Menu terloops
In Lysie-lysie [16 Mei 2022]

5 TV-reekse met besonderse plaaslike verfilming-bestemmings


Suid-Afrika het baie om te bied vir plaaslike en internasionale TV-reekse en flieks. Ons het vyf reekse gekies waar die verfilming-bestemming as’t ware ’n ekstra karakter in die storie geword het.

Deur Watkykjy
5 TV-reekse met besonderse plaaslike verfilming-bestemmings

As Suid-Afrikaners staar ons onsself dikwels op ’n ongesonde vlak blind teen die positiewe aspekte van ons land. As ’n mens na die groottes van ons stoet-slaggate kyk, die pas van – of totale gebrek aan – dienslewering sien, en die omvang van korrupsie en die lukrake kragvoorsiening in oënskou neem, is dit genoeg om jou in jou ingevoerde pap te laat huil.

As ’n mens verby al hierdie crap kyk (want ’n mens moet, bloot om kop te hou), stem almal wat so kla en kerm minstens oor een ding ooreen: Ons het darem maar vir jou blerrie mooi land. Almal beskik nie noodwendig altyd oor die nodige fondse om ’n road trip deur Mzansi aan te pak nie, maar gelukkig sorg reekse wat plaaslik vervaardig word vir heerlike verbeeldingsvlugte. Só kan ons die mooi dele van ons land verken. 

1

Die Byl (Kaapstad en omgewing)

Kaapstad laat ’n mens instinktief aan Tafelberg en die diep blou see dink. Maar looks is nie alles nie – it’s what’s on the inside that counts. Kyk, dit help beslis, maar die stad se karakter word veral gekenmerk deur sy opwindende naglewe, eet-en-drink-plekke, florerende kunste en dit feit dat die Moederstad trots multikultureel is. 

Die Byl is in Kaapstad en omliggende omgewing verfilm en is geïnspireer deur die werklike speurder, Piet Byleveld, wat na bewering ’n 99% suksessyfer oor sy 40 jaar lange loopbaan behaal het. Die naelbytreeks volg die lewe en werk van Piet van der Bijl, ’n briljante speurder wat in die opsporing van reeksmoordenaars spesialiseer. 

2

The Girl From St. Agnes (KwaZulu-Natal se Middellande)

Is jy een van die skuldiges wat reguit see toe jaag vir jou jaarlikse vakansie en al die juwele op pad na jou bestemming miskyk? Oorweeg volgende keer die verskeie klein dorpies in KwaZulu-Natal se Middellande. Die Midlands Meander is fantasties en bestaan uit verskeie toerismeroetes wat verblyf, arts and crafts, buitemuurse aktiwiteite en restaurante insluit. (Ek beveel die galonka aan by Little Poland. Moet net nie ja sê vir die Poolse wyn nie – dis net skoon vodka.)

Van Suid-Afrika se voorste privaatskole is ook in die Middellande geleë. Dít is juis wat die rillerreeks, The Girl from St. Agnes – so geloofwaardig laat voel. Die reeks is in KwaZulu-Natal se Middellande verfilm en draai om die moord van ’n skoolmeisie. Hoewel die skool haar dood as ’n tragiese ongeluk bestempel, is dit duidelik daar is meer aan dié dodelike storie…    

3

Nêrens, Noord-Kaap (uhmm.. die Noord-Kaap)

Die Noord-Kaap is een van daardie plekke waar dit voel asof daar niks is, of niks aangaan nie. Daar is egter eintlik so baie wat die streek bied. Jy besef eers hoe stilte ’n absolute luuksheid geword het as jou oë oor die Diamantvelde tuur. Só ook die Kalahari, Namakwaland, die Karoo. Of as jy na die sterre kyk. En wanneer die stilte wel verbreek word, is dit deur sout van die aarde mense.        

Nêrens, Noord-Kaap is ’n dramareeks gegrond op ’n toneelstuk deur Nico Scheepers. Dit volg die verhaal van drie vervreemde broers wat hul pad terug vind na die familieplaas, Nêrens. Dáár bedreig etlike geheime, hartseer en die waarheid rondom hul ma se dood nie net hul heling nie, maar ook hul mens-wees.

4

Spoorloos (Cradock, Oos-Kaap)

Elke seisoen in Spoorloos volg ’n nuwe storielyn met nuwe karakters. Die eerste seisoen speel af in die fiktiewe spookdorp, Digtersdal, in die Oos-Kaap, en is in Cradock verfilm. Dis gegrond op Vernon Baumans se fiktiewe werk oor ’n reeksmoordenaar getiteld Daddy Long Legs. Dit draai om ‘n reeksmoordenaar wat deur Amerika se berugte BTK Killer (Bind Torture Kill) Killer, Dennis Rader, geïnspireer is.     

Cradock kan beskou word as Suid-Afrika se skaapboerdery-mekka en is geleë in die Groot-Visriviervallei. Vanweë die streek se klimaat en genoegsame reënval, is dit uiters geskik vir landbou en lewer lusern, vrugte, suiwelprodukte, wol en sybokhaar op. Die klimaat maak dit ook die perfekte bestemming vir ’n wegbreek.

5

Raised by Wolves (Helderberg en Kogelbaai, Wes-Kaap)

Die TV-reeks Raised by Wolves speel af ná die vernietiging van die aarde en draai om twee androïede wat mensekinders op ’n geheimsinnige planeet moet grootmaak. 

Terwyl baie noemenswaardige reekse en films al in die Kaapstad-omgewing verfilm is, het Raised by Wolves tot dusver die grootste begroting gehad.

Die stel wat vir die reeks by Cape Town Film Studios gebou is, sluit onder meer reuse-agtergrondskerms en high tech-beligting in. Daar was egter baie buitelugtonele en dié is in die Helderberg-omgewing en Kogelbaai verfilm.

Helderberg is ’n vername wynstreek en sluit kusdorpies soos Somerset-Wes en Gordonsbaai in. Kogelbaai (soms Koeëlbaai genoem) is tussen Gordonsbaai en Rooi-Els geleë.

Die landskap, berge en plante is die perfekte plek om as die planeet Kepler 22-B in te staan.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies