Menu terloops
In Recaps & Resensies [11 Okt 2022]

‘Diepe Waters’ vinnig uit die blokke met tergende intrige


Die skeppers van die nuwe kykNET-telenovela, ‘Diepe Waters’, het intrige, spanning en drama belowe – die eerste week se episodes het beslis nie teleurgestel nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Diepe Waters’ vinnig uit die blokke met tergende intrige
Kyk lokprent

As jy nog nie van Diepe Waters gehoor het nie, moet jy onmiddellik die episodes wat jy gemis het op DStv Catch Up gaan soek. Dié nuwe reeks het ná sy eerste week op die kassie al meer lae as my ouma se trifle. Dít wil gedoen wees. Die skrywers wou oënskynlik niks aan toeval oorlaat nie en eerder seker gemaak dat daar genoeg storielyne is om ’n diverse gehoor se aandag te trek – en te hou.

Diepe Waters Lea Vivier
Wat op aarde het Meghan (Lea Vivier) aan Zelda (Sandi Schultz) gedoen? Foto: Verskaf/kykNET

Goeie begin

Gewoonlik vat dit ’n rukkie vir nuwe shows om my in te trek, maar nie hierdie een nie. En hoe dan anders as dit met ’n raaisel uit die blokke vlieg? Die intrige het sommer in die eerste toneel begin, met ’n lyk wat tydens ’n partytjie by die swemklub op die water dryf. Al die gaste het dieselfde kostuum en masker aangehad – so ook die lyk – so jy kon nie regtig sê wie almal teenwoordig is nie. En dit dra natuurlik by tot die spanning en prikkel jou nuuskierigheid! Die moordenaar kan letterlik enige van karakters wees.

Die openingstoneel het my wel ’n bietjie verwar. Trouens, ek moes ’n tweede keer gaan kyk. Teen die einde van die vierde episode het dinge egter begin sin maak… én nog vrae ontlok. Soos wat presies is Gys (Justin Strydom) en Zelda (Sandi Schultz) se verhouding? En hoekom wil sy so graag teen sy familie wraak neem? Is dit dalk hy wat daar gedryf het? Dan wil ek ook natuurlik weet wat presies Zelda bedoel het toe sy vir Meghan (Lea Vivier) haar trougeskenk gee en sê “jy weet mos hoe om ’n mes te gebruik”. Meghan was daarna skielik bleek in die gesig. Wat steek Meghan weg? En al het sy reeds in die eerste episode vir Zelda ingedoen, wou sy dalk vir haar permanent stilmaak?

Karakters met geraamtes in die kas

Dit is nou wel ’n splinternuwe telenovela, maar ek was aangenaam verras oor hoe bekend die karakters en storielyne voel. (Lees ook ‘Wie’s wie in Diepe Waters‘ vir meer oor die karakters.)

Die karakters het diepte, ’n mens voel asof jy hulle al vir jare ken. Tog is die geheime wat die karakters wegsteek, hoewel verborge, uit die staanspoor tasbaar. Dis net ’n geval van hoe, wanneer, waar en hoekom dié geheime ontbloot gaan word.

Ons almal ken ’n Lettie (Stephanie Baartman), die eienaar van die gewilde uithangplek. Sy is ’n moederhen; die tannie wat vir jou ’n ekstra groot sny koek gee – of dit nou is omdat jy ’n slegte dag gehad het of dalk omdat jy iets het om te vier.

Ons almal ken ’n Sanet (Nadia Valvekens). Iemand wat dink die son skyn uit haar agterkant en dat sy die perfekte vrou en ma is. Dít terwyl haar aksies en verwagtinge van haar kinders onrealisties is en die teenoorgestelde van ’n ondersteunende ma is. Ek dink ons gaan baie van Sanet sien. Ek kon sommer vinnig agterkom dat sy haarself in ander se pyn verlekker terwyl haar lewe geensins perfek is nie. Ek wonder wat in haar lewe verkeerd gegaan het dat sy nou deur haar kinders en skoonfamilie se sukses haar reputasie wil bou. Sanet versmoor haar dogter, terwyl haar seun ’n regte brat is.

Diepe Waters op DStv
Nadia Valvekens as Sanet in Diepe Waters. Foto: Verskaf/kykNET

Die aktrise Danielle Swanepoel is wel nog in matriek, maar sy laat Karla soos ’n ou bekende op my skerm voel. Dié nuweling se toneelspel is skitterend en ek dink ons gaan nog groot storielyne rondom haar karakter sien. Geen mens kan met die druk waaronder sy lewe geestelik gesond wees nie. Sy is die familie se pride en joy. Tog, in plaas van swem en diet, wil sy eerder net ’n normale tiener wees. Ek was glad nie verbaas toe sy na ’n paar soetgoed wou opgooi nie. Dit is ’n heavy tema om mee te begin, maar ek dink baie kykers gaan met hierdie karakter aanklank vind.

Al is ek nie gewoond aan ’n prim en proper Sandi Schultz nie, is dit interessant om vir haar in ’n rol soos Zelda te sien. Zelda mag dalk soos ’n statige dame aantrek en operate, maar ons almal weet sy gaan moeilikheid maak. ’n Regte wolf in ’n skaapvel. Sy is 100 persent ’n Louwna Edwards (Brümilda van Rensburg, Egoli) of BridgetteOctober (Denise Newman, Suidooster) in the making. Ek ken haar soort.  

Sandi Schultz Diepe Waters
Sandi Schultz as Zelda in Diepe Waters. Foto: Verskaf/kykNET

Dieper temas

Diepe Waters het definitief ’n familiedrama se DNS, maar hulle raak ook aan geestesgesondheidskwessies, rassespanning, klassisme en die belangrikheid van vriendskap. Die verhoudings is kompleks en, hoewel die Swartmarlyne-swemklub sentraal staan, het elke gesin ook hul eie uitdagings en storielyne.  

Dit is dalk nog te vroeg om te sê, maar na alles wat in die eerste lot episodes ingeprop is, dink ek dié span het ’n wenresep. Ek kan nie wag om te sien hoe die drama en geheime ontvou nie.


Diepe Waters saai vanaf 3 Oktober, Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, uit. Ook op Catch Up en DStv Online beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies