’n Wêreld waar deelnemers fisieke konstruksie én emosionele dekonstruksie moet navigeer – stukkie vir stukkie, waarheid vir waarheid. Dís die agtergrond van die tweede seisoen van Die brug, kykNET se introspektiewe realiteitskompetisie waar spanwerk getoets word en deelnemers innerlike demone in die oë moet kyk.

Met hierdie nuwe seisoen waarin twee spanne deelneem – elk in hul eie houthuis – het die druk verdubbel. En só ook die storievertelling. Terwyl deelnemers die uitdagende taak aanpak om ’n brug na ’n skatryke eiland te bou, vorm daar stil-stil ’n ander onsigbare brug: een wat reguit na die siel lei. En agter elke balk en handverouderde brief lê die noukeurige visie van Reg Hart, die program se produksieontwerper, en sy klein, maar kragtige span in die kunsdepartement.
Die huise wat heelmaak
Vir Hart en sy span was die stelontwerp nooit net oor estetika nie – dit was oor simboliek. “Ons wou ’n wêreld skep wat sy eie storie vertel en die spelers inspireer om hul stories te vertel,” verduidelik Hart. “Die verouderde huise waarin hulle aankom, moet herbou word, en terwyl hulle dit doen, begin die spelers hulself ook herbou.”

’n Blik op hoe dinge agter die skerms gelyk het op die stel en hoe die stelinkleding gebeur het. Foto’s: Verskaf
Drie weke voor die verfilming begin het, het Hart saam met Naret Loots en Danii Strydom, wat vir stelinkleding verantwoordelik is, op die stel aangekom. Hulle het elke sigbare plank hout begin verouder. “Ons het met teksture ingekleur, props geplaas en elke huis hul identiteit gegee,” sê hy. “Eers 30 minute voor die spelers die spel betree het, het ons dit stowwerig en deurmekaar gemaak. Ons wou hê dit moes voel asof die verlate houthuis vroeër aan iemand anders behoort het – iemand nie ver van hulle af of anders as hulle nie, met hul eie redes om daar te wees.”

Twee hutte, twee geeste
Seisoen twee het twee kontrasterende houthuise: die Noordhuis, ’n vissershut gevorm deur water, en die Suidhuis, ’n voëlkykersparadys beïnvloed deur lug. “Ons wou hê die houthuise moes die persoonlikheid van elke span weerspieël,” verduidelik Hart. “Hulle is geanker in die natuur, maar die een haal asem met water en die ander sweef met lug.”
Hy beklemtoon dat hierdie nie net skuilings is nie – hulle is ook karakters.


Visueel is seisoen twee donkerder as seisoen een. As seisoen een lig en vol hoop was, is seisoen twee swaarder met die gewig van afwagting en die onbekende. “Spelers het gekom met verwagtinge, maar hierdie seisoen was strategies moeiliker – alles wat mense verwag het, moes omskep word in iets onverwags,” sê Hart. “Ons het die bruin van die aarde, die groen van bome, die grys van mos en die donker misterie van die damwater gebruik om ’n moeiliker toon op die skerm te skep.”
Wat dit verg agter die skerms
Om hierdie omvattende wêreld te skep, verg maande se werk en ’n fyn balans tussen kreatiwiteit en logistiek. Die raamwerk van die houthuise is gebou deur Wessel Kruger se stelbou-produksiespan, terwyl Hart en kreatiewe regisseur Freddy Louw op die emosionele boog van die ruimtes gefokus het. Naret het kunswerk met die hand geteken vir die huise, en Danii het tekstiele verouder en briewe ontwerp wat met stringe verseël is vir die poskan.
Visueel is seisoen twee donkerder as seisoen een. As seisoen een lig en vol hoop was, is seisoen twee swaarder met die gewig van afwagting en die onbekende. ‘Spelers het gekom met verwagtinge, maar hierdie seisoen was strategies moeiliker – alles wat mense verwag het, moes omskep word in iets onverwags.’
Reg Hart, Die brug-produksieontwerper
Elke voorwerp op die skerm – van waterbekers tot slotte – was doelbewus daar geplaas deur die kunsspan. “Daar was niks daar voor Die brug ingetrek het nie; ’n hele wêreld is geskep,” sê Hart. “Ons het selfs 250 liter asyn bestel om die hout te verouder. Dis ’n geheim.”
Alles is oor die water vervoer op klein elektriese bote, synde daar geen pad na die stel is nie. Dit sluit onder meer 2 500 houtplanke, 14 km tou, 2 200 dromme, twee hamers, sae en beitels per huis, ses handgesnyde leerrolle, en ses handgetekende kaarte in.
“Die grootste uitdaging hierdie seisoen was dat ons nie per motor of te voet toegang tot die stel gehad het nie, ons moes daagliks met bote in- en uitry, soms meer as vyf keer per dag,” onthou Hart.
Selfs dít het deel van die storie geword: die beplanning van elke volgende stap, sonder om te weet watter uitdaging die natuur volgende gaan bring.
Meer oor ‘Die brug’
Verrassende rolle en helde
Terwyl meeste kykers vasgenael is aan die drama op die skerm, besef min die ingewikkelde ekosisteem agter die skerms. “Ons het ’n boumateriaal-koördineerder gehad, Wesley Swart, wat elke plank getel en tou gemeet het om regverdigheid te verseker,” onthul Hart. “Die George-brandweer was daar vir elke seinvuur wat afgevuur is – Santa Sternsdorf (stasiebevelvoerder van die George-brandweer) was ’n absolute held.”
Hoewel van die items uit die eerste seisoen hergebruik is, is die meeste spesiaal vir hierdie seisoen geskep. “Ons wou groter gaan, maar ons moes dit dubbeld doen met minder,” sê Hart.
Van stel tot siel
Maar dis nie net die props of die houthuise wat die storie vertel nie. Dis hoe die spelers die ruimte gebruik. “Ons het dit geniet om te sien hoe elke huis anders geleef het. Ons wil hê kykers moet oplet: watter huis was die netjiesste, watter span het die ruimte met persoonlike touches hul eie gemaak, wie se kombuis was die deurmekaarste, en hoe het hulle eintlik hul eetgerei gebruik? Waar het spelers hul skoene neergesit? Het hulle hul beddens opgemaak? En hoe verskillend het hulle hul brûe gebou?” sê Hart.
Al hierdie dinge vertel ’n storie van transformasie. Deelnemers arriveer in gebroke huise, omring deur skaduwees en stilte. Maar soos hulle vee, bou en saam eet, begin daardie ruimtes weer gloei. “Dis pragtig om te sien,” deel Hart. “Daardie oomblik wanneer die huise nie meer aan ons behoort nie, maar aan hulle behoort.”
Wat wil kykers hê?
In seisoen een was daar dalk nie veel versamelstukke nie, maar seisoen twee is ryk daaraan, meen Hart. Kykers het reeds die handgetekende kaarte en leerrolle raakgesien. “Ons wil graag weet watter items kykers as versamelstukke beskou,” sê Hart. “Kom ons kyk wat ons kan doen…”
Want in ’n program soos Die brug, beteken alles iets. Selfs die grond onder ’n deelnemer se naels vertel ’n storie. Selfs ’n lepel, wat saggies neergesit word op ’n handgesnyde rak… Die brug wat hulle bou, is nie net oor water nie, dit is terug na hulself.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.