Menu terloops
In Wat om te kyk [8 Mei 2025]

Hier’s hulle nou! Ontmoet die spelers in ‘Die brug’ se tweede seisoen


Die wag is verby en die aap uit die mou! ‘Die brug’ se tweede seisoen het met ’n episode propvol kinkels en verrassings afgeskop – en kykers is ook aan sewe dapper spelers voorgestel.

Hier’s hulle nou! Ontmoet die spelers in ‘Die brug’ se tweede seisoen

Die Brug se tweede seisoen het met ’n episode begin wat almal dadelik onkant gevang het. Die spel het nie met ’n verwelkoming begin nie, eerder ’n uitdagende kopkrapper. Om by die Houthuis in te kom moes die spelers eers die kode van ’n kombinasieslot ontsyfer. Wat binne op hulle gewag het, was selfs meer van ’n nare verrassing: ’n deurmekaar en chaotiese huis. En só het hul eerste taak as ’n span begin: Ruk die Houthuis reg. Maar net toe hulle begin nesskop, is nog ’n knuppel in die hoenderhok gegooi: Die groep moes ’n leier kies – slegs op grond van eerste indrukke – en binne ’n paar uur ná hulle mekaar ontmoet het reeds iemand uitstem.

En net toe hulle dink dit was nou die laaste onverwagse wending, wag die grootste kinkel van almal om die volgende draai. Die episode het geëindig met ’n vreemdeling met die naam van Hirome wat by die Houthuis aankom. Wie is hy? Waarom is hy daar? En wat gaan sy aankoms vir die oorblywende spelers beteken?

Die spanning loop reeds hoog, al het die stryd om die R1 miljoen wat op die spel is maar pas begin.

Ontmoet die spelers:

Melissa Klein (37)

Begrotingsbestuurder van Pretoria, Gauteng 

Die brug S2, Melissa

Melissa Klein is ’n dinamiese vrou met ’n sagte hart en ’n sterk ruggraat. Sy is ’n getroude ma van twee seuns en voel geroep om ander te ondersteun en op te bou. Haar lewe getuig van deursettingsvermoë, geloof en ’n passie om van diens te wees. Sy is ’n begrotingsbestuurder in die departement van verdediging, maar haar invloed strek veel verder. Sy is ook die stigter van ’n gemeenskapsorganisasie, mentor vir jong vroue en ’n stem van hoop op sosiale media.

Sy is grootgemaak in ’n huis waar dissipline en hulpvaardigheid hoog geag is en het vir meer as 13 jaar in die weermag gedien. Haar storie is nie sonder pyn nie – veral die gebroke verhouding met haar biologiese pa is iets wat sy graag sou wou herstel. Die brug is vir haar nie net ’n kompetisie nie, maar ook ’n reis van selfontdekking, genesing en ’n kans om ander te wys wat moontlik is wanneer jy met geloof en eerlikheid leef. Melissa is nie hier om agtergrondmusiek te wees nie – sy’s hier om te groei, te verander en liefde, waarheid en krag na te laat.

Hannes Roodt (33)

Entrepreneur van Benoni, Gauteng

Die brug S2, Hannes

Hannes is die man wat kan én gaan. Hannes is ’n ekstrovert met baie energie. Hy is gemotiveerd, ’n raakvatter en ’n aktiewe man wat sy vryheid as entrepreneur hoog op prys styl. Hannes is getroud, het drie jong kinders en is baie lief vir sy vrou. Hulle straal die beeld van ’n perfekte gesin uit, maar hulle moes al harde klippe kou en leiding soek om te verhoed dat hul familiebande verbrokkel. ’n Gesin is harde werk, maar dis die moeite werd.

Hannes weet hoe om sy kop te gebruik en idees uit te voer wat tot voordeel van almal om hom is. Hy glo hy is ’n sterk leier en sal nie omgee om mense te manipuleer om te kry wat hy wil hê nie. Soms praat hy te veel en is oorvriendelik. Wanneer iemand nie van hom hou nie, krap dit hom erg om. Mense sien hom dikwels as die gom wat almal en alles bymekaarhou, en hy is goed daarmee om mense op te som. Hannes neem aan Die brug deel om te bewys elke mens verdien dit om hulself uit te leef soos hulle wil en dat jy sal uitstyg as jy bereid is om ander mense se perspektiewe ook in ag te neem.

Hanri Ehlers (39)

Advokaat en boer van Delmas, Mpumalanga 

Die brug S2, Hanri

Hanri is terug op die familieplaas naby Delmas nadat sy ’n suksesvolle loopbaan as restauranteur, wildbewaarder en advokaat in Botswana gehad het. Op die plaas bestuur sy die Bonsmara-beeskudde en veevoerfabriek. Sy weet hoe dit is om van vooraf te begin – sy het dit immers al ’n paar keer gedoen. Delmas bied dalk nie baie nie, maar Hanri is deesdae ’n kranige rolbalspeler en president van die rolbalklub. Sy is ’n natuurlike leier, en sy stel altyd ander bo haarself.

Hanri is nie bang om die spel hard te speel nie, en mense moet ligloop vir haar. Sy pas maklik op enige plek aan. Haar sterk persoonlikheid trek mense aan en omdat sy altyd koel en kalm voorkom, verwag mense van haar om besluite te neem. Sy het in 2020 ’n groot gesondheidskrisis gehad wat haar lewe vir altyd verander het. Dit was geluk by die ongeluk, want sy is nou bly om weer op die plaas te wees, al verlang sy na haar lewe in die Kalahari. Hanri gaan die uitdagings wat Die brug bied, aangryp.

Hilana Marais (43)

Kunsonderwyseres van Gqeberha, Oos-Kaap

Die brug S2, Hilana

Hilana is ’n veelsydige vrou met ’n diep liefde vir die natuur en buitengewone dinge. Sy is vroeg uit die vere om met haar branderplank die golwe by Jeffreysbaai te ry. Deur die dag is sy ’n kunsonderwyseres. Sy is lief daarvoor om op haar fiets in die berge te ry en in die wildernis te kamp en te bly. In die natuur is waar sy vrede en krag vind. Sy bruis van lewenslus, maar voel soms vasgekeer en dan verlang sy na haar eie ruimte.

As alleenloper is sy gewoond daaraan om dinge op haar eie te doen, en sy wonder hoe dit gaan wees om in te pas tussen ’n groep vreemdelinge. Sy sien egter kans vir die uitdaging. Hilana is op soek na verandering en geleenthede om nuwe deure vir haar toekoms oop te maak. Sy wil ook ’n balans tussen lig en donker vind. Hilana wil graag Die brug wen, en reken sy is mededingend genoeg om van haar drome te verwesenlik. Die wete dat Die brug afspeel in die plek waaruit sy krag put – die natuur – vuur haar aan. 

Jaco Davel (43)

Instandhoudingstegnikus van Oos-Londen, Oos-Kaap

Die brug S2, Jaco

Jaco is ’n man met inbors. Hy hou van visvang, houtwerk en ’n eenvoudige lewe. Hy is getroud en die pa van ’n seun en ’n dogter. Jaco skrik nie vir harde werk nie en is altyd bereid om hand by te sit. Jaco glo jy kry wat jy wil hê deur skouer aan die wiel te sit. Sy grootste wens is om finansiële sekuriteit te hê en om sy familie gelukkig te sien.

Jaco is fisiek groot en sterk, maar liefdevol. Hy is ’n goeie mens, ’n goeie pa en sy woord is sy eer. Daar is seer in sy verlede wat hy wens hy kon genees, maar hy fokus nou met dankbaarheid op die hede. Jaco meen hy het die ervaring wat Die brug bied nou in sy lewe nodig. Hy is ’n man wat normaalweg sy laaste stuk brood vir iemand anders sal gee, maar hier het hy een doel voor oë – om Die brug oor te steek en die prys vir sy familie te wen.

Luwellen Marx (53)

Konstruksiebestuurder van Mosselbaai, Wes-Kaap

Die brug S2, Luwellen

Luwellen werk as ’n konstruksiebestuurder, en in sy vrye tyd is hy ’n kranige CrossFitter en ’n skolerugby-afrigter. Hy is fisiek sterk, aktief en ’n man met ’n plan. Mense sien hom as behulpsaam, en hy sal ander altyd voor homself stel. Hy glo hy gaan ’n aanwins wees vir die span omdat hy weet hoe om hard te werk en hoe om ’n brug te bou.

Luwellen is ’n getroude man, maar hy sukkel om mense te vertrou. Hy is eerlik, opreg en voel ernstig oor die lewe en die versorging van sy familie. Hy kan grootpraat as hy in die bui is, maar hy is eintlik nederig. Soms voel hy alleen, sonder liefde en vol vrees en kommer, en dis dan wanneer hy oefen. “Gesonde liggaam, gesonde gees,” glo hy. Luwellen is vasbeslote om te wen. Hy het baie prysgegee om te kan deelneem en beplan om die skatkis huis toe te neem na sy familie.

Wilhrisca Brits (30)

Internasionale model en motorsportjoernalis van Polokwane, Limpopo

Die brug S2, Wilhrisca

Wilhrisca is ’n model wat al oor die loopplanke van New York geloop het en nou weer in Polokwane woon. Sy is nie bang om haar sê te sê of om iemand op hul plek te sit nie. Moet nie vir een oomblik dink sy is net ’n mooi gesiggie nie. Sy het ’n tegniese agtergrond en weet presies hoe ’n motor werk en aanmekaargesit is. Wilhrisca is gek oor karre, skep inhoud vir haar eie YouTube-kanaal (Drive Diva SA) en het ’n modelskool begin, bestuur en toe verkoop.

Sy is ’n enkelma van ’n seuntjie vir wie sy alles in die wêreld sal doen. Haar eie kinderjare was nie maklik nie, en haar pa het haar grootgemaak om nooit ’n man in haar lewe nodig te hê nie. Wilhrisca is sterk, sy kan byt en sy sál. Die lewe het haar hard gemaak, maar sy verkies dit so. Wilhrisca wil Die brug wen – nie omdat sy die geld nodig het nie, maar omdat sy hou van die idee dat sy op televisie gaan wees en hoop dat ander geleenthede daaruit sal voortspruit.


  • Die brug word Donderdagaande vanaf 8 Mei 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. 
  • Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies