kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, vertel die storie van ’n nuusspan wat die bulletin vir die aandnuus op televisie saamstel.
Die fokus is hoofsaaklik op Rolanda Marais se karakter, die gesoute nuusleser Adri Joubert. Maar as Adri deur ’n persoonlike tragedie getref word, beleef sy hoe haar eie lewe nuus word. Terselfdertyd ruk ’n nasionale krisis ook die land en die nuusspan loods dan ’n indringende ondersoek.
Ook in die rolverdeling tel Anrich Herbst as Adri se altyd-ondersteunende man, Dawid en Brendon Daniels as die nuusspan se vervaardiger, Johan. Arno Greeff speel Kyle, ’n jonger joernalis wat sy merk wil maak. Roeline Daneel verskyn as Karla, ’n veldverslaggewer wat enigiets sal doen om die storie te kry. Lea Vivier vertolk Melanie, ’n sakekonsultant wat die lewensvatbaarheid van die kanaal ondersoek.
Nog akteurs wat deel van die stewige rolverdeling te sien is, sluit in Lesley Maasdorp, Hannah Borthwick, Chris van Rensburg, Chris van Niekerk, Heinrich Wentzel, Susanne Beyers, Dorette Potgieter en Melissa de Vries. Spelers soos Neels van Jaarsveld, Loren Loubser, Nahum Hughes en Kristen Raath maak ook hul verskyning.
Die foto’s is deur kykNET verskaf.
Die nuusmakers word vervaardig deur Both Worlds (Recipes for Love & Murder), onder leiding van Karen Jeynes, Thierry Cassuto, en Annemarie Du Plessis (Koek). Jeynes skryf en regisseer ook. Sy is ook saam met Marvin-Lee Beukes agter die kamera. Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter dra by tot die skryfwerk.
Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.