Menu terloops
In Wat om te kyk [17 Okt 2024]

‘Boer soek ’n vrou’: Marciel se opvolger is… 


Marciel Hopkins was die afgelope vier jaar die Kupido op ‘Boer soek ’n vrou’. Nou is dit die aktrise Reandi Grey se beurt om die boodskap van liefde en hoop vir potensiële lewensmaats te help versprei.

‘Boer soek ’n vrou’: Marciel se opvolger is… 

Die gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se 17de seisoen skop nie net af met ’n nuwe oes boere nie, maar ook met ’n splinternuwe aanbieder. 

Marciel Hopkins was die afgelope vier jaar die Kupido wat derduisende kilometers gereis het om boere hul lewensmaats te help vind. Nou is dit die aktrise Reandi Grey se beurt.

kykNET het die nuus op Donderdag 17 Oktober, ná die finale episode van die afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou, op die kanaal se joernaalprogram Bravo! aangekondig 

Boer soek 'n vrou, Reandi Grey
Boer soek ’n vrou se nuwe aanbieder is Reandi Grey. Foto: Willem Botha

Op haar emmerskoplysie

“Vir jare en jare – dit was soos my industry bucket list – was dít wat ek wou doen,” het Reandi in ’n onderhoud aan Marciel verklap. 

Marciel, wat ook al ’n geruime tyd mede-aanbieder van Bravo! is, sê sy het soveel vrede en rustigheid in haar hart met die wete dat Reandi die leisels by haar oorneem.

Reandi is nie ’n onbekende vir TV-kykers nie. Sy vertolk immers die rol van Anja in Diepe Waters sedert 2022. Daar was ook verskynings in Legacy en 7de Laan. En deesdae maak sy ook naam met haar klerereeks, Sonder Reëls.

Ja, erken Reandi, sy wou in ’n stadium, toe sy jonger was, ingeskryf het vír ’n boer op Boer soek ’n vrou, want haar grootwordjare op haar oupa se plaas was haar alles. 

Soggens was dit sy en die windbuks wat koers gekies het om die vinke uit te dun wat haar oupa se bome uitgeroei het. En dan was daar eiers uithaal en varke kosgee. Toe sy ouer word, wou sy met alle geweld net pláás toe.

Maar haar eie liefdespad het ’n stokkie daarvoor gesteek, want haar man, Dewald, was toe nie ’n boer nie. Toe begin die droom van aanbieder vir Boer soek ’n vrou.

Boer soek 'n vrou, Reandi Grey
Reandi saam met Marciel. Foto: Verskaf

‘Beste nuus ooit’

Dit het nie in haar skoot geval nie, inteendeel. Dit het smeek en pleit en planne vyfuur die middag in ’n parkie gekos om haar oudisievideo by die reeks se vervaardigers te kry. Toe sy twee weke later Kaap toe gevlieg word vir ’n opvolg-oudisie, het sy gedink sy was suksesvol. Tot sy besef daar’s tientalle ander wat vir dieselfde pos oorweeg word.

Maar toe kom daardie oproep twee weke later met die beste nuus ooit. Die les wat sy hieruit geleer het, is om voluit te gaan vir dit wat jy wil hê. 

Sy is die sewende aanbieder van hierdie gewilde reeks. Haar voorlopers is Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk en dan natuurlik Marciel.

Reandi is die ma van twee dogtertjies. Sy sê dit was een van die faktore wat haar aanvanklik benoud gemaak het, maar sy glo dat sy dit kan hanteer.

En Diepe Waters? Sy wil nie te veel verklap nie, maar sê dis nie die einde van die pad vir Anja nie.

Hoe voel Reandi oor die liefde?

“Jy moenie verwagtings hê nie, want daar was soveel verskillende mense, verskillende ouderdomme, seisoene in jou lewe. Dit gaan daaroor om jouself oop te maak, want dan kan jy verras word en kan wonderwerke gebeur.”

Sy het aan Marciel erken sy is ook nie ’n roetine-mens nie. Van die goed wat haar opgewonde maak oor haar Boer soek ’n vrou-pad, is die wete dat daar soveel goed gaan gebeur waarvoor sy glad nie beplan het nie.

“Kinderlik opgewonde,” het sy dit alles in ’n neutedop aan Marciel opgesom. 

En met ’n paar uitstekende mode- en reiswenke van die gesoute uittredende aanbieder, Marciel, is Reandi nou meer as gereed om die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou met ’n vars briesie tot binne in jou voorkamer te bring.


Die toptienboere vir die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou sal op 29 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies