Menu terloops
In Wat om te kyk [30 Aug 2022]

Als wat jy moet weet oor ‘Steinheist’, Showmax-dokkiereeks oor verrotlike bedrogspul


Leuens, boeke wat nie klop nie en beleggers wat miljarde kwyt is: In die eerste lokprent vir ‘Steinheist’, Showmax se nuwe dokumentêre reeks oor die Steinhoff-skandaal, kry ons ’n blik op hoe dié grootse korporatiewe bedrogspul ontvou het.

Deur Watkykjy

Kyk vanaf 22 September

Als wat jy moet weet oor ‘Steinheist’, Showmax-dokkiereeks oor verrotlike bedrogspul
Kyk lokprent

Tot en met ongeveer twee weke voor Kersfees in 2017, het die meerderheid Suid-Afrikanders nie ’n cooking clue gehad wie Marcus Jooste of Steinhoff is nie. Beleggers wat aandele in Steinhoff gehad het, het dalk ook nie geweet wie Jooste is nie, maar hulle het beslis baie vinnig besef dat Kersvader nie daardie jaar aan hul deur sou klop nie. Op 6 Desember 2017, het Markus Jooste skielik as uitvoerende hoof bedank te midde van ’n ondersoek na “rekeningkundige onreëlmatighede” en Steinhoff se aandeleprys het binne ’n week met 90% soos ’n klip geval. Gevolglik is meer as R200 miljard van die JSE se tafel gevee. Ons praat hier van gewone Suid-Afrikaners en pensioenarisse, beroof van hulle lewensbesparings. Uitgewis. Weg. Suid-Afrika se eie Enron.

Dís die premis van Showmax se nuwe dokkiereeks, Steinheist. Die vollengte lokprent is pas uitgereik.

’n Bietjie konteks

Die witboordjiebende en die boontjietellers moet my asseblief nie kruisig vir my lomp begrip van die opwindende finansiële wêreld waarin julle woekerwerkers julself bevind nie, maar ons nederige sterflinge verstaan die aandelemark min of meer as volg:  Die JSE (Johannesburgse aandelebeurs) se doel is om maatskappye en beleggers bymekaar te bring. In die proses help dit nou weer maatskappye om tjieng in te samel deur aandele uit te reik om aan beleggers te verkoop. Die maatskappye ploeg dan al daardie fondse terug in hul besigheid.  Beleggers verdien dan, ideaal gesproke (as die maatskappy finansieël goed doen), ’n lekker wins uit hul belegging. Aandelepryse word bepaal deur vraag en aanbod soos kopers en verkopers bestellings op die aandelemark plaas. Die vraag en aanbod word weer deur ’n magdom ander faktore bepaal.

Dis ’n berekende ‘koop laag en verkoop hoog’-speletjie. Die redelike persoon koop oor die algemeen nie ’n vrot appel nie. Ongelukkig kan jou hele appelkarretjie oornag verrot as daar vuilspel is. Iemand kan die wiele sommer ook afsteel. Of sommer net die hele karretjie agter sy bakkie haak en daarmee vamos in die donker.

Enter Marcus Jooste… met sy bakkie… 

Wat jy oor Steinhoff – en Steinheist – moet weet

Voor die Steinhoff-gemors, is hierdie meubelreus as “die Ikea van Afrika” beskou. Om Steinhoff se omvang voor die amper algehele ineenstorting effens beter te verstaan, neem die volgende in ag: Teen 2016, het Steinhoff kleinhandelaktiwiteite in 30 lande gehad, met ses 500 kleinhandelafsetpunte wat aan 40 verskillende handelsmerke behoort, en hulle het ongeveer 90 000 werknemers in diens geneem. Nagenoeg 60% van die maatskappy se inkomste, en twee derdes van hul winste, was uit Europa afkomstig. Bekende Suid-Afrikaanse handelsmerke sluit onder meer Ackermans, HiFi Corp, Incredible Connection, John Craig, Pep, Russels en Shoe City in.

Om die hele bedrogpsul en die omvattende nagvolge daarvan egter nog beter te kan begryp, gaan jy die splinternuwe drie-delige dokumentêre reeks, Steinheist, moet kyk. Dit dek die grootste korporatiewe bedrogspul ooit in Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die reeks is deur Idea Candy vervaardig. Dis dieselfde span wat vir die supergewilde Devilsdorp verantwoordelik was. Steinheist vertel die storie van Markus Jooste en ’n R100 miljard-leuen wat almal gefop het. Dié leuen is oor die loop van twee dekades opgebou. Hoe het dit gebeur? Hoe de hel het niemand dit sien kom nie? En hoe de moer is Marcus Jooste nog steeds nie in die tronk nie?! 

Rykste van die rykes

In die dokkie maak ons kennis met die rykste van die rykstes. Onder dié tel mense soos Christo Wiese, voormalige Steinhoff-voorsitter (wat steeds ’n miljardêr is, ondanks die feit dat hy die grootste deel van sy rykdom in die Steinhoff-saga verloor het), Bruno Steinhoff, stigter van Steinhoff International, Louis du Preez, die huidige Steinhoff-hoof wat ’n dryfkrag agter die maatskappy se merkwaardige herstel is, asook Coronation-medestigter, Thys du Toit.

Die aangrypende dokumentêr sluit ook eksklusiewe onderhoude in met Rob Rose, skrywer van die gelyknamige boek waarop Steinheist gegrond is, Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia, BizNews se redakteur, Alec Hogg, Moneyweb se besturende redakteur, Ryk van Niekerk, en die bekroonde sakejoernalis, Fifi Peters. Dit is die verhaal van ’n smooth operator wat aan ’n überluukse leefstyl, geld en roem verslaaf geraak het. En toe raak hy die pad byster. Só het hy as’t ware die gewone man op straat… wel, op straat gesit. 

Waar en wanneer om te kyk

Steinheist sal vanaf 22 September 2022 op Showmax wys, met nuwe episodes elke Donderdag tot en met 6 Oktober 2022. Maak gereed vir ’n wilde, wilde rit!

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies