaar aangebied gaan word. “Ek wil ook inhoud begin skep rondom kos, vuur en die lewe. Ek dink dat al die geleenthede nou eers gaan begin kop uitsteek.”

Smullekker!

Hier is foto’s van al die heerlike geregte wat tydens die finale episode voorberei is.


Wees op die uitkyk vir Kokkedoor Son & See met glanssjef Herman Lensing en restaurateur Yolani Abrahams wat by Kokkedoor Vuur & Vlam oorneem. Die deelnemers moet familie wees – en dit gaan beslis amok in die hoenderhok veroorsaak . . . Die reeks sal November/Desember op die kykNET-spyskaart wees met R500 000 op die spel vir die wenspan!


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies