Menu terloops
In Wat om te kyk [8 Feb 2023]

10 jaar van Silwerskermfees met kykNET-dokkie gevier


’n Boeiende nuwe dokkie om die tiende bestaansjaar van die Silwerskermfees te vier, vertel oor die merkwaardige invloed en geleenthede wat die ontstaan van die fees vir plaaslike storievertellers meegebring het.

10 jaar van Silwerskermfees met kykNET-dokkie gevier
Kyk lokprent

Dis bisar om te dink dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf net ’n dekade gelede in ’n doodloopstraat vasgekeer was. Daar was slegs ’n handjievol Afrikaanse rolprente wat dit tot die silwerdoek kon maak. En selfs daai filmmakers is so gepootjie dat daar nie juis hoop vir ’n nuwe generasie storievertellers was nie. Enter: kykNET se Silwerskermfees. Die fees wat áls sou verander.

Winde van verandering

Die storie van dié ommeswaai, die fees se ontstaan en hoe dit gegroei het, is in ’n spesiale dokumentêre program vervat. Agter die Silwerskerm – 10 Jaar is ter viering van die fees se tiende bestaansjaar in 2022 geskep. Dit plaas die kollig op die stroom kleurvolle, diverse rolprente wat nou jaarliks onder die Silwerskermfees-vaandel gemaak en deur die fees se kortfilmprojek gevoed word.  

Terwyl die fees se stigters, Karen Meiring en Jan du Plessis, oor die fees se ontstaan, beginjare, filosofie en groei, vertel, sluit die dokkie ook onderhoude met prominente rolspelers in. Van Suid-Afrika se grootste talente wat hul eerste treë in die bedryf as deel van die kortfilmprojek gegee, deel dan ook hul suksesstories.

Silwerskermfees
Beer Adriaanse, van Hotel en Mooiweer en warm, is een van die filmmakers wat deel van die dokkie uitmaak. Foto’s: Verskaf

Fees-alumni vertel

Onder dié Silwerskermfees se kortfilm-alumni tel die formidabele filmmaker Jaco Bouwer (Gaia) en Christiaan Olwagen (Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena), die baanbrekers Amy Jephta en Ephraim Gordon (Nommer 37 en Barakat), en die duo Corné en René van Rooyen (Vaselinetjie en Toorbos).

Vervaardigers, regisseurs, teksskrywers en redigeerders praat ook prontuit oor die pad wat hulle saam met die fees gestap het en hoe dit hul loopbane beïnvloed het. Allerlei staaltjies oor die fees, asook argiefmateriaal, kleur die res van die dokkie in. (Soos die storie oor hoekom Marius Weyers in trane ná Dis ek, Anna se première was. En die storie oor wat tydens Arnold Vosloo se eerste fees gebeur het…)

Die dokkie is deur Sentient Creative vervaardig met regie deur Haddad Viljoen.


Agter die Silwerskerm – 10 Jaar saai Sondag, 12 Februarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online uit.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies