Menu terloops
In Sepies [10 Okt 2024]

Eksklusief: Dís wat Jawaahier Petersen se swangerskapnuus vir ‘Suidooster’ se Kaashifa beteken


“Die dag toe ek hoor ons gaan oor ’n paar weke Kaashifa se swangerskap begin skiet, was ek geheel en al onbewus daarvan dat ek sélf swanger is,” vertel die aktrise Jawaahier Petersen. Sy verklap meer oor wat nou vir haar ‘Suidooster’-karakter voorlê.

Stroom 'Suidooster'

Eksklusief: Dís wat Jawaahier Petersen se swangerskapnuus vir ‘Suidooster’ se Kaashifa beteken

Die Suidooster-aktrise Jawaahier Petersen het in die nuutste uitgawe van Kuier-tydskrif onthul dat sy swanger met haar derde kind is. Sepiekykers is reeds aan die gons oor wat dit vir haar karakter, Kaashifa, se storielyn beteken. 

terloops kan eksklusief onthul wat Suidooster-aanhangers te wagte kan wees. 

Kuier, Kaashifa, Suidooster, Jawaahier Petersen

Jy as Jawaahier verwag nou jou derde kind, en na ’n uitdagende jaar vir die Samsodiens, gaan Kaashifa ook nou swanger raak. Verklap bietjie hoe die storielyn ontvou. Is jou Kaashifa se swangerskap-tydlyn met joune belyn?

“Dis eintlik ’n funny storie oor Kaashifa se swangerskap. Colin Howard, ons kreatiewe vervaardiger, het verlede jaar al gesê dis op die kaarte vir 2024. Kaashifa se swangerskap-storielyn is lank voor my eie geskryf.

“Die dag toe ek hoor ons gaan oor ’n paar weke Kaashifa se swangerskap begin skiet, was ek geheel en al onbewus daarvan dat ek sélf swanger is. Kaashifa is nou ’n bietjie verder gevorderd in haar swangerskap as Jawaahier, maar nou hoef ek nie voor te gee as Kaashifa met oggendnaarheid sukkel of moeg is nie… In die episode wat op Maandag, 14 Oktober uitsaai, kry sy en Rhafiek bevestiging dat hulle ouers gaan word. 

“Met Kaashifa en Jawaahier se swangerskap is ons twee dieselfde. Ons doen nog steeds goed, ons werk, ons is nog steeds aan die gang. Jawaahier het dieselfde dryfkrag in haar as Kaashifa. Al is ons swanger, doen ons net ons ding!”

Rhafiek (Irshaad Ally) is natuurlik opgewonde om pa te word. Maar dink jy hy het vrese oor Kaashifa se swangerskap – veral nadat sy en Carmen (Desiré Gardner) se seuntjie Mikhal kort ná geboorte dood is?

“Ek dink vir enigiemand wat deur so ’n verlies en trauma gegaan het – een van die ergste dinge wat met ’n ouer kan gebeur – selfs al besef jy dit nie, daai vrees leef in jou agterkop voort. 

“Dis nie iets wat Kaashifa en Rhafiek saam ervaar het nie, want hy was natuurlik nog getroud met Carmen. So, dis iets wat Kaashifa moet verstaan en deernis en simpatie vir Rhafiek moet hê terwyl hy hierdie proses navigeer. Dit moet baie moeilik vir hom wees.”

Suidooster, Jawaahier, Kaashifa
Mymoena (Jill Levenberg) is oorstelp van vreugde as sy die nuus hoor. Foto: Verskaf

Mymoena (Jill Levenberg) kan seker nie wag om vir die tweede keer ouma te word nie. Gaan sy haar plek ken? Of gaan sy ’n oorbeskermende skoonma wees?

“Sy is skoonma, maar sy was eers ma vir Kaashifa gewees. Daardie lyne kan soms ’n bietjie kruis tussen ma en dogter. En om sake verder te kompliseer, is daar die bykomende lagie van ma en skoondogter. 

“Mymoena en Kaashifa deel gereeld goed met mekaar soos tussen ’n ma en dogter die geval sou wees. Maar nou kom die element by dat sy met Mymoena se seun getroud is. Gaan Mymoena van nature haar kind se kant kies? Of gaan sy Kaashifa se kant kies, iemand wat sy ook as haar dogter beskou?

“Maar aan die einde van die dag is Mymoena so ’n liefdevolle omgee-mens en haar bedoelings is altyd goed. Ons weet wel Kaashifa kan gou warm onder die boordjie raak en situasies kan verkeerd opgesom word. Sy is baie gou op die agtervoet. Dit sorg vir interessante storielyne.”

Gaan Kaashifa as swanger vrou die fort kan volhou by Oos Wes as eienaar en sjef? 

“Kaashifa dink sy kan alles doen. Kaashifa dink sy’s ’n seekat met al die arms wat by alles kan uitkom, maar sy gaan baie vinnig besef dat dit nie so gaan werk nie. 

“Sy sal maar ’n ander plan moet maak met Oos Wes want sy gaan haar hande vol hê met ’n ander groot projek, ’n groot droom wat sy gehad het – ’n nuwe fynproewer-restaurant wat eindelik op die horison verskyn. Dit, nes die baba wat sy verwag, word ook ’n nuwe baba vir haar.

“Gaan sy daartoe in staat wees om al die balle in die lug te hou? Dis die groot vraag.”

Wat is vir jou die lekkerste van ma-wees?

“Ek gaan nie jok nie. Om ’n ma te wees, om ’n ouer te wees, kom met baie, baie uitdagings. Ek meen, ek het ’n meestersgraad in sielkunde, ek het vir baie jare met jong mense gewerk, maar niks kan jou voorberei vir wanneer jy jou eie kinders het nie. You’re just winging it en hoop vir die beste en jy doen dit met die beste bedoelings.

“Maar jy twyfel deurgaans aan jouself en jy voel gereeld skuldig dat jy dalk nie genoeg vir jou kinders doen nie. Of nie genoeg dáár is vir hulle nie.

“Dan duik daardie oomblikke op wanneer jou kinders uit die bloute vir jou sê: “Hey, Mom, I love you”. Of “Mom, kan jy vir my hierdie kos maak want jy maak dit die beste”. Of jou kinders doen iets wat jou net so ongelooflik trots op hulle maak.

“Dit maak al die uitdagings en opofferings die moeite werd.”


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies