Troukoors draai om Jessica, ’n troue-koördineerder wat die wêreld mooi maak vir ander, maar sukkel om liefde vir haarself te vind. Dié rol word deur die borrelende Ilse-Lee van Niekerk, bekend vir haar rolle in Getroud met Rugby, 4 Mure en Die Boekklub, vertolk.
Ilse-Lee vertel meer oor haar rol as Jessica, asook hoe dié reeks, uit die storie-skatkis van Louis Pretorius en Albert Snyman, moderne verhoudings weerspieël.
Wie is Jessica?
Jessica is ’n positiewe, sterk vrou, optimisties, sag en sy gee om. Daai ding van sy wil dinge fix en die wêreld vir ander mense mooi maak. Sy’s’n warrelwind. Elke verhouding leer vir haar iets anders, en vervul haar ook op verskillende maniere. Ek kan duidelik sien hoekom sy uit ’n verhouding beweeg…daar is iets wat missing is in die verhouding. Iets wat dan by iemand anders kry. Maar ek dink tog, dis amper asof sy meer vertroue in haarself deur die loop van die reeks kry.
Ilse-Lee vs Jessica
Ek dink van al die karakters wat ek al gespeel het, is sy die meeste soos ek. Ek wil sê ek is ook so optimisties! Jessica is ek, net met baie meer energie op sekere vlakke, maar ek is definitief nie so georganiseerd soos sy nie en trek definitief nie so mooi aan nie. Jinne, sy trek baie mooi aan en spandeer baie tyd op haar hare en grimering wat ek nie definitief nie doen nie!
Ek dink ek kan myself vereenselwig met daai idee van dat sy wil net mense gelukkig maak. Dit maak haar gelukkig om ander mense gelukkig te maak en ek het op daai hart, daai kern van die karakter, gefokus.
Dis amper die meer subtiele kwessies wat jou vang, soos ‘met wie moet jy wees?’ ‘Wie is goed vir jou? Wat is sleg vir jou?’ ‘Hoe bly jy getrou aan jouself en hoe figure jy dit uit?’ Dit voel vir my baie eg en baie naby aan die normale gang van die lewe.
Ilse-Lee van Niekerk
Oor die rol
Ek het dadelik die rol aanvaar want dit is ’n lekker projek. Maar wat my opgewonde oor die karakter en die storie gemaak het, is dat daar drie sterk vroue-karakters is. Dis ongelooflik en verskriklik opwindend. En dat dit drie jong, dinamiese en modern vroue is! Dis ook vir my lekker vir my om so ’n ligte en borrelende karakter te speel. Teenoor die ander karakters wat ek al gespeel het, voel Jessica vir my soos ietsie anders. Dis ’n lekker, romantiese storie en dis die pret van die storie, die projek en die karakter wat my opgewonde gemaak het.
Oor TV en die lewe
Toe ek dit (die teks) gelees het, het die familietonele waar almal – die twee pa’s en die sussies en almal – dit het vir my só ‘n warm gevoel gegee. Daar is baie van die issues wat vir my real voel, die oppe en affe waardeur hulle gaan en die persoonlikhede wat (dikwels) bots. Dis amper die meer subtiele kwessies, nie die aardskuddende kwessies nie, wat jou vang, soos ‘met wie moet jy wees?’ ‘Wie is goed vir jou? Wat is sleg vir jou?’ ‘Hoe bly jy getrou aan jouself en hoe figure jy dit uit?’ Dit voel vir my baie eg en baie naby aan die normale gang van die lewe.
Die oorkoepelende idee van die reeks is ‘love is love’.
Ilse-Lee van Niekerk
Uitbeelding van moderne verhoudings op TV
Die oorkoepelende idee (van die reeks) is love is love. Veral as ’n mens kyk na seksualiteit. Ek is mal oor die feit dat, veral met die twee pa’s en met Abi, is daar bloot aanvaar dat hul seksualiteit die norm is. Dis nie ’n issue of ’n ding nie en dis hoe dit hoort. Dis normaal. Dit is vir my baie lekker dat dit gaan oor watter liefde die beste vir jou is, en hoe jy die beste vir iemand anders kan wees en liefde wys, eerder as wat dit gaan oor vir wie jy lief is. Daar is ’n egtheid.
Daar is, snaaks genoeg, ook nie ’n beheptheid met trou in die reeks nie. Jessica wil baie graag trou, maar dit is nie die be all and end all vir haar nie. Daar word nooit die idee geplaas dat jy móét nou trou want jy’s op die ‘trou-ouderdom nie’. Dís iets wat ’n mens baie kry. En al is ’n groot deel van haar wêreld net oor troues, sê sy self nooit ‘o, jinne, dit raak nou bietjie laat’ of so iets nie en dit is vir my wonderlik. It’s not a nice–to-have. Die redes vir trou moet die regte redes vir jou wees en dit moet definitief nie iets wees soos ’n uiterlike druk nie.
Oor werk met regisseur, Nina Swart
Dis vir my baie interessant om te sien hoe sy met verskillende mense werk en hoe sy ons elkeen spesifiek benader. Sy hou mense fyn dop en sy het ’n baie interessante insig in die mensdom en dit is wonderlik want sy kan met enige persoon connect. Sy is wonderlik ondersteunend en sy gee verskriklik baie om en sy check altyd in. Daar’s altyd ’n lekker prettige gees op stel. En sy het aan die begin gesê: ‘Work at home, play at work.’
Oor werk met ’n intimiteitskoördineerder
Dit was wonderlik. Ek het in Engeland studeer vir twee jaar en daar ’n werksessie gedoen. Dit maak jou oop, want dit vat net enige onsekerheid weg en dit word ’n safe space. As ’n akteur gee dit ook meer geleenthede, want as jy weet wat ’n ‘ja’ en wat ’n ‘nee’ is, dan skielik is dáái ‘ja’ ’n hele nuwe wêreld van wat jy kan gebruik en hoe jy die toneel kan inkleur. Want dan kan jy rerig vat as jy mag vat.
Dit vertel net die storie soveel beter want jy voel meer selfversekerd en meer bemagtig. Die werksessie wat ons gedoen het, het ook vir ons ’n gemeenskaplike taal gegee waarmee ons op stel kon werk. Daai ‘nee’s’ is ook bevrydend en bemagtigend, want as jy sterk is met jou nee’s kan jy voluit jou ja’s uitvoer – nie net in terme van om aan gevat te word nie, maar ook om te vat, want dan is die onsekerheid en ongemaklikheid uit die weg geruim.
Jy moet kyk want…
Dit is ’n uplifting reeks, iets lekker in hierdie moeilike tye. Dis ’n mooi storie en bemoedigend. Dis ook baie snaaks en die karakters is goed geskryf.