Menu terloops
In Wat om te kyk [29 Sep 2022]

‘Diepe Waters’ ’n ‘eerste vir Suid-Afrika’, sê skepper


’n Rits nuwe karakters maak hul buiging as die splinternuwe plaaslike telenovela ‘Diepe Waters’ op 3 Oktober op kykNET begin. Die veteraan TV-skepper Roberta Durrant vertel meer oor dié projek

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
‘Diepe Waters’ ’n ‘eerste vir Suid-Afrika’, sê skepper
Kyk lokprent

Min mense kan stories só goed vertel soos die film- en TV-skepper, Roberta Durrant. Sy’s ’n agter-die-skerms-fenomeen wat opgang gemaak het met internasionale benoemde trefferkomediereekse soos Madam&Eve, Fishy Fêshuns, Scoop Schoombie en S.O.S.

Deesdae kry Roberta en haar span by Penguin Films dit steeds reg om kykers vasgenael voor die skerm te hou met hul gewilde en bekroonde kykNET-reekse soos Sara se Geheim, Projek Dina en Arendsvlei. En in Oktober word ’n nuwe gemeenskap aan kykers voorgestel, as die splinternuwe kykNET-telenovela Diepe Waters op die kassie begin speel.

Sy het nog baie stories om te vertel en voel elke produksie wat sy aanpak vars, relevant en belangrik, vertel sy aan terloops.

Roberta Durrant op die stel van Krotoa saam met Deon Lotz Diepe Waters
Roberta Durrant op die stel van Krotoa saam met Deon Lotz. Foto: Verskaf

Diepe Waters, meen Roberta, is iets ongewoon, hoewel dit steeds die kenmerkende struktuur en inhoud van ’n telenovela het: Affairs, passievolle liefde, geraamtes in die kas, skandes, intriges en wraaksug. Al die bestanddele vir ’n aangrypende en lekker reeks.

“Ons het ’n ongelooflike rolverdeling en interessante omgewing. Ons hoop dat die kykers aanklank daarby sal vind,” sê Roberta.

Die storiewêreld van Diepe Waters speel af in en om ’n swemklub, Die Swartmarlyne, wat deur Gys Swarts (Justin Strydom) besit word. Die Swartmarlyne-swemklub is ’n familiebesigheid waarby albei Gys se seuns, Rossouw (Altus Theart) en Jacques (Werner Coetser), betrokke is. Familiebesighede is die perfekte omgewing vir familiedrama. En om die spanning te verhoog swem Gys se kleinkinders, Karla (Danielle Swanepoel) en Johan (Liam Bosman), ook vir die Swartmarlyne se swemspan.

terloops het met Roberta gesels oor Diepe Waters en haar liefde vir unieke stories.

Elke reeks het sy eie temas en omgewing wat die karakters verenig. In Arendsvlei is dit die skool en in Projek Dina is dit ’n polisie-afdeling. Wat maak Diepe Waters uniek?

“Wat inspirerend was, is die omgewing van ’n gemeenskap wat rondom ’n swembad saamkom. Dit is ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaanse produksie en dit skep ’n interessante omgewing.”

Julle het gesoute akteurs in die rolverdeling, maar julle het ook nuwe akteurs soos Danielle Swanepoel wat tans matriek is. Wat het jou die meeste verras tydens die verfilming van Diepe Waters?

“Ek het die toewyding van die akteurs en die hele span om die beste werk te lewer ongelooflik gevind. Die toewyding van die jong en meer volwasse akteurs met betrekking tot hul voorbereiding as professionele swemmers was ook fantasties.”

Hoekom sal gehore aanklank vind by die rolverdeling en temas in Diepe Waters?

“Die karakters en temas is identifiseerbaar en universeel. Hierdie is ’n gesinsdrama in ’n Suid-Afrikaanse omgewing, rondom ’n unieke plek.”

Jy is al baie lank in die bedryf en jy het al letterlik gesien hoe die wêreld om jou verander. Wat is van die grootste veranderinge wat jy sedert die begin van jou loopbaan in die bedryf ervaar het?

“Die tydperk rondom 1994, toe ons in ’n demokrasie inbeweeg het, was ’n tydperk van groot oorgang toe ek reekse soos Khululeka vir die Matla-trust vervaardig het – ’n trustfonds wat deur (wyle president Nelson) Mandela gestig is om kiesers op te voed oor stem en hul demokratiese regte. In hierdie tyd het ek ook die reekse Future Imperfect en Constitutional Talk vervaardig. Die tweede groot verandering was toe M-Net begin het om inhoud te vervaardig deur kykNET en Mzanzi Magic. Die laaste groot verandering was met die koms van al die stroomplatforms. Dit het vir ons meer internasionale geleenthede geskep soos ons in die goue era van televisie-inhoud inbeweeg.”

Jy en die span by Penguin Films skep ’n ongelooflike platform vir reekse soos Sara se Geheim, Fishy Fêshuns en Arendsvlei, wat stories uit die bruin gemeenskappe vier en hul stories met soveel waardigheid, humor en respek vertel. Hoe slaag julle daarin om hierdie stories so outentiek te vertel?

“Ek werk al jare lank met – en het noue bande – met diverse gemeenskappe. Ek het al inhoud regoor Suid-Afrika verfilm en geregisseer, veral in township-omgewings. Ons leef in ’n diverse en baie unieke wêreld in Suid-Afrika en ons het wonderlike stories om te vertel. Ons moet dit vertel.”

Kan jy ooit ’n tyd onthou waar jy terugstoot ervaar het of dat dit moeilik was om hierdie karakters en storielyne na ons skerms toe te bring?

“Nee, nooit!”


Diepe Waters saai vanaf 3 Oktober, Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, uit..

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies