Menu terloops
In Lysie-lysie [21 Jul 2023]

‘1923’, ‘Mission: Impossible 7’, en nog stories wat in SA geskiet is


Jip, daai is Tafelberg wat in ’n episode van ‘1923’ oor die karakters Spencer Dutton en Alexandra se skouers loer! ‘1923’ is deel van die boeiende ‘Yellowstone’-franchise, en, soos vele ander internasionale produksies, is dele daarvan ook in Suid-Afrika verfilm.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk nou '1923'

‘1923’, ‘Mission: Impossible 7’, en nog stories wat in SA geskiet is
Kyk lokprent

As jy nog nie die trefferreeks 1923 ge-binge het nie, is die tyd nou baie ryp daarvoor. Dit is deel van die boeiende Yellowstonefranchise en dit word wyd geloof vir die draaiboek, die akteurs en natuurlik die plekke waar dit verfilm is – waaronder ook in Suid-Afrika.

Dís hoekom die reeks jou op ’n goeie manier gaan pla – dit voel dalk effe soos déjà vu as jy van die tonele kyk. Maar net ’n bietjie anders ingekleur as wat jy onthou . . .

Suid-Afrika is een van die gewildste bestemmings vir flieks vanweë die land se natuurskoon, uitgestrekte vlaktes en betowerende plekke wat met die swaai van vaardige regisseur se towerkwas jou kan terugvoer tot diep in die verlede of selfs ’n toekomsblik bied.

Die Serengeti Nasionale Park in Tanzanië maak ook deel van die stel uit, maar dis op eie bodem waar vernuftige filmtruuks perfek gekombineer is met uitsonderlike plekke in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Verskeie tonele met die oorlogsveteraan en grootwildjagter Spencer Dutton (Brandon Sklenar) en sy verloofde, Alexandra (Julia Schlaepfer), is in Afrika verfilm. Die treinstasie in Nairobi, Kenia, gaan veral stoomtreinliefhebbers onmiddellik regop laat sit, want hoe de duiwel het die Inchanga Choo Choo van Suid-Afrika daar beland? Wel, danksy die Umgeni Stoomtrein-bewaringsorganisasie is Nairobi meer as 4 300 kom suid herskep en is daardie tonele inderdaad in KZN geskiet.

Met ’n paar veteraan-motorfietse en statige ou motors op die werf, gaan die manjifieke Kearsney Manor, noordoos van Durban, jou beslis laat glo het tydreise is moontlik. Want dit is presies hoe jy foto’s uit daardie era sal herken. In die reeks word dié pragtige herehuis herdoop na die Stanley Hotel. Kersney Manor is in die laat 1800’s gebou en is vandag ’n gewilde trou-venue.

Die bekoorlike hawe in Kalkbaai was die ideale plek om die Keniaanse hawe in Mombasa te herskep.

1923 in kort

1923 is ’n prequel-reeks deur Taylor Sheridan wat uitbou op Yellowstone, ’n aangrypende dramareeks oor die Dutton dinastie met Kevin Costner as die berekende John Dutton, Luke Grimes (Kayce Dutton), Kelly Reilly (Beth Dutton) en Wes Bentley as Jamie Dutton.

Tot en met die vierde aflewering in die reeks, bevind Spencer Dutton, die seun van James Dutton (Tim McGraw) en Margaret Dutton (Faith Hill) en Elsa (Isabel May) se broer, hom hoofsaaklik in Afrika, onbewus van al die drama wat op Yellowstone afspeel.

Eers toe sy nuwe verloofde, Alex, briewe van die huis aan hom begin voorlees, besef hy dat alles nie pluis is tuis nie. Gaan hy betyds terugkeer na Yellowstone om sy oom nog lewend te sien en wraak te neem vir sy broer se dood?

In 1923 het die volgende generasie Duttons vir Yellowstone oorgeneem. James se broer, Jacob (Harrison Ford) en dié se vrou, Cara (Helen Mirren), en James se oorlewende kinders bestuur dit nou saam. Ook Timothy Dalton (van James Bond-faam) verskyn in die reeks.

1923 volg op die gebeure van nog ’n prequel, 1883. Daarin vertolk Tim McGraw (James Dutton) en Faith Hill (Margaret Dutton) die hoofrolle.

1883 handel oor die familie se reis van die Weste na Montana om te begin wat weldra as die Yellowstone Ranch bekend sou staan.

Die WGA-skrywersstaking vanaf Junie vanjaar het die vervaardiging van 1923 se tweede seisoen vir ’n onbepaalde tyd vertraag.

Hier is nog produksies wat in Suid-Afrika geskiet is:

1

Avengers: Age of Ultron

Die Hulk (Mark Ruffalo) het alles in sy pad vernietig, ook Johannesburg se stadskern.

2

Black Panther

Wakanda, hier kom ons! Die Golden Gate Highlands Nasionale Park in die Vrystaat is grootliks gebruik vir buitetonele waaronder die lugskote en gevegstonele.

3

Blood Diamond

Leonardo DiCaprio het dalk gefaal as ’n Afrikaanssprekende wat Engels probeer praat, maar Blood Diamond is op verskeie plaaslike plekke geskiet. Daaronder tel die V&A Waterfront in Kaapstad en Port Edward in KwaZulu-Natal.

4

Invictus

Die fliek, met Matt Damon in die rol van die inspirerende Bok-kaptein, Francois Pienaar, is na afloop van die Bokke se Wêreldbeker-sege in 1995, in Kaapstad, Robbeneiland en Johannesburg geskiet.

5

Malcolm X

Die epiloog is by die Phakamani Gekombineerde Skool in Soweto geskiet waar Nelson Mandela ’n merkwaardige toespraak gelewer het. Die township Alexandra is ook in die fliek te sien.

6

Tomb Raider

Lara Croft (Alicia Vikander) se besoek aan die Chinese stad was bitter ver van die ware Jakob. Die Japannese eiland Yamatai bestaan glad nie. Groot dele van die fliek speel af in Houtbaai naby Kaapstad terwyl baie van die Wes-Kaapse landskap ook ingesluit is.

7

The Last House on the Left

Die gruwelfliek van 1972 is in 2009 oorgeskiet, met dieselfde regisseur in die stoel (Dennis Iliadis). Kaapstad is ingespan om daardie angswekkende atmosfeer van dié kultus-meesterstuk te skep.

8

The Kissing Booth

Alhoewel gedeeltes van die Netflix-fliek in Los Angeles verfilm is, is dit grootliks in Suid-Afrika geskiet, waaronder Kaapstad.

9

Mandela: Long Walk to Freedom

Justin Chadwick wou geskiedkundige plekke wys wat van belang was rondom die geskiedenis van Madiba. Dit het die Transkei-heuwels, sy sel op Robbeneiland en die Pretoria-hof waar hy verhoor is, ingesluit.

10

Resident Evil: The Final Chapter

Die sesde fliek in die reeks is gedeeltelik in Kaapstad, Hartbeespoortdam en Ponte-stad verfilm.

11

Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One

Die fliek, wat pas internasionaal vrygestel is, met Tom Cruise as die hardlopende, helikoptervlieënde, doodsveragtende held in die hoofrol, is gedeeltelik in die omgewing van Hoedspruit, Limpopo, verfilm.


Weeklikse episodes van 1923 om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101). Ook op Catch Up. Yellowstone is ook Catch Up beskikbaar.


Bykomende bronne: fantrippers.com, collider.com, atlasofwonders.com, looper.com, deadline.com

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies