Menu terloops
In Gons [10 Sep 2024]

‘Een keer om die son’ kry groenlig vir tweede seisoen op kykNET


Daar was vreugde en trane, woede en oomblikke van klaarheid en kalm, verstrengelde geheime en, uiteindelik, eerlikheid. Ivan Botha en Donnalee Roberts se gesinsdrama ‘Een keer om die son’ se eerste seisoen was ’n realistiese blik op die lewe van ’n familie oor die verloop van ’n jaar. En planne vir ’n tweede seisoen is pas bekendgemaak.

Kyk op Catch Up

‘Een keer om die son’ kry groenlig vir tweede seisoen op kykNET
Kyk lokprent

Reeds van die eerste episode van die dramareeks Een keer om die son, het kykers laat weet: hierdie is ’n wenner! Die reeks, met Ivan Botha en Donnalee Roberts aan stuur van sake, het vir twaalf episodes die lief en leed van die Van Wyk-familie gevolg.

Ronél van der Merwe het op kykNET se Facebook-blad geskryf: “Elke episode is net beter as die vorige een.” Atoofah Fredericks het op hul beurt laat hoor: “Sjoe, maar dis ’n mooi storie. Goeie akteurs en aktrises. Welgedaan aan die skrywers. Julle verdien ’n Oscar!” Anna Havenga skryf sy was sonder woorde. “Soveel hartseer, lag, ware lewensdrama. Die trane het weer geloop. Die beste reeks. Welgedaan aan die skrywers en elke speler. Puik reeks!” 

Een keer om die son
Een keer om die son het ’n briljante rolverdeling wat, buiten Donnalee Roberts, onder andere ook vir Jacques Bessenger, Liam Bosman en Alma van Heerden insluit.

Dís hoekom reeks met mense praat

“Ek dink dit is ’n kombinasie van dinge wat bymekaar gekom het, maar ek dink nie ons het besef hoe honger kykers was vir die temas – angs, depressie, selfdood, familie, lief, leed – wat gesprekke oopmaak nie,” sê Ivan oor hoekom die reeks so met mense gepraat het. “Ons is dankbaar dat ons instrumente in hierdie proses was.”

Ons staan in totale dankbaarheid dat mense nie net gekyk het nie, maar saam gevoel het… Die reeks het werklik gesprekke oopgemaak.

Donnalee Roberts

“Mense kan hulself in hierdie situasies sien,” sê Donnalee. “Almal van ons het al iemand verloor en deur pyn en verlies gegaan. In Suid-Afrika word sekere dinge net onder die mat gevee en toe ons begin skryf het, was dit vir ons belangrik om dit aan te spreek. Jou familie is die plek waar jy veronderstel is om die veiligste te voel, maar soms is dit juis die plek waar jy nie veilig voel nie omdat hulle nie die mense naaste aan hulle wil teleurstel nie.” (Lees ook ons onderhoud met Donnalee.)

Donnalee vertel sy is veral geraak deur iemand wat gesê het Een keer om die son “gee haar die reg om een keer ’n week te huil. Dan huil sy sommer oor alles! Dit het dus soveel heling vir mense gebring.” 

Donnalee voeg by: “Ons staan in totale dankbaarheid dat mense nie net gekyk het nie, maar saam gevoel het. Honderde boodskappe van oral. Ek was selfs in ’n ry in Woolworths waar ’n vrou met my begin praat het en toe ek weer sien praat die hele ry saam oor waarmee hulle kon vereenselwig en waaroor hulle gelag en gehuil het. Die reeks het werklik gesprekke oopgemaak.” 

Eerste TV-reeks vir skeppersduo

Donnalee Roberts en Ivan Botha op die stel van Een keer om die son.
Donnalee Roberts en Ivan Botha op die stel van Een keer om die son. Foto: Verskaf

Hoewel Ivan en Donnalee reuse-sukses behaal het met speelfilms soos Pad na jou hart en Vir altyd, was hierdie die eerste TV-reeks wat hulle aangepak het.

“Ek dink ons het ’n uur nodig om te sê wat ons alles geleer het,” sê Ivan laggend. “Maar ek sal met ’n volgende reeks die drie maande van verfilming meer geniet. Dit gaan so vinnig verby.” 

Donnalee is vol lof vir Ivan as regisseur. “Ek sê dit nie omdat hy my man, my beste vriend en my venoot is nie – hy is ’n ongelooflike regisseur. Hy het almal op stel so gewaardeer laat voel en dit reggekry om onder soveel druk almal kreatiewe vryheid te gee.” 

Wat kan kykers van die tweede seisoen verwag? 

“Ek is selfs meer opgewonde oor die tweede seisoen as die eerste,” sê Ivan. “Ek dink daar is soveel lewenservarings waardeur jy die karakters kan laat gaan. By my kom die idee van tweede kanse op, maar ook ou wonde en ou gewoontes waarin mense verval. Daar is ’n paar nuwe karakters, maar natuurlik ook die karakters wat kykers in die eerste seisoen leer ken het. Ons werk hard as ’n span om weer vir kykers alles te gee wat hulle uit die eerste seisoen gekry het.” 

Die beoogde uitsaaidatum van die tweede seisoen van Een keer om die son is in 2026. Kyk die eerste reeks solank op DStv Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies