Daar is ’n stille krag wat om die aktrise Khadija Heeger hang wanneer sy by ’n stel instap. Dis dieselfde energie wat die skerm ophelder wanneer sy in die vel van Jasmine Louw klim – die formidabele, veelvlakkige matriarg aan die hart van Skemergrond, kykNET&kie se emosiebelaaide telenovela. Jasmine beheer haar wêreld met grasie en vasberadenheid – ’n vrou wat aanhoudend deur skandale, hartseer, lojaliteit en liefde navigeer. Tog is dit soms moeilik om te sê waar Jasmine eindig en Khadija begin – die vrou agter die karakter is op soveel van dieselfde maniere ewe meesleurend.
Khadija is ’n aktrise wat al baie lewens geleef het, diep liefgehad het, dapper geveg het en steeds bly groei, op en agter die skerm. Nou geniet Khadija, wat volgende jaar 60 jaar oud word, uiteindelik die stabiliteit van ’n hoofrol ná jare van sporadiese verskynings en kort reekse (waaronder Arendsvlei, Recipes for Love and Murder, Afgrond, Spinners en Devil’s Peak). Maar die pad hierheen was allesbehalwe maklik.
“Ek’s bly dit het nou gekom en nie toe ek jonger was nie,” sê sy. “Ek sou nie die uithouvermoë of self-awareness gehad het om (vroeër) só ’n rol te kon dra nie.”
Om Jasmine Louw, die hartklop van die Louw-familie in Skemergrond, uit te beeld, is immers geen maklike taak nie. Dis ’n veeleisende rol wat emosionele diepte, krag en sensitiwiteit vereis. Jasmine is nie net ’n matriarg nie – sy is ’n minnaar, ’n leier, ’n survivor en ’n vriendin. En Khadija bring elke faset van haar menslikheid met egtheid na vore.
Liefde én verlies
In haar eie lewe het Khadija ook al baie rolle vervul. As ma en ouma is haar pad deur moederskap deur liefde én verlies gevorm. Omdat sy self as kind aangeneem is en ’n hegte band met haar aangenome ma gehad, het dit haar begrip van moederskap, verby die grense van biologie, help vorm.
“Jy hoef nie geboorte te gee om ’n ma vir iemand te wees nie,” sê sy. “Daar is mense wat op soveel maniere mother – in vriendskappe, in werksplekke en in gemeenskappe. My geskiedenis het vir my ’n ander perspektief van moederskap gegee.”
Khadija is verfrissend eerlik oor die onvolmaakthede van haar verlede, selfs die tye toe sy nie emosioneel daar vir haar kinders kon wees nie. Haar stem versag wanneer sy praat oor die kind wat sy gevolglik destyds laat aanneem het. Dit is nie iets waaroor sy spyt is nie; sy beskou dit eerder as ’n liefdesdaad. “Toe ek hom (jare later) ontmoet en hoor van die lewe en grootwordjare wat hy gehad het… Toe weet ek dat ek die regte keuse gemaak het.”
Jy hoef nie geboorte te gee om ’n ma vir iemand te wees nie. Daar is mense wat op soveel maniere mother – in vriendskappe, in werksplekke en in gemeenskappe. My geskiedenis het vir my ’n ander perspektief van moederskap gegee.
Khadija Heeger
Sy vertel dat Moedersdag vir baie jare nie vir haar ’n viering was nie. “Ek het dikwels gedisassosieer net om te cope. Maar nou besef ek, ek het myself laat ly om beter te voel oor die werklikheid,” deel sy. “Maar soos ek oor die jare gegroei het, aan myself gewerk en genees het, het dit ’n tyd van opregte dankbaarheid geword.”
‘Alles wat ’n vrou regtig is’

Dis juis haar eerlikheid wat mense na haar lok, en wat van Jasmine dan so ’n weerklinkende karakter maak.
Op die skerm het Khadija van die begin af daarop aangedring dat Jasmine nie as ’n eendimensionele “tannie van die platteland” gespeel word nie. Sy wou hê Jasmine se romantiese verlede, haar emosionele diepte, haar vriendskappe en haar seksualiteit moes elk hul eie plek kry – nie net saamgesmelt word tot ’n ma-karakter nie.
“Ek wou hê sy moes alles wees wat ’n vrou regtig is,” verduidelik sy. “Want die samelewing probeer al vir hoe lank om vroue in boksies te plaas. Jy’s óf dit óf dat. ’n Feminis of nie. Te veel of te min. Maar ons is alles. Net soos my ma was.”
Khadija onthou haar ma as meer as net ’n ma. “Sy was lewendig, het mense laat lag, gedans, verlief geraak. Maar as kind het ek haar net as myne gesien. Dit het jare geneem om te besef dat sy ’n hele mens was, en daardie les dra ek steeds saam met my.”
‘Wonderwerk’
Die rol van Jasmine, met al sy emosionele hoogte- en laagtepunte, verg nie net talent nie maar ook uithouvermoë. En Khadija erken dít het haar onkant gevang. “Dis baie,” sê sy met ’n glimlag. “Geestelik én fisiek. Ek was uitgeput in die begin. Ons praat baie oor die glans van ’n vaste akteurswerk, maar nie genoeg oor die impak wat dit op jou het nie.”
Daar was soveel punte waar dinge maklik die ander kant toe kon gaan. Ek was verlore. Maar ek het mense gehad wat my liefgehad het, wat my gehelp het om anders na die lewe te kyk.
Khadija Heeger
Tog is sy dankbaar – en beskermend oor die geleentheid. “Om my eerste eiendom op 58 te kon koop, het soos ’n wonderwerk gevoel. En ek sê dit nie ligtelik nie.”
Inderdaad, “wonderwerk” is die woord waarmee Khadija haar hele lewe beskryf. “Daar was soveel punte waar dinge maklik die ander kant toe kon gaan. Ek was verlore. Maar ek het mense gehad wat my liefgehad het, wat my gehelp het om anders na die lewe te kyk. My vriende en suster het my gehelp om wakker te word.”

Eerste liefde
Wanneer sy nie op stel is nie, vind Khadija troos in poësie – haar eerste liefde. “My ma het my as kind na dramaklasse geneem, maar poësie het eers later gekom, ná haar dood. Dit het my uitlaatklep geword,” sê sy.
“Poësie is kaal. Dis jou waarheid, jou woorde, jou emosie. Toneelspel is presies dít, om ’n karakter eg uit te beeld, maar poësie ontbloot jou. Dis net jy wat ’n stukkie van jouself gee.”
Miskien is dit juis hierdie diep verbintenis met haar eie waarheid wat Khadija só kragtig op die skerm maak. Sy tree nie net op nie – sy bring dele van haar eie siel na elke toneel, en nooi die gehoor in om te voel, te verstaan en te vereenselwig.
Of dit nou deur Jasmine Louw is, ’n rou gedig op ’n verhoog, of ’n stil oomblik saam met haar kleinkinders – Khadija bly ’n moeder. In alle vorms wat daardie woord kan aanneem.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.