Menu terloops
In Gons [25 Nov 2024]

Kyk nou: Met sesde seisoen maak gewilde misdaadreeks ‘Die Byl’ geskiedenis 


Die lokprent vir die sesde seisoen van die senutergende misdaadrillerreeks ‘Die Byl’ wys presies hoekom dit só gewild onder kykers is – én amptelik die dramareeks met die meeste seisoene in kykNET se geskiedenis is. 

Kyk nou: Met sesde seisoen maak gewilde misdaadreeks ‘Die Byl’ geskiedenis 
Kyk lokprent

Die nuwe seisoen word vanaf Januarie 2025 op kykNET uitgesaai. Dié keer is daar ’n meedoënlose moordenaar wat vasberade is om vir Byl en sy span alle hel te gee. Dít terwyl hulle ook met hul eie menslikheid worstel. 

Wie keer terug, en wie sluit nuut by die span aan?

Byl (Waldemar Schultz) lei steeds die eenheid, met speurders Juan (Marvin Lee Beukes) en Lena (Lika Berning), regskenner Nicki (Milan Murray) en Jo (Amalia Uys), ’n voormalige sluipmoordenaar wat nou as wapenkenner ingespan word, aan sy sy. Ook deel van die span is kapt. William Miller (Tyrone Keogh) as ’n profileerder, en dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) as ’n pataloog.

Die byl
Byl (Waldemar Schultz) lei steeds die eenheid wat op reeksmoordenaars jag maak in Die Byl. Foto: Verskaf

Onder die nuwe karakters wat in die sesde seisoen by die gedugte span aansluit, tel die hiper-intelligente Eliaan Slee (Melissa Willering). Só ook die ambisieuse wetenskaplike, dr. Elize Opperman (Roeline Daneel), en Daniël Weyers (Sherman Pharo) as ’n oud-polisieman en dr. Opperman se handlanger. 

Karakters wat terugkeer, sluit in Benjamin Vlok (Danny Ross), die webontwikkelaar Stephen (Sean van Noordwyk) en kapt. Tarina Spies (Ronel Stander), wat bittergraag ’n lid van Byl se span wil word. Van die bekende gesigte in die nuwe reeks is Melanie du Bois, Hannes van Wyk, Pascual Wakefield, Antoinette Louw, Rika Sennett, Geon Nel, Cedwyn Joel, Carel Nel en die legendariese akteurspaar Johan en Lida Botha.

Wie jag Byl en sy span dié keer?

“Die sesde seisoen van Die Byl beloof om die mees intense en spannende een nog te wees,” sê Elmarie Botha, storiebeplanner en vervaardiger van die reeks vir Wolflight Films.

In die eerste episode word twee lyke op verskillende plekke gevind, maar albei met ’n hopie uitgebrande vuurhoutjies langs hulle. Dít blyk die begin van die soektog te wees na ’n reeksmoordenaar wat ’n grusame kruistog in die naam van geregtigheid voer.

Die vuurhoutjies wat in die eerste episode as simbool bekendgestel word, dien as ’n metafoor vir die broosheid van die lewe en die dun lyn tussen geregtigheid en wraak.

Van die ander sake wat ondersoek word, draai om ’n oupa wat sy kleinseun afknou, en ’n bekende skrywer met ’n donker geheim.

“Ek sien verskriklik baie uit na die opkomende reeks van Die Byl!” sê Waldemar. “Ek dink hierdie een (seisoen) gaan kykers beslis deur skrefies tussen hulle vingers laat kyk! Ek is ook so trots om met ’n fantastiese span medespelers en produksiespan te kon werk om nóg ’n seisoen van spannende episodes te skep. Ons werk altyd met soveel ywer en passie om stories te vertel. Die uiteinde is altyd dat kykers dit sal geniet.”

Wie werk agter die skerms?

Die reeks is oorspronklik ontwikkel deur die ontslape Herman Binge en Elmarie Botha. Daarna het wyle Leon Kruger in die tweede seisoen as hoofskrywer aangetree. Die nuwe seisoen is geskryf deur Elmarie Botha, Berdene Burger en Lorraine Burger. Die regie is deur Berdene Burger, Liezl Spies en Nina Swart. Jay Marais is die kinematograaf, en Juan Kindo is vir die klankontwerp verantwoordelik. Mary-Sue Morris is hoof van garderobe, en Stefan Benade is die produksie-ontwerper. Sulani Saayman is verantwoordelik vir die grimering, asook die spesiale effekte-grimering (SFX-grimering).


Die Byl se sesde seisoen begin op 14 Januarie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 

Kyk ook Die Byl se eerste drie seisoene op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies