Menu terloops
In Wat om te kyk [12 Mei 2022]

Disney+ se reuse-vermaakaanbod wag op Suid-Afrikaners


DStv-intekenare het vanaf 18 Mei toegang tot Disney+ via die Explora Ultra-dekodeerder. Dis ’n geleentheid om nuwe televisiegenres te verken, want Disney+ is ’n plek waar ’n mens programme vind wat nie in normale boksies pas nie.

Deur André-Pierre du Plessis
Disney+ se reuse-vermaakaanbod wag op Suid-Afrikaners

Disney+ is ’n stroomdiens wat bykans drie jaar terug op die been gebring is om een bestemming te skep vir die wêreld van Disney. ’n Wraggies reusagtige vermaakwêreld wat die Simpsons, Muppets, Star Wars, ESPN, National Geographic, Marvel en Pixar insluit. Hoewel ’n mens dalk sou dink dat dit slegs bedoel is vir ouers wat hul kinders wil besig hou, is daar wel ’n string programme wat die ouer garde ook sal vermaak.

Oorspronklike reekse

Behalwe dat jy nou toegang het tot jou gunsteling-animasieprogramme wat Saterdae op K-T.V. van ouds, of Sondae tydens M-Net-oopkyktyd gewys het, het Disney ’n spul oorspronklike reekse vervaardig in samewerking met verskeie bekende Disney-afdelings soos Marvel en Pixar.

As jy byvoorbeeld ’n groot Marvel-aanhanger is, sal jy WandaVision, Loki en Moon Knight wil kyk. Uit dié drie sou ek voorstel jy begin met WandaVision. Dis een van die oorspronklikste programme is wat oor die laaste paar jaar vervaardig is. Die rede daarvoor is dat dit nie binne die tradisionele grense van enige spesifieke genre pas nie. Die skeppers het doelbewus probeer om ’n aksiefliek se karakters in ’n komedie-, drama- en rillerreeks te verplaas. Die gevolg is ’n ongewone program waarby meer as net Marvel- of superheld-aanhangers kan aanklank vind. Dis die tipe program wat jy waarskynlik saam met jou ouma kan kyk – of sy nou weet wie Wanda Maximoff of Vision is of nie.

WandaVision
Elizabeth Olsen in ’n toneel uit WandaVision op Disney+. Foto: Disney+

Hulu-reekse

Omdat Disney ’n aandeel besit in die stroomdiens Hulu – wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie – kan jy Hulu-programme ook op Disney+ sien. Nes Netflix skep Hulu ook ’n spul oorspronklike reekse waarvan The Handmaid’s Tale waarskynlik die bekendste een is. Meeste van hul ander reekse is nog nooit deur M-Net of enige ander plaaslike kanaal tuisgebring nie. Wat natuurlik beteken daar is ’n hele lot oorspronklike reekse wat jy nog nooit elders (wettiglik) te siene kon kry nie.

’n Persoonlike gunsteling is Only Murders in the Building met Steve Martin, Martin Short en Selena Gomez. Dié drie woon in dieselfde woonstelblok waar ongewone moorde die een na die ander plaasvind. Saam begin hulle ’n potgooi in ’n poging om self die moordraaisels op te los. Martin en Short werk al jarre saam en hul comedy chemistry is blink-briljant.

Dan kan jy ook Hulu se nuwe reeks oor die Kardashians kyk wat verlede maand in Amerika begin het. Ná 15 jaar op E! het die omstrede familie in 2021 ’n einde gebring aan Keeping Up With the Kardashians. Kort daarna het hulle ’n nuwe ooreenkoms met Hulu vir 40 episodes van ’n nuwe reeks aangegaan. Maar met die dat The Kardashians nou Hulu se suksesvolste oorspronklike reeks is, gaan ons waarskynlik veel meer van Kourtney, Kim, Khloé, Kendall, Kylie en Kris op Disney+ sien.

Ongewone, uitgerekte dokumentêre reekse

Daar is ook ’n hengse spul obskure programme wat jy op Disney+ sal vind. Dis nou mits jy die moeite doen (en tyd het) om deur hul geweldige groot biblioteek te gaan snuffel. Daar is byvoorbeeld ou dokumentêre programme soos oor Walt Disney en sy droom om eendag Disneyland te bou. Dis fassinerend vir enigiemand met ’n belangstelling in die geskiedenis van hierdie fabelagtige man. Disney+ het ook ’n tipe stortingsterrein geword vir ryk filmmakers met heeltemal te veel tyd op hulle hande.

Die bekroonde Lord of the Rings regisseur Peter Jackson het byvoorbeeld ’n dokumentêr oor die Beatles gemaak wat agt ure lank is. Jackson het afgekom op 55 uur se beeldmateriaal wat nog nooit van tevore gesien is nie waarin die Beatles aan ’n konsert werk, baklei, amper opsplit en meeste van die tyd net rondsit en niks doen nie. Met Get Back bied Jackson ’n verkorte weergawe daarvan aan wat, hoewel elke episode amper drie ure lank is, die meeste Beatles-aanhangers as veels te kort sal beskou.

Nostalgiese animasiereekse

As jy met M-Net grootgeword het, sal Disney+ jou laat voel asof jou kinderherhinneringe skielik meer toeganklik as ooit tevore is. Ek het ’n geweldige hoeveelheid tyd voor die kassie spandeer in die 1990’s. Dus was ek geweldig bly om te ontdek dat elke liewe episode van Goof Troop, Rescue Rangers, Duck Tales, Darkwing Duck, Gargoyles, Recess, Timon and Pumbaa en Doug (onder andere) nou tot my beskikking is. Na my mening is dit die heel beste medisyne vir enige dag wat jy die blues het. Dit gaan boonop handig te pas kom tydens wat waarskynlik ’n helse koue winter gaan wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies