Die twee houthuise sukkel om by hul daaglikse vlotbou-kwota te hou in Die brug – Suidhuis het nog 77 vlotte om te bou en Noordhuis een meer as hulle.
Boonop moes Roscoe, Noordhuis se medeleier, in ’n onverwagte en skokkende wending sy tasse pak en Die Brug verlaat. En nou is die Suidhuis se beurt
Spanning by Suidhuis
Tydens die vorige episode moes die spelers een van die twee leiers kies wat die volle verantwoordelikheid van leierskap alleen sal moet dra. Die tweede opdrag daarna is om die medeleier huis toe te stuur. By Noordhuis was dit Roscoe nadat al die spelers vir Lelani as leier gestem het.
By Suidhuis was daar twee stemrondes omdat die resultate elke keer gelykop was: drie stemme vir Melissa en drie stemme vir Hannes. Nou moet die twee leiers onder mekaar besluit wie gaan alleen staan, totaal onbewus daarvan dat die ander een se tyd op Die brug dramaties tot ’n einde gaan kom.
Hannes voel hy wil nog nie die kollig op hom hê nie en verseker vir Melissa dat hy vir haar stem as leier . . . Dit lei tot gemengde gevoelens onder die spelers. Maar een ding is seker – en dís dat Hannes se besluit tot ’n vloed van trane en drama gaan lei.

Skattejag
Terwyl die Suidhuis-span nog sukkel om oor die skok te kom, is dit weer Hilana wat met iets na vore kom om die swaarmoedigheid te verjaag. As waarnemende speler was sy tuis en het sy vir die span ’n skattejag opgestel.

Vir Melissa voel dit hierdie pret-poging is nét te gou na die emosionele tyd waardeur die span gegaan het. Maar die son skyn skielik weer helder en die glimlagte keer terug, want dit is inderdaad ’n ware skat wat sy vir hulle weggesteek het: Eiers, spek en wors.
Kykers sal onthou dat Hilana in die vorige episode die keuse gehad het om óf R20 000 te vat óf hierdie heerlike kosmandjie vir die span te kies. Sy het ten gunste van haar span besluit.
Op die swartbord in die huis het Hannes, onwetend van wat voorlê en wat Hilana vir die span gekies het, die profetiese woorde “Sunny side up” geskryf. En ter wille van hom is dit presies hoe die eiers nou gebak gaan word.
Strategie-tyd by Noordhuis
Die vier vroue is alleen tuis. Dis net die regte tyd om planne te maak. Lelani voel baie sterk daaroor dat hulle saam moet staan om soveel vroue as moontlik vir so lank as moontlik in die spel te hou.
Die kriewelrige wantroue jeens Wilhrisca steek steeds kop uit. Volgens Rechaux het hulle haar wel by die kring ingetrek want dis beter om jou vyande nader aan jou te hê as jou vriende.
Hulle is nog steeds nie seker of Wilhrisca deel van die span wil wees nie en of sy dalk net daar geplant is om moeilikheid te maak.
Daardie oproep
By Suidhuis word daar heerlik ontbyt gemaak. Die spek sis in die pan en die eiers glimlag boontoe, net soos Hannes op die bord geskryf het. Dis weer Hilana wat die groep se moraal probeer lig toe sy voorgee die eetlepel in haar hand is ’n telefoon.
“Dis Hannes,” roep sy uit. Hy wil met Jaco ‘praat’, kondig sy aan. Jaco speel lekker saam, gesels oor hul heerlike ontbyt en noem dat hulle hom mis. Hy wens hom ook sterkte toe met die brug wat hy binne-in homself bou.
“Sê vir hom ek gaan hom sien wanneer ek hom sien,” kom dit van ’n emosionele Luwellen toe Hilana wil weet of hy met Hannes wil praat. “Ek sou nie die oproep kon voltooi nie. Daar’s trane en snot betrokke.”

Waarnemende speler
Anesca bied aan om Noordhuis se werfhoender te wees en “sal met liefde” kos maak en klere was vir die span terwyl Elsje by Suidhuis die dagtake gaan verrig.
Emosies loop hoog op boudag 5 van 13
Veral die Suidhuisers voel maar broos oor die verlies van Hannes. Dis Hanri wat seker maak of Melissa se gemoedstoestand verbeter het rondom die leierskapsituasie. Dit laat Melissa beslis beter voel omdat sy gewoonlik die een is wat seker maak die res van die span is oukei.
Jaco voel nie goed nie want hy sukkel met sy bloeddruk. Hy erken dis vir hom ’n bitter pil om te sluk om te weet hy moet sy spanlede vra vir ’n blaaskans. “My kinders by die huis sien my as hierdie sterk mens en ek wil nie hê dat hulle daai deel eintlik sien dat ek iemand is wat opgee nie,” erken hy en sy stem is belaai met emosie. “Hilana het vir my gesê ek is genoeg, ek hoef nie altyd sterk te wees nie.”
By Noordhuis vertel Rechaux vir Lelani dat sy altyd ’n prentjie vir haarself saamstel oor hoe mense lyk nog voordat sy hulle ontmoet het. Soos wat sy nou ’n prentjie in haar kop het van hoe Lelani se man lyk. “Dis snaaks dat jy dit vra, want ek mis hom vandag so baie,” en met daardie woorde breek ’n damwal van emosie in Lelani oop. Die trane loop – maar sy sê sy is oukei.

Ook Rechaux spring nie die trane vry nie. Dié ma van agt, waarvan die oudste 24 en die jongste 11 maande oud is, vertel hoe haar oudste dogter kort voor Kersfees in die hospitaal beland het.
Toe die oproep: “Jou dogter het ophou asemhaal en sy is in ICU op ’n ventilator”. Sy vertel sy was bekommerd oor Gabi toe sy sien dat sy sukkel om trappe te klim. Vandaar het dinge gou afdraand gegaan en sou Gabi drie maande in die hospitaal deurbring. Ons vind uit watter rol hierdie krisis tot vandag toe in Rechaux se lewe speel.
Die rooi boei bring ekstra lekkerte
Noordhuis se span maak goeie vordering met hul bouritme en een vlot na die ander word te water gelaat. Die 50 m-merker in die vorm van ’n rooi boei lyk eensklaps baie naby. Vir die eerste keer het hulle meer vlotte in die water as die Suidhuisers.
“Dis soos ’n Wêreldbeker wat ’n mens amper vashou,” kom dit van ’n opgewonde Tiaan nadat daai einste rooi boei nou van die stoep se dak hang. Maar daar’s nie tyd om op hulle louere te rus nie. Die Suidhuis-span blaas in hul nekke en kort voor lank is ook hulle rooi boei losgewikkel en op pad huis se kant toe.
Altwee spanne dans van blydskap toe die boodskap kom dat daar iets baie lekker op hulle wag . . .
Ten spyte daarvan is daar by Noordhuis steeds die smagting na koffie. Min weet die span dat Wilhrisca in die derde episode tussen koffie en klipharde kontant moes kies – en sy het nie koffie gekies nie . . .
Die fakkel wat ‘anders klink’
Noordhuis se Tiaan het ’n vreemde gevoel gekry dat hierdie fakkel nie goeie nuus gaan bring nie. Hy sê dit het sommer net anders vir hom geklink toe dit die lugruim ingeseil het.
By Suidhuis is dit Hilana wat na die pos-kan toe swem omdat die wind te sterk waai en die kano nie ingespan kon word nie. “Eendag as ek groot is, wil ek ook so kan swem,” is Hanri se versugting toe sy sien hoe Hilana deur die water klief.
Met die pos-kanne veilig aan wal, lui die nota: Staptog. Die leier moet twee spelers kies om saam op ’n staptog te gaan. En die boot wag vir hulle.
Is Tiaan se vermoede dalk in die kol, naamlik dat daar nie net een speler nie, maar al drie op die staptog, huiswaarts sal moet keer?
Gaan vriendskappe of slim strategie die onderskeie leiers se keuses beïnvloed? Die onsekerheid oor wat die staptog alles behels, maak dit nog moeiliker om te besluit wie om saam te neem. Dan is daar ook die knaende wete dat niemand werklik veilig is nie, ook nie die leiers nie.
By Suidhuis maak Luwellen dit duidelik dat die staptog die laaste ding op sy agenda is, want “die manne moet gaan saag” en tyd vir stap is daar nie.
Aangename kennis
Iewers in die middel van die woud, ná ’n redelike stappie, ontmoet Suidhuis en Noordhuis se spelers mekaar. Dis nie vir almal ’n verrassing en selfs noodwendig aangenaam nie. Een van die spelers het reeds met twee van kompetisie se spelers kennis gemaak.
Die briefie teen die boom se inhoud is weer eens verpletterend. Iemand moet groet, maar dis ’n groet met ’n kinkel. Dis basies ’n ruiltransaksie waar een speler na die ander span toe moet gaan – en die hoop is daar dat daar ’n speler gaan wees wat gewillig is om te ruil.
Wilhrisca maak dit maklik vir die res van die span en is gewillig om oor te skuif. Maar vir Hilana is die besluit wat deur die ander twee spanlede geneem is, ’n klap in die gesig. Was daardie besluit verraad of strategie?

‘Veilige plekkies’
Hilana erken sy het baie veilige plekkies in haarself nodig. Sy besef ook sy hoef nie haarself aan ander mense te bewys nie.
Sy glo sy het baie meer om ander te bied as wat hulle besef. Driekamp het gevolg tot waar sy die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen het. “Ek onthou toe ek klaar gerace het, was ek absoluut léég. Ja, my liggaam het basies gesê hy kan nie meer nie.”
Hilana dink haar selfbeeld was verbind met haar sukses en toe sy haar kompeterende reis moes opgee en skielik niks meer gehad nie, het sy haar identiteit verloor. “Ek het gevoel ek was bietjie van ’n mislukking,” en sy vertel voorts dat sy vir baie lank gevoel het sy pas nêrens in nie.

“ ’n Mens se identiteit is absoluut wie jy is as mens, dit is nie wat jy doen nie. Dit is ’n innerlike krag wat ons almal het, en ek is dankbaar dat ek dit nou kan sien. Ek voel sterk in my gentleness, en dis so powerful.”
Vlot-telling
Die bordjies is verhang en nou is Suidhuis twee vlotte agter Noordhuis. Hulle het 29 vlotte in die water terwyl Noordhuis reeds 31 voltooi het.
Volgende week
Terwyl een van die omgeruilde spelers baie hartlik by die nuwe span verwelkom word, is dit alles behalwe die geval vir die ander speler. “Hierdie mense is skynheilig,” kom dit pront. “Moenie maak of jy bly is om my te sien nie, want ek en jy weet jy is nie.”
En die daaropvolgende kritiek op die slorderige knoopwerk van die vlotte jaag die spanning nog verder op.
“Revenge is a dish served very cold.” Ja, dis ’n groot waarheid daardie, Luwellen.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.