Menu terloops
In Wat om te kyk [25 Sep 2024]

Jy kan dié nuwe Silwerskermfees-dokkies vandeesweek kyk


Die Silwerskermfees se program is verlede jaar uitgebrei om ook kort dokumentêre in te sluit, en vanjaar het dié kategorie vier merkwaardige stories opgelewer. Dié dokkies word hierdie Saterdagaand, 28 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Jy kan dié nuwe Silwerskermfees-dokkies vandeesweek kyk

Hierdie Saterdag, 28 September 2024, om 20:00 word die volgende Silwerskermfees-dokkies op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai: Maak stil die geblaf, Tussen die draad en die dropper, Vergeet van my, en By die soutwater.

Dit is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar – só ook al die ander kortfilms wat vanjaar by die fees première het.

Maak stil die geblaf

  • Wenner van die 2024 Silwerskermtoekennings vir beste dokumentêr en beste regie in ’n kort dokumentêr (Marisa van Tonder)

Maak stil die geblaf, met regie deur Marisa van Tonder, draai om ’n groepie elfjarige kinders en hul honde. Soos dié kinders van ’n plaasgemeenskap in De Doorns vir Tiger, Fluffy, Sussa en Lady leer hoe om oor hekkies te spring en deur tonnels te kruip, word hulle ook wys oor die lewe. ’n Deernis vir diere ontwikkel by die groep. Boonop vind hulle ook hul eie stemme soos hulle ’n pad vorentoe probeer uitkerf.

Marisa, ook die dokumentêr se vervaardiger, vertel dat sy in 2019 met Sidewalk Specials en The Underdog-projek, wat deernisklasse teenoor diere aanbied, begin saamwerk het. Een pandemie en ’n nuwe babatjie later, het haar pa haar vertel van die een of ander filmkompetisie en haar aangemoedig om in te skryf. Dit was natuurlik die Silwerskermfees.

“Dit was die heelal se boodskap aan my om buite my gemaksone te beweeg,” vertel sy. En so het Maak stil die geblaf as ’n dokumentêre inskrywing by vanjaar se Silwerskermfees beland.

Lees Annelene Oberholzer se onderhoud met Marisa.

Tussen die draad en die dropper

  • Benoem vir die 2024 Silwerskermtoekennings vir beste dokumentêr en beste regie in ’n kort dokumentêr
Tussen die draad en die dopper, hans jors, Silwerskermfees
’n Toneel uit Tussen die draad en die dropper. Foto: Verskaf

’n Besonderse storie ontvou as die fotojoernalis Willem van der Berg na die Hardemanskaroo terugkeer op soek na ’n verlore draadspanner, Hans Jors, in die dokumentêr Tussen die draad en die dropper.

Willem het ’n jare lange en noue verbintenis met Hans die draadspanner. Maar dan kry hy nie vir Hans opgespoor nie. En die boer vir wie Hans ’n hele Karoo-koninkryk toegespan het, wil niks sê nie.

In dié dokkie word die raaisel rondom Hans losgetorring terwyl skrille kontraste in ’n verdeelde gemeenskap na vore kom. Willem dien as vervaardiger en regisseur, en Conrad Bornman as kinematograaf.

Willem sê dat hy alles moontlik doen om stories “weggesteekte” lewens soos Hans s’n te vertel. “Hans en al die ander mense waaraan niemand ooit dink nie, het my vir seker laat besef dat daar so baie en soveel belangrike stories is wat verlore gaan. Dit was van die begin van my joernalistieke loopbaan vir my belangrik om by daardie stories uit te kom. Die laaste paar jaar voel dit soos my lewenstaak en plig.”

Lees ons volledige onderhoud met Willem.

Vergeet van my

  • Wenner van die 2024 Silwerskermtoekenning vir beste redigering in ’n kort dokumentêr (Pierre-Arnold Theron)

’n Stowwerige swart krat met foto’s, joernale en plastieksakke vol van DV8-videokassette wat ’n musiektoer vasgevang het, was maar net die begin van ’n projek wat later in die dokumentêr, Vergeet van my, omskep sou word.

Toe die akteur, draaiboekskrywer en voormalige tromslaner van Zinkplaat, Beer Adriaanse, op ’n skatkis van herinneringe wat hy gedink het vir ewig verlore was, afkom, was hy nie seker wat om daarmee te maak nie. Maar Dirkie van der Merwe, wat saam met Beer die einste musiektoere gereël het wat daardie herinneringe – die skatte in daai krat – help skep het, het hom oortuig dat daar ’n storie onder die stof lê. En dat dié storie, een van dobberende ontdekking, grootword en jeugdige rebellie, op ’n skerm hoort.

Vergeet van my, wat onder die vaandel van DPK Productions geskep is, verloop baie soos die lees van ’n storieboek met Beer as verteller en die uitsluitlike gebruik van argiefmateriaal. 

Lees Rozanne Els se onderhoud met Dirkie en Beer.

By die soutwater

By die soutwater, Silwerskermfees

By die soutwater, ’n dokumentêr deur Marguerite Venter en die Two Oceans Aquarium-stigting, belig ’n ander kant van die V&A Waterfront in Kaapstad. Hiér werk ’n span van die stigting, ’n toegewyde groep marinespesialiste, wetenskaplikes en vrywilligers, onverpoos om stedelike seediere, van seevoëls tot robbe, in dié werkende hawe waar toeriste boonop ook saampak, te beskerm.

Tog, ten spyte van hul toewyding en die werk wat hulle doen om konflik en die impak van uitbreidings by die hawe op die diere te beperk, trotseer hulle ook hartseer met hul waarneming van die lyding van diere. Dít is ’n seer wat hulle volhardend bly aanpak in hul strewe na ’n beter verhouding tussen mens en dier.

Lees die volledige onderhoud met Marguerite wat as regisseur, vervaardiger en mede-redigeerder aan dié dokkie gewerk het.


Al die kortfilms van 2024 se Silwerskermfees is tans op Catch Up/DStv Stream beskikbaar om te stroom. Die dokkies sal ook ná uitsending beskikbaar wees om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies