Dis Dag 4 op Die brug en die derde dag van vlotbou as die nuwe episode van dié reeks begin.
Waarnemende speler
In verlede week se episode het die opdrag gekom dat daar elke dag een speler van elke span moet uitsit. En elke dag moet dit iemand anders wees wat op die werf agterbly en op geen manier deel van die konstruksie van die vlotte kan wees nie.
By Suidhuis is dit Hanri wat in hierdie episode hand opsteek om die waarnemende speler te wees. Sy voel dat vier mans en twee dames die sterkste kombinasie gaan wees om die vlotbouery nog vlotter te laat verloop.

Lelani word deur die groep gekies om tuis te bly en kos te maak. Maar een en een maak nie twee vir Wilhrisca nie. Lelani sukkel met seesiek, sy het pilletjies daarvoor, maar sy drink dit nie. “Daai Wiskunde wiskunde nie in my kop nie,” sê sy.
“Nuwe besem” vee dalk wel skoner
Tydens die vlotbouery kom Wilhrisca na vore met ’n goeie idee en die span gaan akkoord daarmee. Johan is egter nog nie seker oor haar nie. Wil sy, of wil sy nie, deel van die span wees nie? Hy besef wel dit moes vir haar moeilik gewees het om by ’n nuwe span aan te sluit nadat sy op Dag 1 deur die spelers van Suidhuis uitgestem is.
Maar Rechaux is baie beïndruk met Wilhrisca se vernuf. “Vir die klein mensie wat sy is, het sy regtig hard gewerk. Sy het haar brein ook smart gewerk en daar was ek en sy dieselfde. Hoenders van eenderse vere, ja.”

Agter die kap van die byl
Luwellen en Hilana sit beslis nie langs dieselfde vuur nie. Reeds met die eerste dag van vlotbou was dit duidelik dat sy hom verkeerd opvryf omdat sy elke ding bevraagteken.
Op Dag 2 van vlotbou gaan dit vir Hilana daaroor dat sy haar vrees vir byle moet oorbrug. Luwellen se frustrasie hoop op want hy voel onnodige tyd word gemors om Hilana te leer om iets te doen, soos byvoorbeeld om die tou met ’n byl te kap.

Hannes dink Luwellen is ’n ongelooflike voorman met soveel vaardighede. Maar, sê hy, daar moet gewaak word daarteen dat daar op ander mense se tone getrap word. “Jou body language, eish!” is hoe hy die situasie opsom.
Leier of volgeling?
In Lelani se afwesigheid val die volle verantwoordelikheid van Noordhuis se leierskap op Roscoe se skouers. Maar die kommunikasie tussen hom en twee van die spelers duik in die hek. Rechaux dink nie sy’t al enige tekens van leierskap by hom gewaar nie. Johan het ook sy bedenkinge oor wat hy as “impulsiewe leierskap” beskou. Op sy beurt voel Tiaan dat hy en Roscoe lekker saam kan werk, maar mensgewys is hy wat Tiaan is die skaaphond en Roscoe is by die beeste . . . “Ek dink hy soek instruksies, hy kan nie instruksies gee nie.”

By Suidhuis wil dit voorkom asof Hannes se belangstelling in sy spanlede hom dalk mag kelder. Hilana voel dat hy te veel wil uitvis en dat sy hom nie eintlik meer vertrou nie.
En Luwellen besluit dis tyd om hart oop te maak by Hannes en Melissa. Hy is bang dat “ ’n sekere persoon” dinge kan misverstaan en dink hy wil oorneem.
“Moenie jou lig laat swakker skyn omdat iemand anders iets te sê het nie,” bemoedig Melissa hom.

Die fakkels bring meer as net ’n boodskap
Geen pos-kan die keer op die vlotte nie, maar wel twee mense. Hannes het met Brugidia (soos Suidhuis hul kano gedoop het) die nuweling gaan haal. Dis ’n vrou, merk Hanri op. En haar naam is Elsje.
By Noordhuis arriveer die pos in die gedaante van ’n man. Gaan dit ’n goeie of ’n slegte ding wees? Een ding is seker, daar’s baie knoppe en baie mae aan land. Wat gaan Durand se aankoms vir die span inhou?
Die twee nuwelinge bring natuurlik ook briewe saam. Die eerste brief loof almal vir hul goeie spanwerk. Dan: “Het julle vergeet dat net een van julle oor die brug gaan loop om die skat te eis? Van vandag af is julle agt spelers, elkeen met een hand op die skat”.
Die twee spanne ontvang ook die bloudruk vir hul vlotte. En sowaar, hulle is baie na aan die kol!

Wie is die nuwelinge?
Durand (27) is van Houtbaai en hy is in hierdie stadium werkloos omdat hy ’n jaar afgevat het om sy meestersgraad te voltooi. Hy dink mense besef nie hoeveel lae daar aan hom is nie – van rock tot potgooi is sy kos. En hy is hier om te wen . . .

Elsje (38) vertel sy’s ’n skaapboer se vrou. En nee, sy’s nie ’n boervrou nie – sy is ’n boer se vrou. Sy glo ’n boer is net so sterk soos wat sy vrou hom maak. Sy is hier om aan haarself te kan bewys dat vroue ook kan deelneem en Die brug kan voltooi.

Hoe meer haas, hoe minder vlotte
Altwee spanne is ver agter die teiken van vlotte wat per dag voltooi moet word. Daar is wel agt by elke huis in die water, maar die teiken is tien vlotte per dag! En as die spanne nie hul sokkies baie gou begin optrek nie, gaan die brug baie jaloers aan daai skat vasklou.
Wanneer waarnemings skeefloop
Vanweë haar seesiek-ervaring op die eerste dag van vlotbou, het Lelani die tweede dag op die werf rondgeskrop en waargeneem. Op Dag 3 van bou is sy slaggereed om weer in te val, maar nie voordat sy haar waarnemings met haar span deel nie.
“Ek het ’n baie mooi briefie vir julle geskryf. Dit is nie ’n uitk*ksessie nie. Ek wil net vrae vra en ek wil asseblief graag julle raad terughê ook. Haar medeleier, Roscoe, is duidelik nie gelukkig met hierdie stap nie. Hy voel sy moes direk met hom gesels het.
Wie gaan die werfhoenders wees?
Lelani besluit dadelik by Noordhuis dat dit Rechaux moet wees omdat sy die vorige dag baie saagwerk gedoen het. En dis wat Lelani wil oorvat vir die dag.
By Suidhuis steek Hirome sy hand op om vir Elsje die geleentheid te bied om saam met die span te werk en ervaring op te doen.
Eenkant-gesprekke
By Noordhuis is daar drie spelers, wat ten spyte van Wilhrisca se harde werk die vorige dag, nog groot wantroue jeens haar koester, waarskynlik omdat hulle nie die vrede vertrou vir die “regte rede” hoekom sy by hulle beland het nie. Is sy dalk ’n spioen van Suidhuis?

Lelani voel sy werk te stadig. Op haar beurt wil Anesca met haar praat en voelers uitsteek hoe sy daaroor sal voel as die vier vroue saamstaan. Ook, Anesca voel daar’s soort van ’n vriendskapsband besig om te ontwikkel tussen hulle twee. Dit verhoed haar egter nie om een van die ander spanlede te betrek om die kat mooi uit die boom te bekyk wat Wilhrisca aanbetref nie.
“Donkerte en seer”
’n Emosionele Hirome maak sy hart oop teenoor Hannes by Suidhuis en vertel van sy ontwortelende kinderjare, jare wat net vol donkerte en seer was. En trane en vrees. ’n Plek waarheen hy nooit weer wil terugkeer nie. Sy openhartige en hartverskeurende vertelling is een wat jy nie durf misloop nie.
Dit is ook die rede hoekom hy vir Die brug ingeskryf het. Om sy geloof in homself en in sy vermoëns te vestig sonder om meer enige vrese oor homself te koester nie.

Gaan volgehoue druk en wantroue vriendskapsbande sink?
By Suidhuis is die span een vlot en een dag agter skedule. Alhoewel die vlotbou vorder, raak dinge ’n bietjie warm onder die leierskap se kraag en dis einste Luwellen wat dit veroorsaak. Is dit omdat hy te veel druk op almal uitoefen of is dit omdat daar gevoel word hy wil oorneem?
Anesca kry vir Wilhrisca eenkant en verduidelik Lelani se plan dat dit ’n vrou van hul span moet wees wat oor daai brug gaan stap. “Wilhrisca se reaksie was nie dadelik wat ek verwag het nie. Ek voel amper asof sy ‘ja’ gesê het net vir ‘ja’ en nie noodwendig dalk my ook vertrou nie.”
En die vermiste mes? Het Wilhrisca werklik iets daarmee te doen?
Terug by Suidhuis sukkel dit maar om in vrede te werk met Luwellen en veral Melissa vat dit swaar. Sy vertel Luwellen het teruggekom “met ’n houding wat skrik vir niks” nadat hy tot by hul laaste vlot gestap het en aangekondig het dat Noordhuis meer vlotte in die water het as hulle. Toe sy hom spreekwoordelik in die bek ruk oor sy negatiewe aansporing, draai Luwellen weg en stilstuipe volg. Hy praat nou met niemand nie.
Volgende week
Die volgende brief wat hulle ontvang se boodskap lok groot skok en ontsteltenis uit. Gaan die twee spanne kan voortgaan om die wa deur die drif te kan trek?
Soos Johan opmerk: “Hierdie is nie speletjies nie.”
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.