Hierdie seisoen van Die brug het van meet af aan gewaarsku: Dié brug is allesbehalwe mak! En deelnemers wat die eerste seisoen gekyk het – en waarskynlik gedink het hulle weet hoe om van die uitdagings te systap of te takel – het gou besef dat daar meer as een honger jakkals is wat in die hoenderhok vrygelaat gaan word.
’n Groot geheim is in die vorige episode verklap en nou weet ons dat daar twee houthuise en twee spanne is. En hulle gaan teen mekaar vir daardie R1 miljoen meeding.
Noordhuis
Die een taak waarvoor niemand regtig kans sien nie, is die toilette skoonmaak. Maar een ding is seker, dit moet gedoen word voordat die dag té warm word en daar letterlik net “poof” gaan wees . . .
Tiaan is die ou wat besluit die pos-vlot is die bloudruk vir die brugbouery wat op hulle wag. Hy stel ook voor dat twee van hulle na die vlot gaan om dit van naderby te bekyk.
Die eerste fakkel van die dag
Lelani hoop op goeie nuus. Dis sy en Anesca wat in die kano spring om die pos te gaan haal. Maar vandag is die pos van die minste belang. Hulle twee is baie meer gefokus op die konstruksie van die vlot.
“Tien plattes!” gil Lelani na die wal se kant toe. En drie pale en agt dromme. Met toue vasgemaak natuurlik. Maar wat voer sy en Anesca in die mou wat Wilhrisca betref? Daar word veel meer as net teruggeroei wal se kant toe soos wat die twee koppe bymekaar sit.
Bou ’n brug
“Wat sê daai plakker daar?” wil Tiaan weet toe die pos-kan oopgesluit is. “Bou ’n brug,” lees Anesca die kort boodskap. Dit moet binne 13 dae voltooi word.
Die groter skok: ’n Honderd vlotte moet gebou word om ’n 200 m-lange brug na die eiland te bou.

Maar, wil Wilhrisca weet, waar is die werkswinkel? En waarnatoe moet die brug gebou word? Net hier duik die volgende kinkel op. Vergeet van ’n mooi voorbereide en georganiseerde materiale-stoor. Al die materiale, gereedskap en toue wat hulle nodig het om die brug mee te bou, is te vinde rondom hul huis en by hul drywende werkswinkel.
Geen bou- of konstruksiewerk mag buite die aangewese ure plaasvind nie. Indien iemand uitgevang word, sal die deelnemer onmiddellik gediskwalifiseer word.
Suidhuis
Daar heers ’n vrolike atmosfeer in die Suidhuis en almal is dit eens dat Dag 1 eintlik ’n wonderlike dag was, ten spyte daarvan dat Wilhrisca uitgestem is en hulle ’n nuweling in die gedaante van Hirome in hul midde verwelkom het. Die skok van twee huise wat teen mekaar gaan meeding om die brug klaar te bou, het vir eers so effens op die agterplaat beland.

Hilana het spasie nodig, maar haar strategie is om prentjies te teken terwyl almal teenwoordig is. So bly sy deel van die geselskap maar sy hoef nie met hulle te gesels nie.
Melissa sê die span moet nou met ’n strategie na vore kom. En hulle voel die “pos-boot” (pos-vlot) is ’n baie goeie voorbeeld van die konstruksie wat op hulle wag.
Suidhuis het nou ook danksy Luwellen ’n nuwe roepsein: Skan-ga-ga. Volgens hom beteken dit “staan nader” en hulle sal dit ná afloop van elke dag se verrigting inspan. En dit vind groot byval.
Die eerste fakkel van die dag
Almal is baie opgewonde oor wat die pos-kan se boodskap gaan wees. Dis Hannes wat so half-lamlendig saam met Hirome die spaan in die water steek om die pos te gaan haal. Die twee haal die wal sonder enige voorval, met koppe vol planne rondom die vlotmakery.
Bou ’n brug
Soos die ander span, vind hulle uit dat hulle binne 13 dae ’n honderd vlotte moet bou om ’n 200 m-lange brug na die eiland te voltooi. Hilana dink dis ’n onmoontlike taak. Hoe op dees aarde gaan hulle 10 vlotte per dag gebou kry?
Ook hul materiale is rondom Suidhuis en op hul drywende werkswinkel te vinde. Inklok- en uitklok-tyd sal met ’n duidelike (en onheilspellende) lughoring aangekondig word.
Meer oor ‘Die brug’
Hoe nou gemaak?
Die pos-kan bring nie net goeie nuus soos wat Lelani voor gehoop het nie. Vir die eerste sewe dae van die bouproses moet een speler per dag gekies word wat nie deel van die bouproses mag wees nie. En dit moet elke dag ’n ander persoon wees. Die onus rus op die leiers se skouers om die waarnemende speler van die dag aan te wys.
Dit beteken daar is elke dag ’n mannekragtekort, iets wat nie een van die huise voorsien het sou gebeur nie.
By altwee huise sal die aangewese speler verantwoordelik wees om take rondom die huis te verrig. Die waarnemende speler mag nie eers ’n paal aandra nie . . .
Wie gaan bou en wie gaan kyk?
Die spanning laai op – want hoe gouer die spanne hul vlotte te water kan laat, hoe beter. By Noordhuis besluit Lelani en Roscoe op spiere, eerder as op vernuf en die “nuwe meisie” gaan vir die eerste dag “rus”. Dis Wilhrisca wat op die werf gaan moet rondskrop en kosmaak terwyl die ander bou. Dis ’n bitter pil om te sluk.

By Suidhuis is dit Jaco en Hilana wat in die water spring om nou eers die pos-vlot van naderby te gaan bekyk. Dis Hannes wat vinnig homself benoem om die eerste werfhoender te wees omdat “vandag so observerend gaan wees”. Was dit ’n slim skuif?
Laat die speletjie begin!
Die deelnemers sal die meeste van die hout en toerusting rondom hul huise vind waarna dit net daar in die regte groottes gesaag of gesny moet word. Hul volgende stap is om hierdie boumateriaal dan met ’n twee-minuut lange stap oor modderige terrein na die drywende werkswinkel te neem.
Dis by hierdie drywende werkstasies waar die vlotte aanmekaar gesit moet word. Maar wag ’n bietjie. Hoekom is die twee werkstasies bloot net ’n klipgooi van mekaar af? En alhoewel die twee werkstasies nie per voet bereik kan word nie, is daar mos ander maniere van vervoer…
Tiaan se slim plan om die plastiekdromme by die werkstasie te kry, werk goed. Net tot waar die Suidhuis se mense sien hoe hulle dit doen, en natuurlik iets soortgelyk prakseer.

Terwyl die vervoer van die plastiekdromme waterlangs sin maak, begin die Suidhuis se mense koppe stamp rondom die vervoer van die hout. Kano, roeiboot of dra? Dis ’n tameletjie. Boonop begin een van die spanlede se manier om alles deurentyd te bevraagteken sommige van die spanlede se nerwe dun skaaf.
Op die werf
Wilhrisca is goed met sisteme en terwyl sy op die Noordhuis se werf moes agterbly, maak sy netjies en tel so ook die kosvoorraad en skryf dit neer op die swartbord. Nou kan elkeen weet hoeveel kos daar beskikbaar is. “Ons het ’n naguiltljie in die huis wat lekker eet,” vertel sy. Maar wie is dit?
By die Suidhuis wag daar ’n vreemde verrassing op die span wat die hele dag lank geswoeg en sweet het: ’n Grondboontjie-platter wat Hannes aan hulle voorsit. Lepels en lepels met grondboontjiebotter daarop.
Nuwe planne word beraam
Dit swoeg en sweet en die houtpale is lank en swáár. Dis Rechaux wat besluit hierdie gesukkel moet anders getakel word. ’n Water-taxi is haar antwoord – en dit lyk of dit werk! Sy is egter onseker of haar spanmaats gaan besef dat dit haar plan was wat gewerk het.
By die Suidhuis is die vervoer van die pale na die werkswinkel nog nie uitsorteer nie. Maar hul eerste vlot is in die water! En nou gaan hulle die “buggy” bou. Dis hul vlot wat ingespan gaan word om die ander pale op die water na die werkswinkel te bring. Die enigste ding waar dit vlot gaan, is . . . wel, met die vlot. Frustrasies en irritasies is net so deel van die bouproses as daardie pale en plastiekdromme.
’n Emosionele brug onder konstruksie
Een van Noordhuis se spanlede het kort voor Die brug ’n hartverskeurende ervaring gehad. Geluk was vir ’n lang ruk nie deel van haar lewe nie. Sy erken sy’s bang sy gaan haarself siek maak as sy te lank met haar eie gedagtes sukkel. “Ek is alleen.”

Gaan Die brug haar dalk die geleentheid bied om weer in haarself te kan glo en groter dinge in die toekoms te bereik en haar vlerke net “te kan losgaan”?
’n Nota langs die pad
As deel van Wilhrisca se taak vir die dag, moes sy die emmer met die gryswater gaan uitgooi. Dis juis tydens hierdie wandeling dat sy ’n kissie met ’n nota gewaar, ’n nota wat haar uitnooi om dit te lees. Sy’s nie die enigste een nie, want ook Hannes moet die pad stap met sy span se gryswater. Hy kry dieselfde boodskap.

Hulle word altwee voor ’n yslike keuse gestel.
Hannes kies koffie en los die R10 000 wat aan hulle aangebied is, agter. Wilhrisca skroom egter nie om die geld te vat nie.

Wilhrisca is baie bewus dat sy op die agtervoet is – boonop het nog niemand genoem dat hulle van koffie hou nie. Sy maak mos lekker tee!
Volgende week
Daar’s weer fakkels wat die lug inseil. Maar die keer is daar nie ’n pos-kan op die vlotte nie. By elkeen van die twee huise is daar sowaar ’n mens op daai vlot! Gaan dit weer beteken iemand nuut in die span en een van die bestaande spelers moet huiswaarts keer?
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.