Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Wyfie volg vier uiteenlopende koshuiskamermaats, gespeel deur Beáta Bena Green, Celeste Loots, Kristen Raath en Mienke Ehlers, en speel af by die Pantera-koshuis van die denkbeeldige Eike-universiteit.
In haar resensie vir Terloops oor die reeks, het Riëtte van der Wat onder meer geskryf dat dit “beloof om grense vir Afrikaanse televisie te verskuif”.
“Wat veral verfrissend is van Wyfie, is dat dit ʼn vrou-gedrewe storie is. Hier is nie ʼn sexy/ slim/sportiewe man om alles in ʼn kits beter te maak nie. Inteendeel, die mans wat in Die Grot (soos hulle hul koshuiskamer noem) toegelaat word, is daar omdat ʼn vrou vir hulle gesê het om daar te wees. Die feit dat die ‘ma-en-dogter’-verhoudings op die voorgrond is, eerder as die studente se verhoudings met hul pa’s, dra ook by tot daai dinamika.
“Die skrywers gaan sensitief te werk met die kompleksiteit van die eerstejaars se veranderende verhouding met hul ouers – aan die een kant maak jy jouself as student los van jou ouers; aan die ander kant is jy steeds van hulle afhanklik. Dít is ʼn belangrike skakel in daai hele soeke na jou eie identiteit en dit word subtiel, maar doeltreffend, in Wyfie bygeklits.”
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Dié opwindende Britse spioenreeks vir tieners is gegrond op die gelyknamige boeke deur die skrywer Anthony Horowitz. Dit draai om ’n doodgewone tiener, Alex Rider, wie se lewe handomkeer verander nadat hy uitvind dat sy oom toe nie in ’n motorongeluk dood is nie… Eerder dat hy vermoor is terwyl hy as Britse spioen gewerk het. As Alex dan gewerf word om self ’n spioen te word, vind hy ook uit dat hy eintlik al van kleins af opleiding vir dié gevaarlike lewe ontvang het.
Die Daily Telegraph beskryf die reeks as ’n “junior weergawe van die Bourne-franchise.”
Spooksoeker

Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde skrywer François Bloemhof se topverkoperboeke vir jong volwassenes, en volg die storie van Warno Alberts (Rico Immelman), wat met sy vyftiende verjaardag skielik van spoke in sy dorpie bewus raak… En dan besef dat hy die een is wat van hulle moet ontslae raak. Zarelda de Bruin is te sien in haar eerste TV-rol as die girl-next-door Melissa. Joshwin Dyson, wat met sy uithalerspel in Old Righteous Blues, beïndruk het, speel Warno se beste vriend, Allies.
Rico het in ’n onderhoud met Terloops vertel hy kon maklik met sy karakter vereenselwig. “Warno is iemand wat baie omgee vir die mense om hom. Hy is regtig bang om hulle seer te maak – emosioneel of fisiek. Deur die reeks wil baie mense Warno seermaak, maar hy wil net almal om hom beskerm. Maar die manier waarop hy dit probeer doen, plaas eintlik almal in meer gevaar. Dus, deur te doen wat hy dink reg is, en wat hy dink sy familie en vriende sal beskerm, maak hy soms die situasie erger,” vertel hy oor sy eerste TV-hoofrol.
“Ek sou sê ek is net soos Warno. Ek gee baie om vir die mense om my en ek probeer altyd die regte ding doen, maar soms slaan die lewe jou om en jy sukkel om weer op te staan. Maar ’n goeie waarde wat Warno het, is dat, maak nie saak hoeveel keer hy platgeslaan word nie, hy gee nie moed op nie.”
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Reënboogrant is ’n Afrikaanse coming-of-age-storie wat vanaf die gelyknamige boeke deur Louise van Niekerk in ’n TV-reeks verwerk is. Dié tienerreeks speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais (Mooiweer en Warm, Nuwejaar en Summertide) en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder.
Mila het in ’n onderhoud met Terloops vertel dat die rol van Sunette ’n droom bewaarheid is. Sy het gedeel hoe sy op skool in pousetyd haar na die biblioteek gehaas het om meer van die tienerdrama in die trefferboeke op te slurp. “Die boeke is so kosbaar vir my en dit vorm ’n baie spesiale deel van my kinderjare. Ek het my eerste Reënboogrant-boek in graad 6 gelees in my laerskool se bibilioteek en my ma moes toe dadelik nog koop. Ek was nie te gaande oor lees op daardie ouderdom nie, maar Reënboogrant was die reeks wat my liefde vir lees aangewakker het. Ek het tweede pouses in die biblioteek gaan sit en die Reënboogrant-boeke gelees wat ek en my ma nie by Bargain Books in die hande kon kry nie,” onthou Mila.
“Ek dink die rede hoekom ek van Sunette gehou het toe ek die boeke begin lees het, is omdat sy so baie soos ek is. Ek was ook ’n pliggie op skool; skoolgoed was ook vir my belangrik, soos akademie en buitemuurse kultuur-aktiwiteite. Ek neem wel nie alles so ernstig soos Sunette op nie. Ek is definitief nie ’n boksiemens nie; ek hou nie van roetine nie. Waar sy meer in haar eie wêreldtjie leef, floreer ek weer rondom mense. En ek is definitief nie ’n atleet is nie!”
Trompoppie

Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Trompoppie, met onder andere Melissa Myburgh, Frank Opperman en Marion Holm in die rolverdeling, is ’n wilde rit wat jou op die voorpunt van jou stoel hou.
Die storie draai om Luna (Myburgh), ’n talentvolle gimnas wat ’n beurs toegeken word aan ’n gesogte privaatskool wat sy andersins nooit sou kon bekostig nie. Maar só word sy ook in die genadelose wêreld van ’n elite groep trompoppies gegooi. Nadat ’n ontgroeningstradisie lelik skeefloop, sterf die een trompoppie ná die ander en die gemeenskap se oënskynlike perfekte fasade begin ineenstort.
“Trompoppie gaan oor die lewens van die verskillende trompoppies in ’n span wat probeer om die nasionale kompetisie te wen, asook alles wat daarmee gepaardgaan… die druk, die oefen, skool, mededinging om gewild te wees, tewerigheid tussen meisies,” het die aktrise Elzet Nel, wat die trompoppies se kaptein speel, in ’n onderhoud vertel. “Dis soos dit maar gaan as meisies met mekaar meeding, veral tussen die ouderdomme van 16 en 18. Dit is aaklig. Trompoppie wys dus ook hoe elke meisie die druk van al hierdie goed hanteer, en hoe ver hulle bereid is om te gaan om bo uit te kom. Julle is ’n span, maar jy (alleen) is eintlik die span – jy is jou eie span.”
The Baby-Sitters Club S1-2
Op Netflix beskikbaar om te stroom.
Hierdie reeks draai om vyf 12-jarige vriendinne wat ’n klein besigheid begin om kinders op te pas en ook mekaar deur die lewe se goeie en hartseer tye ondersteun. Dit het ’n diverse rolverdeling wat ras en kultuur betref.
Tarren-Lee Habelgaarn skryf oor dié reeks: “Ek was mal oor die feit dat dit aan onderwerpe soos transgender-mense, gemengde gesinne, skaamte, aktivisme, diabetes, swak doen op skool, rou en soveel ander belangrike onderwerpe raak. Vir diegene wat dikwels eerder van hierdie soort kwessies wil wegskram, kan hierdie reeks ’n goeie beginpunt vir oop gesprekke wees. Dit is ’n oulike program met baie humor, pret en liefde tussen die groep vriende, wat komplekse konsepte só uitbeeld om verteerbaar vir ’n jonger gehoor te wees.”
Fuller House S1-5
Op Netflix beskikbaar om te stroom.
Sowat 20 jaar ná die laaste episode van die ewigdurende gewilde Full House (wat vanaf 1987 tot 1995 uitgesaai het) het Netflix die groen lig gegee vir dié opvolgreeks. Dié keer is D.J. Tanner-Fuller, Danny (die ontslape akteur Bob Saget) se oudste dogter, die spil waarom die storie draai. As haar man, ’n brandbestryder, onverwags sterf, trek sy saam met haar drie kinders terug by haar pa in. In dáái selfde ikoniese huis van die oorspronklike reeks.
Buiten Mary-Kate en Ashley Olsen (wat destyds die rol van Michelle Tanner in Full House gedeel het), het meeste van die oorspronklike ensemble hul karakters in Fuller House laat herleef, hoewel sommige net in blitsige gasrolle.
Never Have I Ever S1-4
Op Netflix beskikbaar om te stroom.
Devi, die hoofkarakter, is ’n uitgesproke tiener wat haar plekkie in die wêreld probeer vind. Haar familie is van Indië, maar het Amerika toe getrek vir ’n beter lewe. Devi was nog altyd ’n bietjie anders en sukkel om ’n brug tussen die twee kulture vind, maar haar wêreld word heeltemal omgedol as haar pa sterf.
Tarren Lee Habelgaarn skryf oor dié reeks: “Devi maak ’n klomp foute in die reeks, maar wanneer sy byvoorbeeld met twee seuns gelyktydig begin uitgaan, het my sussie se dogter heel kwaad en onskuldig gevra, ‘Hoekom doen sy dit? Sy is so dom.’ Dit het vir my laat besef hoe belangrik dit is dat ons nie altyd vir kinders beskerm van dinge wat regtig in die lewe gebeur nie. Dit is belangrik dat hulle dit sien en kan vrae vra in ’n veilige omgewing – en ook hul eie opinies vorm oor wat afspeel.
“Devi het ook ’n terapeut – dié is soms baie snaaks, baie reguit en coddle beslis nie vir Devi nie. Die teenwoordigheid van ’n sielkundige in die storie help ook om die idee van terapie te normaliseer as iets waaroor jy nie skaam hoef te wees, of bang voor te wees nie… Dit is ook lekker, vir ’n verandering, om te sien dat die oorgewig seun ’n meisie kry en dat die rykste kind ook die eensaamste is. Dit breek die gewone stereotipes en wys vir kinders dat almal dieselfde dinge kan ervaar. Maak nie saak of jy ryk, arm, oorgewig of slank is nie.”
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Die reeks vertel, soos Marita van der Vyver se boek Die Dinge van ’n Kind, van Mart Vermaak se gedaantewisseling van kind tot vrou. In die roman het lesers vir Mart as tiener, sowel as ’n volwasse vrou in haar dertigs as ’n expat in Londen, leer ken. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.
Terwyl die boek in twee tydvakke afspeel – teen die politiese agtergrond van die ontstuimige 1970’s en die vroeë 1990’s – is daar vir die TV-weergawe ’n deel bygewerk wat in die hede afspeel. Daar is dus drie aktrises wat die rol van Mart deur die jare speel. In die rol van jong Mart is Melissa Myburgh. Cintaine Schutte is Mart in die 1990’s en Susanne Beyers speel die hedendaagse Mart.
Riëtte van der Wat skryf só in haar resensie van die reeks: “Bykans dertig jaar later is die storie van Die dinge van ʼn kind steeds presies dit – ʼn eerlike blik op ʼn komplekse tydvak in Suid-Afrika wat ʼn lewenslange impak op mense gelaat het.”
Lees ook
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →