kykNET se nuwe dramareeks Die nuusmakers volg die lewe en loopbane van ’n groep joernaliste wat vir ’n TV-nuusprogram werk. Met ’n lywige en begaafde rolverdeling en ’n besonderse gedugte span agter die kameras, blyk dit datgaan dit kykers wys wat dit verg om die storie agter die storie te kry.
Maar wie is wie in die reeks? Hier is ’n kort opsomming van die hoofkarakters in Die nuusmakers en die akteurs wat in hulle vertolk.
Rolanda Marais as Adri Joubert

Adri Joubert is ’n TV-joernalis in murg en bloed. As junior het sy stories gejaag en van die toneel verslag gedoen. Later het sy laataandnuus in die ateljee begin aanbied, en vir die afgelope 20 jaar is sy die gesig en stem wat jy sien en hoor wanneer die hoofbulletin saans in spitstyd uitgesaai word. ’n Tragiese voorval ruk egter die mat onder haar voete uit, en terwyl sy rou, vind sy ook weer haar vuur as ondersoekende joernalis. Veral haar soeke na antwoorde rondom die dood van haar man, Dawid (Anrich Herbst), gee vir haar hernude dryfkrag.


Lourens (Chris van Niekerk) is Adri se pa wat by haar en haar gesin woon. Tina (Christia Visser) en Daniel (Heinrich Wentzel) is Adri en Dawid se twee kinders.
Brendan Daniels as Johan Diedrichs

Johan Diedrichs en Adri het saam as jong joernaliste begin werk. Johan was nog altyd op soek na die waarheid en het sterk politieke bande. In die vroeë 2000’s was hy deel van ’n span wat grootskaalse korporatiewe korrupsie ontbloot het en dit het tot verskeie doodsdreigemente gelei. Dié ondersoek het ook die einde van sy eerste huwelik beteken, maar hy is weer getroud en pa van ’n tweejarige seuntjie. Hy is die regisseur van die nuusbulletin wat Adri aanbied, en hy probeer sy bes om ’n balans te vind tussen harde nuus en dit wat kykers wil hê.
Roeline Daneel as Karla Viljoen

Karla Viljoen is ’n veldverslaggewer en is altyd eerste op die toneel. Sy is vreesloos en sal enigiets doen om die storie te kry. Karla kan sarkasties en sinies wees. Sy het min tyd vir mense wat net die sonkant van die lewe wil sien, maar sy het ook ’n hart van goud en sal altyd help wanneer sy gevra word.
Arno Greeff as Kyle Munro

Kyle Munro lees saam met Adri die nuus. Hy het bekend geword as ’n smaakmaker op sosiale media. Dis juis daarom dat hy meen hy word nie ernstig opgeneem nie. Kyle is positief en ’n gawe kêrel wat omgee hoe hy lyk. Hy maak geen geheim daarvan dat hy ambisieus is nie en wil graag Adri se posisie oorneem.
Lesley Maasdorp as Nhlanhla Langa

Nhlanhla Langa werk aan ’n doktorsgraad en is ’n kenner van sosiale media. Politiek, die nuus, feite en die waarheid is vir hom baie belangrik, en hy is gedurig besig om fopnuus te ontbloot. Hy werk by die kanaal as ’n navorser, maar help ook wanneer daar tegniese of digitale probleme is.
Hannah Borthwick as Simone Bosman
Simone Bosman is die assistent op kantoor en weet alles van almal. Sy is in beheer van Adri se sosiale media en sal haar tot die dood toe beskerm. Simone monitor ook die kanaal se sosiale media en het haar vinger op die pols. In haar persoonlike lewe gaan dit egter nie so goed nie. Sy het al verskeie miskrame gehad, haar huwelik het verbrokkel, en sy het aan pynpille verslaaf geword.
Lea Vivier as Melanie Palmer

Melanie Palmer is ’n sakekonsultant wat deur die eienaar van die kanaal, Renate van der Riet (Susanne Beyers), aangestel word om uit te vind wat die kanaal werd is en of sy dit moet sluit of moet verkoop. Melanie weet mense hou nie van haar nie, maar sy gee ook nie om nie. Wanneer die ondersoek na Dawid se dood momentum kry, besef Melanie daar is dalk ’n derde opsie vir Renate: om die kanaal te omskep in ’n toonaangewende ondersoekende nuuskanaal.
Chris van Rensburg as Charl Coetzee

Charl Coetzee is die weeraanbieder en bietjie van ’n bleeksiel, maar altyd reg met ’n grappie en ’n glimlag. Sy opleiding as meteoroloog kom later in die reeks baie, baie handig te pas.
Kristen Raath as Zené Joubert
Zené Joubert is Adri se niggie en doen haar internskap by die kanaal nadat sy kommunikasiekunde studeer het. Zené se droom is om ’n aanbieder soos Adri te word, maar sy leer die meeste by Karla en Nhlanhla.
Ander spelers sluit in:
- Dorette Potgieter
- Daneel van der Walt
- Loren Loubser
- Laudo Liebenberg
- Neels van Jaarsveld
- Melissa de Vries
- Nahum Hughes
- Martelize Kolver
- Ira Blanckenberg

Ander spelers sluit onder meer Neels van Jaarsveld, Loren Loubser, Daneel van der Walt en Ira Blackenberg in.
Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.